Innibos

2025

Kom lag lekker saam by Toyota Innibos 2025

Kom lag lekker saam by Toyota Innibos 2025’n Fees vir jou lagspiere! By Toyota Innibos 2025 gaan dit oor een ding: LEKKER saam feesvier – en LEKKER saam lag! Die 21ste verjaarsdag van hierdie geliefde kultuurfees val saam met Afrikaans se eeufeesvieringe, en dis juis hoekom die program vanjaar propvol kwaliteit komedie is. Dis ’n tyd om te ontspan, die bolla los te maak en jou lagspiere behoorlik aan die werk te sit. En waar beter om dit te doen as in een van die vele teaters waar die land se beste akteurs en regisseurs jou kom vermaak? “Geagte Kampeerders” een van die feesdebute, is geskryf en aangebied deur Wynand van Vollenstee, met Thiart Li aan sy sy. ‘n Opsigter, eienaar en bestuurder van Willewaters Kampeerterrein verwelkom elke Desember die Transvalers met ope arms, tot ’n rampspoedige wending alles op hol jaag. Nóg ‘n debuut, “Kry vir jou ’n tux, Thomas”, bring groot name soos Dean-John Smith en Marion Holm na die verhoog. Tessa Slabbert weier om haar eksman se sogenaamde “toekenning” te aanvaar as ’n afskeidsgroet. Thomas moet haar oorreed om die funksie by te woon, wat lei tot ’n onwaarskynlike ooreenkoms vol emosie, lag en konfrontasie.  Vir diegene wat hou van gevestigde gunstelinge is daar ook klassieke komedies wat terugkeer na die planke, elk met ’n vars aanslag en geliefde akteurs. “Ouma is op pad” bring weer die immergewilde Dolla, vertolk deur Margit Meyer-Rödenbeck, terug op die verhoog. Hierdie stuk is ’n reis vol hart, wysheid en die soort wyshede wat net ’n ouma kan kwytraak. Dan is daar ook die immer gewilde “Moord met ’n T”, met drie legendes: Tobie Cronjé, Ignatius van Heerden en André Lotter, wat die verhoog aan die brand speel.  “Marion Monroe” is ’n eerlike en heerlike komedie waarin Marion Holm met humor en styl vra: wat maak jou, jy? En, “Vlerksleep” is ’n skreeusnaakse komedie oor die chaos en komedie van blinde afsprake, met ’n sterbelaaide rolverdeling en ’n vars kyk op liefdesvermaak, geskryf deur Peter Quilter, en in Afrikaans vertaal deur Frans Swart met Bertha le Roux-Wahl, David James, Elma Potgieter, Richard van der Westhuizen. Met hierdie ongelooflike keuse van produksies is dit duidelik: Toyota Innibos 2025 is ’n fees waar jy jouself kan verloor in stories, lag tot jou kake seer is, en weer met nuwe energie huis toe gaan. Kom sit terug, kom ontspan, en kom beleef wat Afrikaanse komedie alles kan wees. Jou sitplek wag – en jou lagspiere ook! Kaartjies beskikbaar by Ticketpro. Volledige program beskikbaar op www.innibos.co.za op Facebook, Instagram en TikTok.

Kom lag lekker saam by Toyota Innibos 2025 Read More »

Dana Snyman – Geliefde Storiesmous

Dana Snyman – Geliefde Storiesmous In die Republiek van Rondomskrik kraai veelbekroonde Dana Snyman koning as gesoute reisjoernalis, geliefde storiesmous en gerekende dramaturg.  Vra ’n mens vir Dana hoekom hy skryf, sal hy iets sê soos, ek hou van stories en stories hou van my ook; of, hierdie land verwond ons almal knaend op allerhande maniere, en iemand moet weet hoe dit was. Nie ter wille van nostalgie nie, maar ter wille van die opskrywe van sy mede-verskriktes se beleefde ervarings. Dana glo as jy die regte vraag vra, en dan lank genoeg stilbly, almal ’n storie het om te vertel. Vra jy sy gretige lesers hoekom hulle so graag lees wat Dana skryf, sê hulle: Sy sketse is die beste; ’n Skerper waarnemingsvermoë en beter storieverteller sal jy nie sommer kry nie; Hy lê met aangrypende eenvoud gewone mense se beleefde ervarings allerversigtig bloot; Met net ’n paar woorde skep hy ’n atmosfeer en jy voel jy is daar saam met hom; Sy stories laat ’n mens bietjie anders dink; Man, mens lees net so lekker aan ’n Dana Snyman – die waarheid gejas met die gevoel van prosa.   Sy eerste boek, ’n versameling rubrieke, Uit die binneland (2005) was ’n drie onder pale. Suid-Afrikaners uit alle geledere het die stories opgelek en sedertdien is elke boek deur Dana ’n topverkoper. Hy vang die tydgees vas met sy deernisvolle verhale van mense wat oor allerhande grense die hande na mekaar uitsteek.  Saam met hom kan ons reis na plekke soos Poffertjiesgat, Knoffelfontein en Dikboompies. Saam met hom kan ons huil oor dwalers langs ons land se paaie. Saam met hom kan ons lag vir ons eie tekortkominge. Saam met hom kan ons altyd weer ’n draai gaan maak by Hopetown, die hoofstad van Rondomskrik. Soos Pottie Potgieter en Ds Tienie Benade het Dana Snyman in ons harte vir hom ’n plekkie ingerig. Dankie, Dana, vir al jou stories, wat ons net so nodig het soos water. Dankie Dana! – Dana Snyman Vereringsgeleentheid Sa 5 Jul 16:00 Gesprekleier: Annemarie van der Walt ’n Boek is vir die siel soos wat ’n slypsteen vir ’n swaard is. Innibos vereer vanjaar geliefde skrywer, Dana Snyman. Hy noem homself ʼn storiesmous, maar is veel meer – hy skryf rubrieke, kortverhale, eenmanvertonings, romans en het selfs sy eie televisiereekse gehad. Dana Snyman is volksbesit en sy skryfwerk is toeganklik vir die breë publiek. ʼn Hele program met Wilhelm van der Walt, Stephanie Baartman, Lizanne Barnard en Eugené Wait is rondom sy skryfwerk opgestel en dit is waarmee Innibos wil sê: Dankie, Dana, vir al die genot wat jou skryfwerk die leser oor die jare verskaf het.

Dana Snyman – Geliefde Storiesmous Read More »

Afrikaans Vier 100 Jaar – ’n Eeufees van Taal, Kultuur en Hartklop by Toyota Innibos

Afrikaans Vier 100 Jaar – ’n Eeufees van Taal, Kultuur en Hartklop by Toyota Innibos Hier in die hart van die Laeveld, waar bos en berge mekaar in ’n groen omhelsing vashou, is die lug hierdie jaar gelaai met iets besonders. Dis nie net die geur van roosterkoeke wat Innibos hierdie jaar vul nie – dis ook die klank van trots. Afrikaans is 100 jaar oud, en Toyota Innibos, as een van die land se mees geliefde kunstefeeste, vier dit met oop arms en ’n warm hart. Afrikaans is nie net ’n taal nie – dis ’n lewe, ’n asem, ’n storieverteller wat deur generasies gefluister het. Dit is die taal van gesellige familietye, diep gesprekke onder die sterre, digkuns wat jou diepdenkend laat, en musiek wat die siel roer. En hierdie jaar vier ons nie net ’n eeu van bestaan nie – ons vier ’n eeu van groei, van kreatiwiteit, van kultuur wat onwrikbaar vashou aan sy wortels, maar steeds vlerke kry. Volgens Andy Lubbe, feesbestuurder van Toyota Innibos is die ’n taalviering soos nog nooit tevore nie. Van musiek en toneel, tot boeke en poësie, is Afrikaans nie net die medium van kommunikasie by Innibos nie, dit ís die fees self. Skrywers, digters, sangers, akteurs, en kunstenaars kom saam om hul liefde vir Afrikaans te deel – nie net in formele aanbiedings nie, maar in elke woord, lag en noot wat oor die teaters en feesterrein gaan weerklink. Afrikaans is ’n vriendelike en inklusiewe taal wat mense en kulture bymekaar bring deur gedeelde stories en begrip. Afrikaans is die jongste Germaanse taal in die wêreld, en tog is dit een van die rykste wanneer dit kom by uitdrukkings en kreatiewe idiome. Dis ook een van die min tale wat aktief in alle genres van kuns en kultuur beoefen en bevorder word – van kontemporêre musiek en film tot klassieke letterkunde en kinderverhale. En waar het mens ’n taal so kleurvol en ryk gekry wat gevoelens kan vasvang wat in geen ander taal uitgedruk kan word in een woord nie…LEKKER! Ook Toyota Innibos se tema die jaar. As deel van die Saterdagaandkonsert, waar van Suid-Afrika se grootste kunstenaars die verhoog betree, sal daar ’n spesiale insetsel wees – ’n eerbetoon aan Afrikaans, sy ontstaan, sy mense en sy toekoms. Dis ’n oomblik waar ons almal stil sal staan, nie net om te onthou nie, maar om te erken: hierdie taal leef, en dis ons wat dit lewendig hou. Soos Andy dit raak beskryf: Afrikaans is nie net woorde op papier nie, en ook nie net nog ’n taal nie. Dis ons hartklop.” Laat hierdie jaar se Innibos vir altyd onthou word as die een waar ons ons taal nie net gevier het nie – maar dit laat dans het. Kom, wees deel daarvan. Want Afrikaans lééf, dis in ons bloed!

Afrikaans Vier 100 Jaar – ’n Eeufees van Taal, Kultuur en Hartklop by Toyota Innibos Read More »

Toyota Innibos vereer Kurt Darren – ’n Legende van Afrikaanse Musiek

Toyota Innibos vereer Kurt Darren – ’n Legende van Afrikaanse Musiek Kurt Darren is ons eie Sokkiekoning en ’n trefferfabriek van Afrikaanse dansmusiek. Sy liedjies is op elke speellys waar daar partytjie gehou of gedans word. Daarby geniet sy treffer “Kaptein,” wat selfs op stadions buite die landsgrense gespeel word sodra ’n Springbok gewaar word, die status as ons nie-amptelike volkslied. Ná dertig roemryke jare in die vermaaklikheidsbedryf, seil hy steeds volstoom voort en het al in 15 verskillende lande anker gegooi. Hy skryf die meeste van sy liedjies self en treffers soos “Kaptein,” “Hemel op Tafelberg” en “Meisie Meisie” is al 35 keer deur sangers in Nederland, België en Duitsland vertaal en opgeneem.  For Your Precious Love, sy eerste album, verskyn in 1995. Sy groot deurbraak kom egter eers in 2002 toe die titelsnit van sy sesde album, Meisie, Meisie, die treffersparade haal. In 2008 tref “Kaptein” die lug en dit word ’n immergroen treffer wat ná 17 jaar steeds die voete laat jeuk.  Tans is daar ’n imposante 30 albums agter sy naam. Sy jongste wegholtreffer, “Hop, hop, spinnekop,” wat in November 2024 vrygestel is, spog met 65 miljoen kyke op TikTok en meer as 5.4 miljoen op YouTube. Sy musiek is al bykans 120 miljoen keer op verskeie digitale musiekplatforms gestroom en op YouTube is sy musiekvideo’s al meer as 240 miljoen keer gekyk. Vanaf 2006 tot 2011 bied hy die gewilde musiekprogram “JukeBox” op kykNET aan. Hy het selfs al sy lyf akteur gehou in films soos “Liefling” en “#LoveMySelfie.” Op sy kerfstok pryk vele toekennings, onder andere 9 SAMA’s, 12 dubbelplatinum en 21 goue verkope-toekennings, sowel as prestige toekennings van Tempo, Ghoema, Vonk en Geraas. Sy impak op die plaaslike musieklandskap is onmiskenbaar. Hy lewer ’n enorme bydrae tot die evolusie van moderne Afrikaanse musiek en bring dit ook na internasionale gehore. Innibos vereer Kurt Darren, die Kaptein van Lekkerness, vir sy lewenslange toewyding aan Afrikaanse musiek. Danksy hom gaan ons nog lank op tafels dans! 

Toyota Innibos vereer Kurt Darren – ’n Legende van Afrikaanse Musiek Read More »

Innibos word mondig – en jy’s uitgenooi na die lekker, lekkerder, lekkerste fees nog!

Innibos word mondig – en jy’s uitgenooi na die lekker, lekkerder, lekkerste fees nog! Dis amptelik: Toyota Innibos vier vanjaar sy 21ste bestaansjaar – en dié fees word groter, kleurvoller en lekkerder as ooit vantevore! Soos ’n jongmens wat mondig word, staan Toyota Innibos 2025 trots op sy eie voete met ’n storie van een-en-twintig jaar se kultuur, kuns, musiek en onvergeetlike herinneringe. En ja, daar is groot planne om dié mylpaal behoorlik te vier! Vandat ons die jaar ons deure oopgegooi het, het Toyota Innibos feesgangers bederf met talent van regoor Suid-Afrika, en dié jaar word die tradisie met ekstra flair voortgesit. Ons sê nie verniet: lekker, lekkerder, lekkerste, nie! Die Innibos-span is propvol verrassings vir sy feesgangers wat jy nie wil misloop nie. Geen Verhoging, ons geskenk aan JOU In ’n tyd waar alles duurder word, het Toyota Innibos besluit om kaartjiepryse dieselfde te hou as verlede jaar. Dis ons geskenk aan ons lojale feesgangers, ’n manier om te sê dankie vir elke voetstap, elke handeklap en elke lag oor die afgelope twee dekades en meer. Ons weet dis juis julle wat dié fees se hart laat klop, en dis vir ons ’n groot voorreg om dit op só ’n manier te kan teruggee. 21 Minute van afslag Volgens Alison Linde, stalletjiebestuurder van Toyota Innibos, lê sy klem op 21 Jaar, 21 Minute, en  21 Redes om vroeg daar te wees! As deel van die 21ste bestaansjaar-vieringe, gaan die geliefde Bosmôl – die bruisende hart van handwerk, kreatiwiteit en geurige kosstalletjies – elke dag om 11:00 én 16:00 vir presies 21 minute spesiale aanbiedings en verrassings hê. Elke liewe stalletjie, ja, ook die kosstalletjies, neem hieraan deel! Of dit afslag, gratis happies, kompetisies of unieke produkte is, of jy die 21ste persoon is wat die stalletjie besoek, of 21 minute in ’n stalletjie vertoef, jy weet nooit wat jy gaan kry nie. Maar wat ons wél weet: jy wil nie laat wees nie. Maak seker jou horlosie is gestel – dié is Innibos se manier om jou terug te bederf vir 21 jaar se ondersteuning. Vernuwing en Vars Uitleg  – 21 jaar se lekkerness Soos enige 21-jarige wat nuwe horisonne betree, het Toyota Innibos 2025 ook ’n vars terrein-uitleg! Die Bosmôl se uitleg geskuif om ’n meer vloeiende, gemaklike en opwindende ervaring vir feesgangers te skep. Die nuwe uitleg bring nuwe hoeke, verrassende ontmoetings en beter uitsigte – perfek om die samesyn en feestelike gees nog hoër te laat vlam. Ons hoofverhoog met sy langer T-uitleg, gaan die kuiertafel en bespreekte stoel area nader aan die kunstenaars bring. Of jy kom vir die musiek, die kos, die kuns of sommer net die kuier – Toyota Innibos 2025 belowe om die ekstra lekkerness in jou feeservaring te sit. Met spesiale verrassings regdeur die terrein, eksklusiewe aanbiedinge, ’n feesprogram wat jou asem gaan wegslaan en nuwe ruimtes om te ontdek, gaan hierdie nie net ’n verjaarsdag wees nie – dis ’n volwaardige kultuurpartytjie van formaat! Van 3 tot 6 Julie roep ons jou: kom vier saam met ons die groot 21! Trek jou gemaklikste skoene aan, bring jou lekkerste lag saam, en kom ervaar ’n fees wat volwasse geword het – maar nog lank nie ophou droom nie. Innibos 2025 – dis ons fees, dis jou fees, dis die LEKKERSTE fees soos net die Laeveld dit kan doen!

Innibos word mondig – en jy’s uitgenooi na die lekker, lekkerder, lekkerste fees nog! Read More »

Feeskunstenaar 2025: Reuben Mpangane

FEESKUNSTENAAR 2025: Reuben Mpangane Uitstalling : 2 tot 27 Julie  2025 Venue: Witrivier Kunsgalery, Casterbridge-sentrum, Witrivier Galery Ure : Daagliks tussen 09:00 and 16:00 (Saterdae tussen 09:00 and 14:00) Kunsrondleiding: 10:30 daagliks vanaf 3 tot 6 Julie 2025 Dit is vir ons ’n groot voorreg om Reuben Mpangane as die 2025 Innibos feeskunstenaar aan te kondig. As ’n gevestigde en hoog aangeskrewe kunstenaar en opvoeder wat al jare lank in die Laeveld woon, vier Reuben vanjaar sy 50ste jaar as visuele kunstenaar – ’n merkwaardige mylpaal wat getuig van vyf dekades se artistieke talent. Reuben is in 1953 in Kaapschehoop gebore. Sy uitgebreide loopbaan word gekenmerk deur ’n kombinasie van artistieke en opvoedkundige prestasies. Hy het ’n BA-graad in Beeldende Kunste aan Unisa voltooi, en het daarna ’n B.Ed.-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Dit is opgevolg deur ’n Hoër Onderwysdiploma (Nagraads) en ’n Sertifikaat in Kuns-Spesialisasie aan Unisa. Aanvanklik is Reuben se belangstelling in kuns aangewakker deur sy ma, wat nou 91 jaar oud is  en steeds aktief met handwerk besig is. Latere invloed het gekom van Di-Ann Johnson-Ackermann, wat informele kunsklasse aangebied het en Reuben se pen-en-ink-tekeninge plaaslik en internasionaal bemark het. Hy is ook geïnspireer deur wyle Bruce Ponting, eienaar van die Nelspruit Kunsgalery. Verdere invloedryke figure in sy loopbaan sluit in Steven Sack en professor Keith Dietrich, wat hom veral tydens sy studies ondersteun het. In 1988 het Reuben sy eerste suksesvolle solo-uitstalling by die Nelspruit Kunsgalery aangebied. Alle werke in dié uitsalling is verkoop. Sy tweede uitstalling by dieselfde lokaal in 1989 het sy reputasie as gerekende kusntenaar bevestig. In dieselfde jaar het hy ’n solo-uitstalling en kunswerkwinkel saam met Nat Ntombela by die Kanyamazane Saal aangebied. Hierna het talle suksesvolle  solo- en groepuitstallings gevolg, beide plaaslik en internasionaal. In 2018 het hy deelgeneem aan ’n groepuitstalling by die Mbombela Burgersentrum saam met Fikile Skosana. Hy het ook by Innibos en Tupelo in Kaapstad uitgestal. Sy werk vorm deel van gesogte versamelings, soos onder andere in die Mpumalanga Wetgewersgebou, die Parlement in Kaapstad en die Ontwikkelingsbank in Midrand. Reuben skep in ’n wye verskeidenheid mediums, insluitend hout- en metaalbeeldhouwerk, verf en collage. Met verloop van tyd het sy tegniek om herwinde plastiek en hergebruikte materiale in kleurvolle collagewerke te omskep, ontwikkel. Hierdie vernuwende benadering,  waarin hy kleure in lae aanwend om unieke ondertone en teksture te skep, het kenmerkend van sy werk geword en getuig van sy toewyding om omgewingskwessies aan te spreek.  Deur sy artistieke reis het Reuben sy fokus verbreed van Township Art na meer konseptuele temas oor sosiale samehorigheid, geïnspireer deur sy ervarings van die  township-lewe in ’n onstuimige tydperk. Buiten sy skeppende werk vervul  Reuben ook ’n belangrike rol as opvoeder en mentor. Hy dien tans as Projekbestuurder vir Emathalente Training in Mbombela, ’n  nie-winsgewende organisasie, waar hy agt dae per maand onderrig in handvaardighede gee aan mense met gestremdhede. Sy werksessies dek verskeie dissiplines, van kuns en handwerk tot metaalontwerp en die maak van  funksionele metaal-houtmeubels. Een van sy noemenswaardige gemeenskapsinisiatiewe was die aanbied van kuns- en kultuurwerkswinkels vir onderwysers in die Gert Sibande- en Sekhukhune-distrikte via die MTN/Umbalabala Training-inisiatief tussen 2008 en 2012.  Reuben glo in die krag van gemeenskap en die sosiale impak van die kunste. Sy verbintenis hiertoe  het hom geinspireer om klassieke jazz-klavier aanlyn te studeer, wat sy kreatiewe uitdrukking verder verryk. Reuben se lewe en werk is ’n toonbeeld van toewyding aan die  kunste, opvoeding en gemeenskapsopheffing.

Feeskunstenaar 2025: Reuben Mpangane Read More »

KUNS GROEPUITSTALLING: Tuiskoms/Homecoming

KUNS GROEPUITSTALLING: Tuiskoms/Homecoming Opening: Dinsdag 2 Julie 2025 om 18:00 der LUR L Mabuza Galery-ure: Daagliks tussen 10:00 en 17:00 Begeleide Rondleiding: 12:00 en 15:00 daagliks Venue: Innibos Kunsgalery by die  Bergvlam Hoërskool Restaurant Deelnemende kunstenaars: Reuben Mpangane, Erica Schoeman, Odette Saayman, Mariana Zwaan-de Bruin, Winston Thekiso, Bob Mnisi, Ingrid Uys, Wendy Sippel, Lisa Tristram, Annalie Odendaal, Wendy Malan, John-Anthony Boerma, Leigh Voigt, Matthew Koster, Michael Selekane, Maria Pienaar, Cyril Chiburre Kurator: Dana MacFarlane Innibos bied met trots ’n groepsuitstalling aan wat kunstenaars ten toon stel wie se artistieke talent geïnspireer is deur die diverse en unieke natuurskoon van die Laeveld en Mpumalanga. Die Laeveld word allerweë  beskou as ’n streek met ’n ryk biodiversiteit, en die omgewing se energie en lig, sowel as sy ryk plant- en dierelewe, inspireer kunstenaars al eeue lank. Daarbenewens bied die kulturele diversiteit van die omgewing ’n artistieke platform waarbinne  ’n wye reeks sosiale dinamika verken kan word. Hierdie uitstalling verken spesifiek hoe die Laeveld die werk van kunstenaars beïnvloed het – dié wat hier woon, sowel as dié wat tyd hier spandeer het en nou elders woon, maar steeds hul ervarings en die omgewing se invloed in hul kreatiewe uitdrukking  vergestalt. Ons kyk spesifiek na kunstenaars uit ons artistieke diaspora, wat nou regoor Suid-Afrika en selfs oorsee hul merk maak. Ons sluit ook die minder bekende kunstenaars in, wat al lank in die gebied gewortel is en deel vorm van ons ryk artistieke erfenis. Hierdie veelvlakkige uitstalling bied werk in groot- tot kleinskaalse formaat, in ’n verskeidenheid mediums, insluitend skilderkuns, beeldhouwerk en keramiek. ’n Paar werke deur die feeskunstenaar Reuben Mpangane sal ook vertoon word. Die uitstalling sal op 2 Julie geopen word deur Me L Mabuza,  LUR van die Mpumalanga Departement van Kultuur, Sport en Ontspanning.

KUNS GROEPUITSTALLING: Tuiskoms/Homecoming Read More »

ATKV-Boekecrawl – ’n Fees van Woorde, Musiek & Magie!

ATKV-Boekecrawl – ’n Fees van Woorde, Musiek & Magie! Mbombela Nelspruit – Daar is iets besonders aan die klanke van storievertellers, die geur van wyn in die lug en die warmte van woorde wat mense saambring. Dis juis hierdie atmosfeer wat die ATKV-Boekecrawl jaar na jaar een van die gewildste produksies by Innibos maak – en 2025 gaan geen uitsondering wees nie. Op Donderdag 3 Julie verander die mistige dorpie Kaapsehoop, sowat 30 km buite Nelspruit,  in ’n literêre sprokie waar boeke, musiek en mense mekaar ontmoet op ’n onvergeetlike reis deur die Afrikaanse kultuurwêreld.    Hierdie unieke produksie, aangebied deur die ATKV en trots ondersteun deur Van Loveren Wyne, Silver Mist Gastehuis, Bohemian Groove Café en Buscor, is veel meer as net ’n boekbespreking – dis ’n viering van die Afrikaanse taal in al haar vorme en vind in twee tydgleuwe plaas, 15:00 of 17:00. Kaartjies kos R350 per persoon, wat ligte verversings en drankies insluit. Busse vertrek stiptelik vanaf die NG Kerk Westergloed, geleë in Koraalboomstraat 36, en die volledige ervaring duur ongeveer 260 minute. Volgens Philna Scholtz, produksiebestuurder van Innibos, moet mense daarop let daarop dat toegang slegs vir volwassenes is. Sy sê die ATKV-Boekecrawl is vanjaar méér as net ’n hoogtepunt op die program – dis ’n ervaring. “Mense soek inhoud wat sin maak, kunstenaars wat hulle raak, en oomblikke wat hulle nie kan koop nie. Dís wat die Boekecrawl gee.” Volgens Philna kan mens uitsien na ‘n sterbelaaide kunstenaarspaneel wat woorde lewendig maak! Susan Coetzer met haar fluweelstem en indrukwekkende verhoogteenwoordigheid bring sy enige gehoor tot vervoering. Jack & June is ‘n musikale duo en voeg ’n unieke klank by die ervaring met hul akoestiese styl en warm harmonieë.  Elvis Blue het geen bekendstelling nodig nie en is een van Suid-Afrika se mees geliefde sangers, om nie eers te praat van die bekende Anna-Mart van der Merwe nie. Dié ikoniese aktrise met dekades se ervaring in verhoog, film en televisie, gaan sy boeke-crawlers ‘n ervaring gee om te onthou.  Frazer en Deniel Barry is twee broers wat  bekend is vir hul energieke en dinamiese optredes. Hulle bring humor, warmte en karakter aan klassieke Afrikaanse tekste. Johny Klein is ’n man met ’n slag vir stories én snaaksigheid. Johny se liefde vir taal en sy spitsvondige manier van vertel laat luisteraars regop sit en aandag gee. Hierdie moet-sien produksie vind bowenal op drie betowerende stopplekke – elkeen met sy eie storie – plaas, Bohemian Groove Café, Silver Mist Country Inn kapel en die Silver Mist funksiesaal. Die ATKV-Boekecrawl bly ’n ervaring wat harte aanraak en koppe laat dink. Kaartjies vir ons early birders (Tjirp nuusbrieflesers) open 28 April en vir die publiek 30 April. Sit dié produksie op jou lysie en raak deel van ’n storie wat jy nooit sal vergeet nie.

ATKV-Boekecrawl – ’n Fees van Woorde, Musiek & Magie! Read More »

ʼn Laeveld Langtafel soos nog nooit tevore nie – sien, hoor, proe… en onthou

ʼn Laeveld Langtafel soos nog nooit tevore nie – sien, hoor, proe… en onthou Op die aand van Woensdag, 02 Julie 2025 – net voordat Innibos se ligte aangaan – ontvou daar iets besonders, iets nuuts, iets wat jou na jou asem gaan laat snak, maar later nie oor uitgepraat kan raak nie.  Dis ʼn uitnodiging na ’n eerste van sy soort: ’n Langtafel-ervaring iewers in Nelspruit se omliggende dele, bedoel vir diegene wat met smaak en siel leef, wat hou van ontdek, wat nie bang is vir die onbekende nie – en wat weet dat ware luuksheid in eenvoud en detail lê. ’n Handjievol gaste sal daardie middag op pad gestuur word na ʼn geheime bestemming in die Laeveld. Die ligging? Onverwag. Ongerep. Netjies weggesteek tussen die Laeveldse berge en bome, waar die stilte sag praat en die atmosfeer met elke asemteug iets beloof. Dié wat bespreek het, weet net dát hulle gaan – nie waarheen nie. Dis deel van die magie. Wat wag, is nie ’n gewone ete nie. Dis ’n aand wat jou sintuie sal verlei met chef Mynderd van Staden van essen Eatery in Gauteng. ’n Fynproewers-ervaring wat dans op die grens tussen kulinêre kuns en Laeveld-lekker. ’n Sewegang-maaltyd, begin met canapès en eindig by ’n elegante nageregtrollie, sal bedien word aan ’n lang gedekte tafel onder die sterre. Wyn vloei gemaklik, en vars Laeveldwater word met dieselfde sorg aangebied as enige vintage. Die klanke van Reon van Aardt en sy orkes vou die aand toe in kontemporêre musiek wat eg Suid-Afrikaans en wêreldklas aanvoel. Elke noot en elke geur bou saam aan ’n ervaring wat net een keer gebeur – en vir altyd bybly. Gaste word gevra om elegant te verskyn, in skakerings van wit, swart, room of met ’n streep diervelmotief – ’n uitdrukking van styl en natuur, net soos die ervaring self. Vervoer na die bestemming is ingesluit – jy hoef net op te daag met oop verwagtinge en ʼn lus vir iets buitengewoon. Besprekings is oop by www.laeveldlangtafel.co.za, en plekke is uiters beperk. Vir enige vrae of verdere besonderhede, kan belangstellendes via WhatsApp kontak maak by 074 238 6188, of Lizette Gerber skakel by 084 406 6861. E-posnavrae kan gestuur word na bookings@laeveldlangtafel.co.za. Volg die opbou tot hierdie unieke aand op Facebook (Laeveld Langtafel) en Instagram (@laeveldlangtafel), en kry ’n voorsmakie van wat wag as jy die onbekende aandurf. Hierdie is nie net ʼn gebeurtenis nie. Dis ʼn viering van die Laeveld, van smaak, en van mense wat durf. Sien. Hoor. Proe. En wees deel van iets wat jy nie kan beskryf nie – net belééf en verseker nie wil misloop nie. Gaste sal twee dae voor die geleentheid in kennis gestel word van waar hulle die bus na ons geheime bestemming kan neem. Koop Kaartjies Hier

ʼn Laeveld Langtafel soos nog nooit tevore nie – sien, hoor, proe… en onthou Read More »

Scroll to Top