Innibos

Toekennings

Dana Snyman – Geliefde Storiesmous

Dana Snyman – Geliefde Storiesmous In die Republiek van Rondomskrik kraai veelbekroonde Dana Snyman koning as gesoute reisjoernalis, geliefde storiesmous en gerekende dramaturg.  Vra ’n mens vir Dana hoekom hy skryf, sal hy iets sê soos, ek hou van stories en stories hou van my ook; of, hierdie land verwond ons almal knaend op allerhande maniere, en iemand moet weet hoe dit was. Nie ter wille van nostalgie nie, maar ter wille van die opskrywe van sy mede-verskriktes se beleefde ervarings. Dana glo as jy die regte vraag vra, en dan lank genoeg stilbly, almal ’n storie het om te vertel. Vra jy sy gretige lesers hoekom hulle so graag lees wat Dana skryf, sê hulle: Sy sketse is die beste; ’n Skerper waarnemingsvermoë en beter storieverteller sal jy nie sommer kry nie; Hy lê met aangrypende eenvoud gewone mense se beleefde ervarings allerversigtig bloot; Met net ’n paar woorde skep hy ’n atmosfeer en jy voel jy is daar saam met hom; Sy stories laat ’n mens bietjie anders dink; Man, mens lees net so lekker aan ’n Dana Snyman – die waarheid gejas met die gevoel van prosa.   Sy eerste boek, ’n versameling rubrieke, Uit die binneland (2005) was ’n drie onder pale. Suid-Afrikaners uit alle geledere het die stories opgelek en sedertdien is elke boek deur Dana ’n topverkoper. Hy vang die tydgees vas met sy deernisvolle verhale van mense wat oor allerhande grense die hande na mekaar uitsteek.  Saam met hom kan ons reis na plekke soos Poffertjiesgat, Knoffelfontein en Dikboompies. Saam met hom kan ons huil oor dwalers langs ons land se paaie. Saam met hom kan ons lag vir ons eie tekortkominge. Saam met hom kan ons altyd weer ’n draai gaan maak by Hopetown, die hoofstad van Rondomskrik. Soos Pottie Potgieter en Ds Tienie Benade het Dana Snyman in ons harte vir hom ’n plekkie ingerig. Dankie, Dana, vir al jou stories, wat ons net so nodig het soos water. Dankie Dana! – Dana Snyman Vereringsgeleentheid Sa 5 Jul 16:00 Gesprekleier: Annemarie van der Walt ’n Boek is vir die siel soos wat ’n slypsteen vir ’n swaard is. Innibos vereer vanjaar geliefde skrywer, Dana Snyman. Hy noem homself ʼn storiesmous, maar is veel meer – hy skryf rubrieke, kortverhale, eenmanvertonings, romans en het selfs sy eie televisiereekse gehad. Dana Snyman is volksbesit en sy skryfwerk is toeganklik vir die breë publiek. ʼn Hele program met Wilhelm van der Walt, Stephanie Baartman, Lizanne Barnard en Eugené Wait is rondom sy skryfwerk opgestel en dit is waarmee Innibos wil sê: Dankie, Dana, vir al die genot wat jou skryfwerk die leser oor die jare verskaf het.

Dana Snyman – Geliefde Storiesmous Read More »

Toyota Innibos vereer Kurt Darren – ’n Legende van Afrikaanse Musiek

Toyota Innibos vereer Kurt Darren – ’n Legende van Afrikaanse Musiek Kurt Darren is ons eie Sokkiekoning en ’n trefferfabriek van Afrikaanse dansmusiek. Sy liedjies is op elke speellys waar daar partytjie gehou of gedans word. Daarby geniet sy treffer “Kaptein,” wat selfs op stadions buite die landsgrense gespeel word sodra ’n Springbok gewaar word, die status as ons nie-amptelike volkslied. Ná dertig roemryke jare in die vermaaklikheidsbedryf, seil hy steeds volstoom voort en het al in 15 verskillende lande anker gegooi. Hy skryf die meeste van sy liedjies self en treffers soos “Kaptein,” “Hemel op Tafelberg” en “Meisie Meisie” is al 35 keer deur sangers in Nederland, België en Duitsland vertaal en opgeneem.  For Your Precious Love, sy eerste album, verskyn in 1995. Sy groot deurbraak kom egter eers in 2002 toe die titelsnit van sy sesde album, Meisie, Meisie, die treffersparade haal. In 2008 tref “Kaptein” die lug en dit word ’n immergroen treffer wat ná 17 jaar steeds die voete laat jeuk.  Tans is daar ’n imposante 30 albums agter sy naam. Sy jongste wegholtreffer, “Hop, hop, spinnekop,” wat in November 2024 vrygestel is, spog met 65 miljoen kyke op TikTok en meer as 5.4 miljoen op YouTube. Sy musiek is al bykans 120 miljoen keer op verskeie digitale musiekplatforms gestroom en op YouTube is sy musiekvideo’s al meer as 240 miljoen keer gekyk. Vanaf 2006 tot 2011 bied hy die gewilde musiekprogram “JukeBox” op kykNET aan. Hy het selfs al sy lyf akteur gehou in films soos “Liefling” en “#LoveMySelfie.” Op sy kerfstok pryk vele toekennings, onder andere 9 SAMA’s, 12 dubbelplatinum en 21 goue verkope-toekennings, sowel as prestige toekennings van Tempo, Ghoema, Vonk en Geraas. Sy impak op die plaaslike musieklandskap is onmiskenbaar. Hy lewer ’n enorme bydrae tot die evolusie van moderne Afrikaanse musiek en bring dit ook na internasionale gehore. Innibos vereer Kurt Darren, die Kaptein van Lekkerness, vir sy lewenslange toewyding aan Afrikaanse musiek. Danksy hom gaan ons nog lank op tafels dans! 

Toyota Innibos vereer Kurt Darren – ’n Legende van Afrikaanse Musiek Read More »

Innibos bring die Fiëstas-toekenning huis toe vir Beste Buitelugkonsert

Innibos bring die Fiëstas-toekenning huis toe vir Beste Buitelugkonsert Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is gisteraand, 27 Februarie, by die kykNET Fiëstas toekenningsgeleentheid by die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin in Kaapstad, vir die beste buitelugkonsert in die kategorie: Beste Kontemporêre Musiekgedrewe Produksie vir 2024, aangewys. Innibos het twee nominasie gekry wat ook die Musikale Meander ingesluit het. Volgens Sandra Jacobs, Direkteur by die fees, bars hul harte van trots vir die benoeming. “Die span werk baie hard agter die skerms om ‘n topgehalte fees op die been te bring.”  Die Saterdagaand Buitelugkonsert is ‘n hoogtepunt van die fees, saamgestel deur Deedee en Floors Oosthuizen onder leiding van Murray Lubbe en Adelene Niehaus en beligtingsontwerp deur Johan Ferreira. Met ‘n vol orkes, vuurwerke en top kunstenaars soos Karlien van Jaarsveld, Die Piesangskille, Willem Botha, Brendan Peyper, Emo Adams, Swing City en nog meer, was dit ’n skouspel om te aanskou! Die kykNET Fiëstas vereer sedert 2011 jaarliks uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste wat in die voorafgaande jaar by kunstefeeste te sien was. Volgens Sandra wil sy graag vir kykNET bedank wat erkenning gee vir uitstaande prestasie. “Hartlik geluk aan elkeen wat met ’n Fiësta-toekenning huis toe is.”  Die Fiëstas-paneel het in 2024 sewe kunstefeeste – KKNK, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaat Kunstefees, Klein-Karoo Klassique, Momentum Beleggings Aardklop en Toyota Stellenbosch Woordfees – bygewoon om al die debuutproduksies te sien wat op die planke gebring is. Ná ’n breedvoerige stemproses wat deur ouditeure nagegaan is, is die benoemdes in die veertien kategorieë bepaal.  Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is al vyf uit die agt keer wat die “Fees van die Jaar” – toekenning bestaan het, met die toekenning bekroon. “Dit is ‘n klinkklare bewys dat Innibos soveel meer as net ‘n musiekfees is, asook dat ons top gehalte produksies, boeke, stalletjies, musiek, kuns en kultuur vir ons feesgangers bied. BESTE KONTEMPORÊRE MUSIEKPRODUKSIE

Innibos bring die Fiëstas-toekenning huis toe vir Beste Buitelugkonsert Read More »

Juanita du Plessis – Engel van ons harte

Juanita du Plessis se musiek kan jou eerbiedig stem, jou met hoop vul, jou uit volle bors laat saamsing of jou na jou dansskoene laat gryp. Sy is tans die mees bekroonde sangeres in Afrikaans en spog met ’n ongeëwenaarde drie miljoen in plateverkope. Vir die afgelope 26 jaar geniet sy ikoniese status in die musiekbedryf. Sy is ’n toonbeeld van veelsydigheid, ewe tuis met kontemporêre pop, country, gospel of dansmusiek. Dié ongekunstelde meisie van Namibië oorrompel die musiekarena in 1998 met die album Juanita en in dieselfde jaar stap sy as beste sanger en beste liedjieskrywer by die Country Music Association van Namibië se toekenningsgeleentheid weg. Hierná verander alles waaraan sy raak in goud, of platinum. Die liedjie “Ska-Rumba” van haar volgende album Ek en Jy was onmiddellik ’n treffer. Sedertdien het sy 22 albums en 7 DVD’s uitgereik en elkeen het Goue of Platinum status bereik. Met haar 2003 album Jy is bereik Juanita ’n besondere mylpaal – sy is die eerste Afrikaanse sangeres om die nr. 1-posisie van RSG se amptelike verkoperslys, wat nasionale en internasionale verkope insluit, te beklee. Haar 2007 album Vlieg hoog behou steeds die titel as die Top Afrikaanse Gospel-verkoper van alle tye. Juanita word in 2012 die eerste kunstenaar in die Afrikaanse geskiedenis om 2 miljoen albums in Suid-Afrika te verkoop. In 2023 verras sy deur die prettige dansliedjie “Liewe Jinne” op TikTok vry te stel. Sy is veral trots op twee van vele toekennings. Die SAMA-toekenning vir Engel van my hart, wat sy self regisseer en wat Platinumstatus bereik nog voordat dit die rakke tref. En haar Ghoema Diamant Toekenning vir Beste Afrikaanse verkoper in die Geskiedenis van Suid-Afrika. Of jy nou ‘woke’ of oud is, daar sal ’n Juanita-liedjie wees wat jou hartsnare roer. Innibos vereer haar graag vir haar ryk diskografie en haar lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek.

Juanita du Plessis – Engel van ons harte Read More »

Scroll to Top