Vrae en antwoorde
Hoe laat maak die hekke oop?
Die Hekke maak elke dag om 10:00 oop.
Wat is alles ingesluit by die Innibos Feesterrein se hektoegang?
As jy ʼn toegangskaartjie vir Innibos se feesterrein koop, gee dit jou toegang tot die stalletjies, jy kan by al die kuierverhoë luister na die kunstenaars wat daar optree, jy kan na al die kort teaterstukke, eenmanvertonings, vertellings, onderhoude en gesprekke by die Boma-kuierteater gaan kyk, kleingoed is welkom om gratis die vertonings en aktiwiteite by Woelwaters by te woon. By die Wingerd Kuiertuin word daar behalwe die pragtige musiek, ook kompetisies en ander aktiwiteite aangebied. Dan is daar elke aand die hoofverhoog-konserte met van die land se top kunstenaars! Dit alles is by jou hektoegang ingesluit. Die ritte in die pretpark is addisioneel ekstra vir jou eie sak.
Kan ek die aandkonsert kyk as ek ʼn feesterreinkaartjie het?
Ja, die aandkonsert op die hoofverhoog is ingesluit by die feesterreinkaartjie.
Hoe doen ek aansoek vir tydelike werk by Innibos?
Die aansoekvorms vir tydelike werk verskyn jaarliks vanaf 1 April op Innibos se webtuiste waar dit aanlyn ingevul word.
Waar kan ek soek na my beursie of kledingstuk wat ek by Innibos verloor het?
Alle verlore goedere word tydens die fees ingehandig by die feesterreinkantoor agter die pawiljoen of na die fees kan jy kom kyk of dit gevind is by die Inniboskantoor, Fauriestraat, Sonpark, Mbombela.
Waar koop ek ‘n afslagkaartjie as pensioenaris en hoe gebruik ek dié kaartjie?
Hierdie kaartjies is by Inniboskantoor, Fauriestraat, Sonpark te koop sodra kaartjies vir die fees open. Jy moet jou ID-dokument bring. Onthou om dit wéér saam te bring, want dit word by die hek ook gekontroleer. Hierdie kaartjies is ook by HEK 1 en HEK 5 by die feesterrein te koop.
Hoekom kan ons nie pensioenariskaartjies aanlyn koop nie?
Daar is streng maatreëls in plek om bedrog te voorkom, daarom word pensioenariskaartjies nie aanlyn verkoop nie.
Hoeveel kos kinderkaartjies?
Voorskoolse- en laerskool kinders het gratis toegang. Laerskoolkinders benodig nie kaartjies nie Kinders tussen 2jr en 12jr benodig wél ʼn toegangskaartjie na die kuiertafel-area.
Hoe werk die STOP & HOP van i’langa Mall en wat kos dit?
Jy stop op die middelste vlak by i’langa Mall en los jou motor daar. Dan klim jy op een van City Bug se bussies wat jou dan gratis na die feesterrein toe vervoer. Nadat jy gefees het, klim jy weer op die bussie wat jou terugry na i’langa Mall. Dit is baie gerieflik en maklik en sodoende vermy jy verkeersknope.
Hoe werk die Bossewaens wat feesgangers na die onderskeie venues toe vervoer?
Jy kan ʼn Bossewa neem om jou vertoning by die onderskeie venues te gaan kyk. Hulle vertrek 45 minute voor ʼn vertoning en sal binne 20 minute na die vertoning weer daar wees om jou terug te bring feesterrein toe. Dit kos R20 per rit (R40 retoer).
Hoekom is daar ʼn beperkte aantal kaartjies vir die Musikale Meander en ATKV-Boeke-crawl?
Hierdie is baie duur produksies. Dink net aan die koste om al die kunstenaars wat optree se fooie te betaal. Die busse en toerleiers en die inrigting van die venues is ook duur. Hierdie produksies kan net aangebied word deur ʼn borgskap omdat die koste nie uit die kaartjieverkope verhaal kan word nie en kan dus net ʼn beperkte aantal feesgangers huisves en dit diegene ʼn uitsonderlike ervaring bied.
Hoe word bepaal watter produksies word gekeur vir die fees?
Innibosbestuur besoek feeste en ander plekke en gaan kyk dan na ʼn verskeidenheid produksies. Produksies word genooi op grond van die teikenmark wat teaterproduksies besoek.
Hoe word uitstallers gekeur?
Aansoeke word aan alison@innibos.co.za gestuur. Daar is ʼn keuringspaneel wat deur die aansoeke gaan en dan dié kies volgens ʼn lys van kriteria: die gehalte van die produkte, is die produkte handgemaak en uniek, hoeveel soortgelyke aansoeke is ontvang? Die hoeveelheid plek bepaal ook hoeveel stalletjies gekeur word – gewoonlik so om en by die 200. Daar word ook jaarliks gepoog om nuwe uitstallers ʼn kans te gee. Die aansoeke open elke jaar die eerste week in Januarie.
Ek is ʼn sanger. Hoe gaan ek te werk om by Innibos op te tree?
Opkomende kunstenaars wat graag by Innibos wil optree, moet aansoek doen. Aansoekvorms sal van 1 OKTOBER op Innibos se webtuiste www.innibos.co.za beskikbaar wees. Neem asseblief kennis dat die sluitingsdatum 31 OKTOBER is en dat geen laat aansoeke aanvaar word nie. Gevestigde of bekende kunstenaars word deur Innibos genooi om by die fees op te tree.
Kan ek met kontant my kaartjie by die hek koop?
Nee, slegs kaarttransaksies. Die kaartjieverkooppunt by die hekke is kontantloos.
Kan ek by die biertente met kontant koop?
Nee, slegs kaarttransaksies. Die betaalpunte by die kroeë is kontantloos.
Hoe weet ek ʼn vertoning wat ek bespreek is gesinsvriendelik?
Die gradering word in die program aangedui. As daar staan GESIN, is dit vir die hele gesin. Let ook op die ouderdomsbeperking wat vir jou ʼn aanduiding kan gee. T staan vir TAAL (moontlike kru taalgebruik), N staan vir NAAKTHEID, OB staan vir OUERBEGELEIDING ens.
Hoekom is daar nie meer ʼn Gouesirkel nie?
Daar is besluit dat ons die algemene feesganger die geleentheid wil gee om voor die verhoog te kan sit of staan.Daar was baie hieroor besin en uiteindelik besluit op die nuwe konsep van die Kuiertafel area in die middel van die veld.
Hoe werk die Kuiertafels?
Jy koop die tafel vir 6 mense as ʼn pakket. Die kuiertafels behels ʼn tafel en twee bankie-stoele in ʼn prima area ongeveer 30-40 meter vanaf die hoofverhoog. Die kuierarea het ook sy eie toilette en kroeg. Die hekke vir hierdie area open om 16h00 elke dag. Elke persoon oor die ouderdom van 2 benodig ʼn kaartjie vir toegang tot die area. Kinders onder 2 benodig dus nie ʼn kaartjie nie.
Onthou asb. dat die kuiertafel-kaartjies NIE die feesterrein toegang insluit nie. Jy benodig ʼn addisionele feesterreinkaartjie.
Ons wil graag individuele bespreekte sitplekke vir die feesterrein koop. Hoe nou gemaak?
Ongelukkig is daar nie individuele bespreekte sitplekke nie. Daar is heelwat los stoele op die feesterrein wat julle kan gebruik of julle kan kampstoele of komberse saam bring om op te sit. Daar is baie spasie op die veld en pawiljoen waar julle die hoofverhoogvertoning baie goed sal kan sien.
Ek wil graag optree by Innibos? Hoe maak ek?
Die aansoeke vir opkomende kunstenaars open elke jaar in Oktober. Hou asseblief ons sosiale media dop vir die aankondiging vir wanneer die aansoeke beskikbaar is. Daar is ʼn keuringspaneel wat deur die aansoeke gaan en dan hul keuse maak volgens bepaalde kriteria. Die uitslae word gewoonlik in Februarie bekend gemaak.
Wat is Innibos se rookbeleid?
Innibos is onderhewig aan al die landswette waarvan die Beheer op Tabakprodukte van 1993 (hersien in 1999) ook deel is. Die feesterrein is dus ʼn rookvrye area.