Innibos

2025

Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees kondig nuwe hoofborg aan

Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees kondig nuwe hoofborg aan Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is trots om Toyota Suid-Afrika as nuwe hoofborg aan te kondig. Hierdie vennootskap is meer as net ‘n samewerking – dit is ‘n samesmelting van gedeelde waardes, ‘n passie vir kultuur en ‘n liefde vir lekker dinge. Toyota staan vir betroubaarheid, deursettingsvermoë en ‘n toekomsgerigte benadering – waardes wat hand-aan-hand loop met Innibos se strewe om kuns en kultuur te bevorder. “Toyota Suid-Afrika se betrokkenheid by Innibos is ‘n bewys van hul verbintenis tot die mense van hierdie land en hul kultuur,” sê Andy Lubbe, direkteur en feesbestuurder van Innibos. “Hulle verstaan dat ‘n familiefees soos hierdie nie net oor vermaak gaan nie, maar oor ‘n gevoel van gemeenskap, ‘n tuiste vir die kunste en ‘n plek waar herinneringe gebou word.” Innibos was nog nooit vir sy mense net nóg ‘n fees nie – dis ‘n viering van wat dit beteken om die lekker van die lewe te beleef. Dis musiek, kuns, boeke, teater, stalletjies, en vermaak vir oud en jonk.  Innibos se tema dié jaar is “LEKKER” want, dis is ‘n fees vir lekker mense, en lekker mense hou van lekker dinge…soos ‘n goeie voertuig. Dit maak Toyota en Innibos natuurlike pasmaats. Toyota se betrokkenheid by ‘n fees soos Innibos kom nie as ‘n verrassing nie. Hul handelsmerk resoneer met mense wat hou van avontuur, kwaliteit en standvastigheid. Mnr Leon Theron, Senior Vise-president  Bemarking by Toyota  Suid Aftika sê,  “Met ’n trotse erfenis van meer as 60 jaar in Suid-Afrika, het Toyota ’n integrale deel van vele gesinne se reis geword. As ’n familiegerigte handelsmerk is ons opgewonde om die hoofborg van die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees te wees. Deur Innibos te ondersteun, wil ons ’n  betekenisvolle bydrae lewer tot die kulturele lewenskrag en ekonomiese vooruitgang van die Laeveld. Net soos Innibos, verstaan en waardeer ons die krag van gemeenskap en die blywende impak daarvan. Ons sien uit daarna om hierdie jaar lekker saam met feesgangers te kuier en fees te vier!” Innibos is ‘n belangrike ekonomiese dryfkrag vir die Laeveld en omliggende gebiede. Die fees bring nie net kunstenaars en feesgangers bymekaar nie, maar ook entrepreneurs, plaaslike besighede en toerisme met ’n jaarlikse ekonomiese impak van bykans 80 miljoen Rand op die plaaslike ekonomie.  Innibos glo in die bou van sterk verhoudings met sy belanghebbendes en vennote. “Elke borg is vir ons baie belangrik. Ons verstaan dat ‘n fees van hierdie omvang net moontlik is met die ondersteuning van maatskappye wat glo in wat ons doen,” sê Lubbe. “Toyota is een van daardie maatskappye, en ons sien uit daarna om saam ‘n fees aan te bied wat ons kulturele rykdom vier.” Met hierdie vennootskap word een ding duidelik: Dis nie net ‘n bakkie nie, dis ‘n Hilux. Dis nie net ‘n fees nie, dis Innibos!

Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees kondig nuwe hoofborg aan Read More »

ʼn LEKKER produksieprogram nou beskikbaar – Kaartjieverkope open 28 April!

ʼn LEKKER produksieprogram nou beskikbaar – Kaartjieverkope open 28 April! Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees keer terug na Mbombela van 3 – 6 Julie 2025 en hierdie jaar beloof dit om groter, ryker en LEKKerder as ooit te wees! Vir vier dae word die Laeveld ʼn bruisende sentrum van musiek, drama, komedie en kultuur – ʼn fees waar harte lag, trane rol en stories gedeel word. “Die Produksieprogram is nou beskikbaar op Innibos se webwerf, so maak gereed, dat as kaartjieverkope open op 28 April, jy so reg soos reën is om kaartjies te bespreek,” sê Philna Scholtz, die fees se programbestuurder. Toneelstukke wat harte gaan raak Van kragtige dramas tot lagwekkende komedies, Innibos 2025 bied ʼn verhoogprogram propvol talent en treffende produksies. “Speelgoed van Glas”, ʼn nuwe vertaling van Tennessee Williams se The Glass Menagerie, beloof om gehore te roer met sy fyn verweefde temas van verlange, liefde en verlies. Met ʼn sterbelaaide rolverdeling, insluitend Anna-Mart van der Merwe en Carla Smith, en bekroon by Woordtrofees vir Beste Toneelstuk, is hierdie produksie ʼn móét-sien. “Op die ligter noot bring “Kry vir jou ’n tux, Thomas”, ʼn spiksplinternuwe komedie, ʼn komiese én hartroerende verhaal na die verhoog, met Marion Holm en Dean-John Smith wat vir hope gelag, nostalgie én trane gaan sorg,” sê sy. “Vir diegene wat hou van ʼn verhaal met historiese en persoonlike diepte, bied “Seun”, gebaseer op Dana Snyman se ervarings, ʼn introspektiewe reis deur die 1980’s en die vrae wat daardie era ontlok het Komedie wat die lagspiere gaan toets Kampavonture loop heel dik in die humoristiese “Geagte Kampeerders”, waarin Wynand van Vollenstee ʼn tipiese Desember-kamp op ’n komiese wyse tot lewe bring. “Moord met ’n T”, met die immergewilde Tobie Cronje, bied ʼn moordraaisel met hope humor – en ʼn tikkie spanning! Philna brei ook uit op ander tonele. “Vir dié wat ʼn eg Suid-Afrikaanse karakter wil beleef: “Ouma is op pad”, met Margit Meyer-Rödenbeck, beloof ʼn humoristiese blik op hoe ʼn boervrou haar plek in ʼn moderne wêreld moet vind.” Musiek wat die siel voed Sy sê musiek bly ʼn onmisbare deel van die ervaring. “Hierdie jaar bring die fees ʼn pragtige sameloop van klassieke en kontemporêre musiek. “Opera-Tango”, met die betowerende Zanne Stapelberg en Albie van Schalkwyk, neem gehore op ʼn reis van vurige Spaanse Zarzuela’s tot klassieke operaklanke.” “Vir ʼn nostalgiese viering van Afrikaanse musiek, eer “Gé Sing – Hoor my lied” die ikoniese Gé Korsten, met kunstenaars soos André Schwartz en Louis Loock wat sy tydlose treffers in ʼn nuwe lig bring. En natuurlik, vir die manne wat hou van ʼn bietjie rock en roll: “Die beste band in die wêreld ooit, ek sweer!”, waar Ricus de Beer en Ryno Velvet sorg vir ʼn jol soos geen ander nie!” Kaartjieverkope open op 28 April! Maak seker jou kalender is gemerk, want kaartjies is te koop vanaf 28 April 2025! Met produksies wat reeds uitverkoop was by vorige feeste, moet jy vinnig spring om jou plek te verseker. Innibos 2025 is ʼn viering van storievertelling in al sy vorme – musiek, drama, komedie en kultuur – en ʼn geleentheid om jou siel te voed en jou lagspiere te oefen. Berei jou voor vir ʼn kunsfees wat jou hart gaan raak, jou verbeelding gaan prikkel en jou deel gaan maak van iets besonders.

ʼn LEKKER produksieprogram nou beskikbaar – Kaartjieverkope open 28 April! Read More »

Laat waai met lekker klanke in die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin – een van vier kuierverhoë op die feesterrein

Laat waai met lekker klanke in die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin – een van vier kuierverhoë op die feesterrein Behalwe vir al die lekkernisse op die feesterrein en die skouspelagtige konserte op die Toyota-Hoofverhoog, wag daar nog ’n magdom ander ervarings en intieme musiekmomente op jou by Innibos – en ingesluit by jou kaartjieprys, kan jy ’n rits ander kunstenaars en gebeurtenisse ervaar, gratis en verniet! Van diep lirieke tot vrolike kuiermusiek, spog Innibos met vier unieke kuierverhoë, elk met sy eie atmosfeer en karakter. Een van die gewildste kuierplekke is die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin. Innibos se Everest Wealth Wingerd Kuiertuin is die perfekte kuierplek vir moeë bene en vrolike harte –  ’n oase van lekkerte waar musiek en smake mekaar ontmoet. Tydens ’n dag vol inkopies, feesterrein-verkenning en kultuurbederf, is dit hiér waar jy kan uitspan, ontspan en lekker saam sing! Donderdag skop die kuiertuin op ’n lekker noot af met die betowerende klanke van Bianca Blanc en Wanda Zonke. Smul aan ’n kaasbord saam met Chef Tiaan en SPAR, terwyl plaaslike kunstenaar, Natascha C en haar begeleier Henry-John Williams, se sang en klavierspel die lug vul. Len Muller bring sy sielvolle snitte en as jy ’n fynproewer is, moenie die olie-proe saam met Marinda Engelbrecht en SPAR misloop nie! Vrydag se line-up beloof nóg lekkerness met die talentvolle Thapelo Lekoane en Len Muller wat weer die verhoog betree. Maak jou smaakknoppies wakker met Pasta onder die soeklig met Chef Tiaan en SPAR en geniet die musiek van Meisie en Jack & June. Die geur van kos en klank meng perfek wanneer Marinda Engelbrecht jou wys hoe om geure in jou disse te sit – want by Innibos is dit nie net musiek wat jou siel voed nie! Saterdag bring die groot laaste kuier, en dis ’n fees van musiek, smaak en pure lekkergeit! Volgens Sandra Jacobs, direkteur van die fees, sorg Len Muller en Thapelo Lekoane vir musikale hoogtepunte, terwyl jy kan leer hoe om die perfekte braaibroodjie te pak saam met Chef Tiaan, Rian van Heerden en SPAR. “Dan is dit tyd vir ʼn bietjie Damian Beer en Bianca Blanc, voordat die laaste proe-ervaring jou smaaklik verras, want of jy huil van lekker-lag, of ’n aan-die-brand-mond, gaan jy ’n sousie saam met Marinda Engelbrecht, Janey & Waney en SPAR proe.” En om dinge behoorlik af te sluit, bring Werner van der Hoven sy klanke om jou Innibos-herinneringe nog so ’n rukkie langer te laat speel. Sandra sê dit so mooi: “Innibos is ’n fees van klank, geur en samesyn – en die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin bring dit alles bymekaar op ’n manier wat net Innibos kan.” So trek jou skoene uit, skink ’n glasie, en kom ervaar die lekker van Innibos op sy beste in die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin!

Laat waai met lekker klanke in die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin – een van vier kuierverhoë op die feesterrein Read More »

‘n Magiese Feeservaring by die Laevelder Boma-kuierteater

‘n Magiese Feeservaring by die Laevelder Boma-kuierteater Elke jaar, wanneer die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees sy deure oopmaak, kom mense van oraloor om die unieke atmosfeer, musiek en kuns te beleef, want dis nie net ’n fees nie, dis Innibos. En diep, binne die hart van die feesterrein, waar lag eggo en stories tot lewe kom, lê ‘n besonderse juweel: die Laevelder Boma-kuierteater. Hier word teater en geselskap vermeng met ‘n tikkie magie en ‘n groot skeut humor en dit is alles gratis vir feesgangers! Dit is ’n plek waar jy kan lag tot jou maag seer is, waar jy kan luister na verhale wat jou siel roer, en waar jy deel kan wees van gesprekke wat saak maak. Hier is waarna jy kan uitsien: Ek vra ook maar net? Met Wynand van Vollenstee Datum en tyd: Do 3 Jul 13:00; Vr 4 Jul 16:00; Sa 5 Jul 14:00 Wynand van Vollenstee sit met ’n ondeunde glimlag en ’n twinkeling in sy oog. “Ek vra ook maar net,” sê hy, en die gehoor lag al klaar. Wie is “hulle”? Hoekom is daar veiligheidsgordels in vliegtuie? Wie het besluit dat dieretuine ‘n goeie idee is? En belangriker nog – hoekom ry ons karre vinniger as die spoedgrens? Wynand se vertoning is ’n lawwe, maar slim satiriese reis deur die vrae wat ons almal soms pla, met komiese gevolge. Sosiale media ster en magician! Met Wian van den Berg Datum en tyd: Do 3 Jul 15:00; Vr 4 Jul 14:00; Sa 5 Jul 15:00 Wian van den Berg, die internet-sensasie met 25 miljoen volgelinge, die meeste sosiale media volgelinge in die land, kyk jou reg in die oë en hoewel jou oë hóm ook nie verlaat nie, slaan sy kulkunsies jou stom. Hy het al groot name soos die Springbokke en selfs Mr. Beast met sy magic tricks verblind. Nou is dit Innibos se beurt om betower te word. Sy illusies laat jou twee keer kyk, en sy humor maak dat jy in verwondering lag. Hannon (HANNONS) – Beauty for you Met Hannon Bothma en Christine Steynberg Datum en tyd: Do 3 Jul 16:00; Vr 4 Jul 12:00; Sa 5 Jul 13:00 Soms is styl net so belangrik soos ’n goeie grap – en Hannon Bothma en Christine Steynberg weet dit. Hannon, die Glam Guru, neem ’n spieël en wys hoe jy met ’n paar eenvoudige truuks jouself kan transformeer – maar hy doen dit met soveel humor dat jy nie help om te lag nie. Dit is moeilik om objektief na jouself in die spieël te kyk en ander nie te oordeel as haar lipstiffie té pienk of haar hare té rooi is nie. Die Glam Guru ken al die antwoorde wat hare, grimering en velsorg betref. Of jou hare soggens varsgespyker moet lyk of orkaanbestand moet bly teen die aanslae van die lewe, is Hannon die man met die goue hande en die kunstige tong. Hierdie dinamiese duo gee nie net wenke oor grimering en voorkoms nie – hulle bring ’n show wat jou gaan laat skaterlag én skitter. Internet Sensasie Met Mel die Storieverteller Datum en tyd: Do 3 Jul 12:00; Vr 4 Jul 15:00; Sa 5 Jul 16:00 Daar is min mense wat stories so kan vertel soos Mel die Storieverteller. Sy weet hoe om ’n gehoor vasgenael te hou – of dit nou met ’n grap oor katte of ’n skerpsinnige opmerking oor sosiale media is. Sy beskryf die internet as ’n oerwoud vol ywerige flaminke en ontaktlose (sw)ape – en jy kan nie help om jouself daarin te herken nie. Hierdie vertoning beloof lag, insig en dalk ‘n paar danspassies! Kom geniet ’n reis van vars, oorsponklike en vrek snaakse oomblikke. Afrimat Openbare Gespreksreeks saam met Theo Venter Fasiliteerders: Theo Venter, Kabous Meiring en Lourensa Eckard Datum en tyd: Do 3 Jul 11:00; Vr 4 Jul 11:00; Sa 5 Jul 11:00 Nie alles by die Laevelder Boma-Kuierteater gaan net oor lag nie – soms moet ons ook ’n oomblik neem om die wêreld om ons te verstaan. Theo Venter, Kabous Meiring en Lourensa Eckard bring gesoute kundiges saam om die warmste onderwerpe van ons tyd te bespreek. Is daar hoop vir ons ekonomie? Wat gebeur met Trump en ons regering? En hoe kan ons weet of wat ons lees en sien regtig waar is? Kom luister na kenners en neem deel aan Afrimat se aktualiteisgesprekke. Brandpunt-sake rakende die ekonomie, gemeenskap, politiek en die land gaan onder die loep kom. Kom word wys, lug jou mening en gesels saam. Donderdag: ‘n Uitgestelde begroting en lae ekonomiese groei. Hoe nou gemaak? Met Kabous Meiring, Dawie Roodt, Waldo Krugel. Vrydag: Kan daar sin gemaak word uit Trump en die Regering van Nasionale Eenheid? Met Lourensa Eckard, Roland Henwood, Prince Mashele en Theo Venter. Saterdag: Kan ‘n mens glo wat ons lees en kyk? Die era van valsnuus en sosiale media. Met Theo Venter, De Wet Boshoff, Gert van der Westhuizen en Lourensa Eckard. ATKV- Storievuur Met Ricus Nel, Jak de Priester, Boet Pretorius en Innibos feesbestuurder, Andy Lubbe Datum en tyd: Vr 4 Jul 17:00 As jy ooit gewonder het watter stories agter ons gunsteling musiek lê, dan is die ATKV-Storievuur net vir jou. Boet Pretorius, Ricus Nel en Andy Lubbe deel stories van die musiekbedryf soos jy dit nog nooit gehoor het nie – van onvertelde staaltjies tot die onverwagte oomblikke wanneer liedjies gebore word. ’n Bietjie musiek, ’n bietjie nostalgie, en ’n groot klomp humor maak hierdie eenmalige vertoning op 4 Julie om 17:00 ’n moet-sien-produksie! Hier is voorwaar ’n lekker feeservaring soos geen ander! Hierdie jaar se program beloof om een van die beste nóg te wees – en jy is hartlik uitgenooi om saam te kom kuier! Ekstra lekkerness teen géén ekstra koste!

‘n Magiese Feeservaring by die Laevelder Boma-kuierteater Read More »

INNIBOS drup van EKSTRA LEKKERNESS teen GEEN ekstra kostes op vier EKSTRA kuierplekke!

‘n Magiese Feeservaring by die Laevelder Boma-kuierteater Innibos trek vanjaar ’n splinternuwe, funky baadjie aan om feesgangers nóg meer waarde vir hul geld te gee. Van musiek en kos tot vermaak en verrassings – daar is oral op die feesterrein iets ekstra om jou dag nog lekkerder te maak! Vier verskillende kuierplekke bied boonop gratis lekkerness aan – die kykNET-verhoog, Everest Wealth Kuiertuin by die Wingerd Kuiertuin, die Arena-verhoog en die Laevelder Boma Kuierteater. Hier wag hope vermaak, topkunstenaars en ’n bederf van musiek, kos en lag op jou – alles sonder ekstra koste! As deel van Innibos se 21ste verjaarsdagviering bly kaartjiepryse dieselfde as verlede jaar! Dit beteken jy kry nog meer waarde vir jou geld, veral as inflasie in gedagte gehou word. Die enigste inflasie wat jy by Innibos gaan beleef, is die inflasie van ekstra lekkerness wat op jou wag! Maak seker jy kry jou kaartjies vroegtydig en kom geniet die grootste fees van die jaar. kykNET Country: Stewel vas en Gereed en maak gereed om jou biscuit te skud! Maak seker jy is gestewel en gespoor op Saterdag, 5 Julie 2025, vir die eerste kykNET Country-konsert op die feesterrein. Vanaf 16:00 gaan die kykNET-verhoog brul met die klanke van top country-kunstenaars soos Cordelia, Skemer, Franja du Plessis, Ruan Josh en Chris Else. Sit jou cowboyhoed op en kom skud jou biscuit! Kuierverhoë – Bekendes en vars talente! Of jy nou ’n aanhanger van gevestigde kunstenaars is of nuwe stemme wil ontdek, die kuierverhoë is waar dit gebeur! Vars talent wat die land aan die praat het, sluit in: ONS, Fran Prins en Tamlyn Wessels – hulle bring ’n nuwe klank vol energie en siel. Bekendes wat hul slag gaan wys: Prop, Marno van der Merwe, Janie Bay en Jakkie Louw gaan sorg vir tye wat jy nie wil misloop nie. Die Laevelder Boma-kuierteater bied iets vir almal se smaak! Hiér word feesgangers kuier-kuier aan teater en ander kunsvorme blootgestel. Die Laevelder Boma-kuierteater op die feesterrein bied stukkies teater uit die boonste rakke aan.  Kom geniet kort eenmanvertonings, toneelproduksies en interessante onderhoude. Alle vertonings by die Laevelder Boma-kuierteater is gratis (ingesluit by die hektoegang). Feesgangers kan uitsien na bekendes soos  Wynand van Vollenstee, Wian van den Berg, Hannon (HANNONS) – Beauty for you, Mel die Storieverteller, Matie van Graan, ATKV- Storievuur met Ricus Nel, Boet Pretorius en Innibos feesbestuurder, Andy Lubbe en nog ure se lekker saamskater, kuier en gesels. Everest Wealth-verhoog by die Wingerd Kuiertuin – Fynproewer se Paradys! Vir diegene met ’n fyn smaak vir goeie kos en wyn, is die Wingerd Kuiertuin die plek om te wees. Hier gaan jy nie net smul aan die lekkerste disse nie, maar ook waardevolle kookwenke opdoen: Chef Tiaan wys jou hoe om die perfekte kaasbord te pak en hoe om ’n braaibroodjie meesterlik te maak. Marinda Engelbrecht deel haar geheime oor hoe geur, olie en souse jou disse na ’n volgende vlak neem. Geniet die klanke van Bianca Blanc, Damian Beer, Len Muller en plaaslike sterre soos Thapelo Lekoane, Meisie en Wanda Zonke. Dis kos, wyn en musiek van uitstaande gehalte – pure lekkerness. Meer as net musiek – kom lag jou slap! Innibos bring vanjaar nog meer vermaak op die kuierverhoë – musiek is nie al wat jou gaan laat glimlag nie! André die Skreeusnaakse Hipnotiseur – Hou jou dop, eerder Wees bedag, want jy mag dalk net gehipnotiseer word! Hy meng komedie, drama en hipnose vir ’n skaterlag-ervaring sonder gelyke.  Lag jou slap met Bibi – Daai Girl – Elke dag is daar ’n halfuur van pure komiese genot, waar Bibi met haar snaakse karakters en komediesketse die lagspiere gaan prikkel. Of jy nou vir die musiek, kos, wyn, komedie of net die lekker atmosfeer kom – Innibos 2025 bied iets spesiaals vir elke feesganger. Pak jou hoed, trek jou boots aan en kom geniet die lekkerste fees van die jaar!

INNIBOS drup van EKSTRA LEKKERNESS teen GEEN ekstra kostes op vier EKSTRA kuierplekke! Read More »

Kuiertafels en Bespreekte Stoele – Hoe werk dit?

Kuiertafels en Bespreekte Stoele – Hoe werk dit? Innibos is weer hier – en met die LEKKER-konsep wat vir die tweede jaar in werking tree, gaan dit net nóg beter wees! Hierdie LEKKER (en unieke) kuiertafel en bespreekte stoel-uitleg bring jou nader aan die kunstenaars, en jy kan saam met jou beste pelle of familie uitspan (daai vir wie jy lief is en saam met wie jy WIL kuier) uitspan, en saam die beste musiek geniet – sonder die gesukkel van kampstoele rondsleep of te wonder waar om jou drankie te sit. Wil jy in styl kuier? Hier’s hoe: KUIERTAFELS (6 mense per tafel) Spesiale area by die Hoofverhoog  Toegang tot ‘n eksklusiewe kroeg en privaat badkamers Rookvrye sone vir ‘n gemaklike ervaring Pryse per tafel (sluit NIE feesterrein hektoegang in NIE): Donderdag: Uitverkoop Vrydag: Uitverkoop Saterdag: Uitverkoop BESPREEKTE STOELE 4 stoele per ry – dan hoef jy nie jou eie stoel rond te karwy nie!Pryse per stoel (sluit NIE hektoegang in nie): Donderdag: R110 Vrydag: R150 Saterdag: R210 Onthou:Kinders tot en met 12 jaar betaal nie feesterrein toegang nie, maar kinders ouer as 2 jaar benodig ‘n Kuiertafel- of Bespreekte Stoel-kaartjie. Bespreek jou feesterreinkaartjies, kuiertafel of bespreekte stoel op TicketPro vanaf:Tjirp nuusbrieflesers (Early Birders): 26 FebruarieAlle ander feesgangers: 28 Februarie Maak gereed vir dans en onvergeetlike herrinngering as jy SOMS sit! https://youtube.com/shorts/ATPo6PPX2fM?feature=share

Kuiertafels en Bespreekte Stoele – Hoe werk dit? Read More »

Innibos hoofverhoog kunstenaarbekendstelling Dis GROOT, dis LOUD, dis LEKKER!

Innibos hoofverhoog kunstenaarbekendstelling Dis GROOT, dis LOUD, dis LEKKER! Maak reg vir ’n Innibosfees só lekker, selfs jou groottoon gaan ’n sokkie wil gooi! Innibos 2025 is hier om jou te laat bons, skree, skater en saamsing tot jou stembande ingee! Drie aande van pure musiekmagic wag op jou en as jy dit mis, gaan jy jouself vir ewig daaroor byt. Dis aksie, dis energie, en dis net LEKKERNESS! Bring jou pelle, hope gees en jou beste dansskoene – dié een is nie vir flou mense nie! Hierdie jaar is ekstra spesiaal, want ons vier ’n eeu van die Afrikaanse taal en ons hart klop warm vir dié mylpaal! Daarby vier ons Innibos se 21ste verjaarsdag – ons fees is mondig! En asof dit nie genoeg is nie, vereer ons ’n ware ikoon van Afrikaanse musiek: Kurt Darren, vir sy groot impak op die musiekbedryf. Drie massiewe redes om hierdie grootste Innibos nóg saam met ons te kom vier! Lekkerness tot die mag drie! En dis net HIER waar Innibos jou stukkend bederf: ons hou die kaartjiepryse presies dieselfde as verlede jaar. Geen verhogings, geen ekstra sente tel, net LEKKERTE. Wat is ’n fees sonder ’n behoorlike afskop? Die Huisgenoot Afskopkonsert op Donderdag, 3 Julie 2025 is hier om die partytjie aan die gang te sit met ’n moewiese lekke-lineup. Van die hoogtepunte sluit in: Appel, Chris Steyn, Droomsindroom, Eloff, Francois van Coke, Jay, Karlien van Jaarsveld en Lianie May – en saam daarmee, dalk ’n verrassing of twee. Die energieke Hamilton Wessels sal as seremoniemeester die skare aanhits en verseker dat die aand ’n onvergeetlike een is. Hierdie konsert begin om 18:00 en word geborg deur Huisgenoot. Toegang beloop R210 per persoon. Maak jou keel nat, want die partytjiekoors begin HÍÉR! Daar’s net een manier om Vrydag, 4 Julie, reg te begin. En dis met die Jacaranda FM Konsert waar ’n solid klomp musieksterre die verhoog aan die brand gaan sing! Hoogtepunte sluit in: Bernice West, Bok van Blerk, Danny Smoke, Die Heuwels Fantasties, Martin Bester, Robbie Wessels en Ruhan du Toit. Hierdie sangers saam met so ’n paar ander, gaan sorg vir ’n musikale ervaring soos min. Hierdie konsert, wat om 18:00 begin, word geborg deur Jacaranda FM en toegang kos R260. Dis ’n Vrydag wat gaan hoog vlieg, so reageer op jou FOMO en kom! As jy nog voete oor het na Donderdag en Vrydag (respek!), is die kykNET Konsert op Saterdag, 5 Julie 2025 hier om jou finaal van jou voete af te laat dans! Corlea Botha, Demi Lee Moore, Die Piesangskille, Early B, Elvis Blue, Jo Black, Kurt Darren, Refentse, Ricus Nel, Snotkop, Van Pletzen en Zaan Sonnekus bring hul ongekende talent na die verhoog. Hier kan jy ook dalk nog ’n verrassing of twee verwag ter viering van Innibos se 21ste verjaarsdag! En omdat ons weet dat kultuur nie net in ons musiek lê nie, maar ook in die groen en goud, sê ons dankie aan kykNet wat dit moontlik maak dat die Springbokke se wedstryd teen Italië regstreeks op die groot skerm van die hoofverhoog uitgesaai gaan word!  Kom skree jou longe uit, vier elke drie, en spring direk daarna weer in jou dansskoene in – want hier by Innibos vier ons AL die lekker goed in die lewe! Na afloop van die rugby begin die konsert om 19:00. Toegang beloop R310. Dis ’n Saturday Night Fever soos nog nooit tevore nie! Dis ’n steel vir soveel LEKKERNESS! Wenk: Kry eerder ’n weekkaartjie vir slegs R660. Seniors bo 60 betaal slegs R160 per dag – vir enige dag, terwyl kinders onder 12 heeltemal gratis toegang kry. Parkering kos R200 per dag, en as jy in ’n groep van meer as 21 mense bespreek (ja, want ons word 21) kry julle gratis busparkering! Wil jy ’n VIP wees en op ’n spesiale plek sit vir hierdie spesiale okkasie? Geen probleem! Hierdie jaar bring ons ’n heel nuwe uitleg vir die fees! Die kuiertafels en bespreekte sitplekke is reg teen die verhoog se ramp af – ’n eerste vir Innibos!  Jy gaan dus nader aan die aksie wees as ooit tevore. Kuiertafels vir ses mense is beskikbaar teen R660 op Donderdag, R960 op Vrydag en R1 260 op Saterdag – dit sluit egter nie hektoegang in nie. As jy ’n bespreekte sitplek verkies, is dit R110 vir Donderdag, R150 vir Vrydag en R210 vir Saterdag. Kaartjies te koop vanaf 28 Februarie op Ticketpro! Tjirp nuusbrief lesers geniet Early Bird aanbiedinge om al vanaf 26 Februarie feeskaartjies en kuiertafels te koop. Nog nie ’n Tjirplid nie? Teken in op ons webtuiste om vir vooraf kaartjies te kan koop. Moenie slaap nie – hierdie een gaan vinnig uitverkoop!  Dis meer as net ’n fees – dis ’n belewenis. Bring jou pelle, pak jou feesgees en wees net lekke. En as dít nie waarde vir geld is nie, weet ons nie wat is nie! Innibos 2025: Waar lekkerness ’n nuwe betekenis kry!

Innibos hoofverhoog kunstenaarbekendstelling Dis GROOT, dis LOUD, dis LEKKER! Read More »

Skoolkreet Kompetisie: Wen Groot met Kurt Darren!

Hier’s ’n kans vir jou skool om R10,000 te wen! Ons nooi alle skole uit om deel te neem aan ons spesiale skoolkreet-kompetisie ter viering van Kurt Darren. (Innibos vereer vanjaar hierdie kunstenaar vir sy groot bydrae  tot Afrikaanse kontemporêre musiek). Dit is tyd om die gees hoog te hou en die lekkerste vibes na vore te bring! Wat moet julle doen? Kry ’n groep, of die hele skool – onderwysers, leerders en personeel – en neem ’n video waar julle in die saal of op die pawiljoen sing en dans op HOP HOP SPINNEKOP of enige ander Kurt Darren-treffer. Hoe groter die gees, hoe beter julle kans om te wen! Reëls en Reëlings vir die Kompetisie: Maak seker julle video sluit die volgende in: Die woorde: Innibos 3 tot 6 Julie in Nelspruit. LEKKERRRRRRRRRRRR! (dit moet verkieslik verbaal oorgedra word op ’n kreatiewe manier) ’n Baie duidelike vertoning van almal wat deelneem – hoe meer, hoe beter! Die video moet in portrait formaat geneem word (met foon regop gehou) Stuur asseblief jou inskrywingsvorm na naranda@innibos.co.za en plaas jul video op julle sosiale media platforms.  Collab asseblief met Innibos sodat ons kan seker maak dit is op jul skool en Innibos se blad. Klik hier om te sien hoe om te Collab Alle video’s moet voor 30 Maart op sosiale media wees, en jou inskrywing moet ook teen dié datum ingedien wees om vir die prys in aanmerking te kom. Ons gaan ’n publieke stem hou vanaf 30 Maart tot 7 April, waarna Innibos met ’n onafhanklike paneel die finale stem sal doen en die wenners sal aankondig. Wenners word op 11 April op ons sosiale media platforms en in die media aangekondig. So, bring julle skool se grootste gees en dalk is julle die gelukkige wenners van hierdie LEKKER prys! Dié wat Innibos al vantevore beleef het, weet dat dit ’n fees is wat telkens verras, en 2025 gaan beslis geen uitsondering wees nie. Maak seker jy mis dit nie: Innibos vind vanaf 3 tot 6 Julie plaas. Ons is besig om ’n nuwe hoofstuk te skryf – en jy is deel van die storie! Skoolkreet Kompetisie: Wen Groot met Kurt Darren! Skool Naam/School Name Provinsie/Province MpumalangaGautengLimpopoNoordwesWes-KaapNoord-KaapOos-KaapKwaZulu-NatalVrystaat Dorp/Town Orgiseerder Naam en Van/Organizer Name and Surname Kontaknommer/ Contact Number E-pos/Email Video voor of op 3 Maart 2025 op jul sosiale media geplaas en ge-“collab” met Innibos? BELANGRIK: Stuur ook video apart na naranda@innibos.co.za VIR NAVRAE, skakel Naranda by 072 447 5968 Klik hier om te sien hoe om te Collab

Skoolkreet Kompetisie: Wen Groot met Kurt Darren! Read More »

Innibos Span 2025

Span slaan nuwe blaadjie om

Span slaan nuwe blaadjie om Dieselfde lekker feesresep – net nóg lekkerder! Daar is groot opgewondenheid hier by Innibos, want ons beplan  sommer  heelwat opwindende veranderinge en nuwighede vir vanjaar se fees!  Met ons gedugte span aan stuur van sake, Andy Lubbe, Sandra Jacobs, Philna Scholtz, Adelene Niehaus, Pippa Botha, Alison Linde, en ons jongste nuwe lid, Naranda Leeuwner, werk ons hard daaraan om te verseker  dat vanjaar se Innibos jou voete onder jou gaan uitslaan! Innibos was nog altyd meer as net ’n musiekfees – dit is ‘n ervaring, ’n bymekaarkomplek van mense met ’n liefde vir musiek,  kos, kuns, lees, toneel en die onmiskenbare samesyn wat die fees so uniek maak. Met ’n splinternuwe uitleg vir die stalletjie-area en verhoogruimtes, ’n meer interaktiewe hoofverhoog met meer kuiertafels, veldlosies en bespreekte stoele tot teenaan die aksie, en opwindende aanbiedings regoor die feesterrein, is hierdie Innibos soos jy dit nog nooit beleef het nie. Voeg hierby van die land se top kunstenaars, en jy kan seker wees: daar wag lekkerness in oortreffende trap vir jou. Dié wat Innibos al vantevore beleef het, weet dat dit ’n fees is wat telkens verras, en 2025 gaan beslis geen uitsondering wees nie.  Die fees vind vanaf 3 tot 6 Julie in Nelspruit plaas. Tjirp-lede kan reeds op 26 Februarie kaartjies vir die feesdterrein, kuiertafels en bespreekte sitplekke koop. As jy nog nie ’n Tjirper is njie, klik hier om nou in te teken en al die Innibos nuus eerste te ontvang.

Span slaan nuwe blaadjie om Read More »

Scroll to Top