Innibos word mondig – en jy’s uitgenooi na die lekker, lekkerder, lekkerste fees nog! Dis amptelik: Toyota Innibos vier vanjaar sy 21ste bestaansjaar – en dié fees word groter, kleurvoller en lekkerder as ooit vantevore! Soos ’n jongmens wat mondig word, staan Toyota Innibos 2025 trots op sy eie voete met ’n storie van een-en-twintig jaar se kultuur, kuns, musiek en onvergeetlike herinneringe. En ja, daar is groot planne om dié mylpaal behoorlik te vier! Vandat ons die jaar ons deure oopgegooi het, het Toyota Innibos feesgangers bederf met talent van regoor Suid-Afrika, en dié jaar word die tradisie met ekstra flair voortgesit. Ons sê nie verniet: lekker, lekkerder, lekkerste, nie! Die Innibos-span is propvol verrassings vir sy feesgangers wat jy nie wil misloop nie. Geen Verhoging, ons geskenk aan JOU In ’n tyd waar alles duurder word, het Toyota Innibos besluit om kaartjiepryse dieselfde te hou as verlede jaar. Dis ons geskenk aan ons lojale feesgangers, ’n manier om te sê dankie vir elke voetstap, elke handeklap en elke lag oor die afgelope twee dekades en meer. Ons weet dis juis julle wat dié fees se hart laat klop, en dis vir ons ’n groot voorreg om dit op só ’n manier te kan teruggee. 21 Minute van afslag Volgens Alison Linde, stalletjiebestuurder van Toyota Innibos, lê sy klem op 21 Jaar, 21 Minute, en 21 Redes om vroeg daar te wees! As deel van die 21ste bestaansjaar-vieringe, gaan die geliefde Bosmôl – die bruisende hart van handwerk, kreatiwiteit en geurige kosstalletjies – elke dag om 11:00 én 16:00 vir presies 21 minute spesiale aanbiedings en verrassings hê. Elke liewe stalletjie, ja, ook die kosstalletjies, neem hieraan deel! Of dit afslag, gratis happies, kompetisies of unieke produkte is, of jy die 21ste persoon is wat die stalletjie besoek, of 21 minute in ’n stalletjie vertoef, jy weet nooit wat jy gaan kry nie. Maar wat ons wél weet: jy wil nie laat wees nie. Maak seker jou horlosie is gestel – dié is Innibos se manier om jou terug te bederf vir 21 jaar se ondersteuning. Vernuwing en Vars Uitleg – 21 jaar se lekkerness Soos enige 21-jarige wat nuwe horisonne betree, het Toyota Innibos 2025 ook ’n vars terrein-uitleg! Die Bosmôl se uitleg geskuif om ’n meer vloeiende, gemaklike en opwindende ervaring vir feesgangers te skep. Die nuwe uitleg bring nuwe hoeke, verrassende ontmoetings en beter uitsigte – perfek om die samesyn en feestelike gees nog hoër te laat vlam. Ons hoofverhoog met sy langer T-uitleg, gaan die kuiertafel en bespreekte stoel area nader aan die kunstenaars bring. Of jy kom vir die musiek, die kos, die kuns of sommer net die kuier – Toyota Innibos 2025 belowe om die ekstra lekkerness in jou feeservaring te sit. Met spesiale verrassings regdeur die terrein, eksklusiewe aanbiedinge, ’n feesprogram wat jou asem gaan wegslaan en nuwe ruimtes om te ontdek, gaan hierdie nie net ’n verjaarsdag wees nie – dis ’n volwaardige kultuurpartytjie van formaat! Van 3 tot 6 Julie roep ons jou: kom vier saam met ons die groot 21! Trek jou gemaklikste skoene aan, bring jou lekkerste lag saam, en kom ervaar ’n fees wat volwasse geword het – maar nog lank nie ophou droom nie. Innibos 2025 – dis ons fees, dis jou fees, dis die LEKKERSTE fees soos net die Laeveld dit kan doen!