Innibos

Projekte

Die Impak van die Innibos Opvoedkundige Trust in die Laeveld

Die Innibos Opvoedkundige Trust is ’n kern-maatskaplike ontwikkelingsinisiatief van die Innibos Nasionale Kunstefees, wat daarop gemik is om toegang tot gehalte-onderrig vir talentvolle, maar minderbevoorregte leerders uit die groter Mbombela-gebied moontlik te maak. Die Trust voorsien beurse aan hoërskoolleerders om goedgekeurde hoërskole in die Laeveld  by te woon. Hierdie beurse dek skool- en koshuisgelde, wat leerders in staat stel om hul volle aandag aan hul akademiese en persoonlike ontwikkeling te gee binne ’n ondersteunende en gestruktureerde omgewing. Benewens finansiële ondersteuning ontvang begunstigdes ook mentorskap en deurlopende begeleiding om hul volle potensiaal te ontwikkel.Die projek is tans in sy agtste jaar en het reeds ’n tasbare impak gemaak. Tot dusver is 58 beurse toegeken aan leerders wat akademiese vordering, leierskap en persoonlike groei toon. Die Trust bly toegewy aan langtermyn-belegging in jong mense en glo vas dat onderrig een van die kragtigste middele is om lewens te verander en volhoubare toekomsgeleenthede te skep. Jetro Nkuna, een van die Trust se begunstigdes, was in 2023 sy skool se koshuishoofseun en het uitmuntend presteer.

Die Impak van die Innibos Opvoedkundige Trust in die Laeveld Read More »

Innibos vat hande met VIBE om die volgende generasie kunstenaars te inspireer

Innibos vat hande met VIBE om die volgende generasie kunstenaars te inspireer MBOMBELA (NELSPRUIT) – Die Innibos Nasionale Kunstefees, tans een van die grootste en mees gewilde Afrikaanse kunstefeeste in Suid-Afrika, brei sy verbintenis tot jeugontwikkeling uit met die aankondiging van VIBE Innibos, ‘n Jeugkunstesimposium en -ekspo, wat van 29 Junie tot 1 Julie 2026 in Nelspruit plaasvind. Met dié samewerking wil Innibos en VIBE ‘n nuwe era van kreatiewe ontwikkeling inlui – ‘n intensiewe driedaagse ervaring wat jong mense prakties toerus, inspireer en blootstel aan die eindelose moontlikhede wat die kunste bied. Die projek is spesifiek ontwerp vir leerlinge van graad 7 tot graad 12, en skole regoor die land word hartlik uitgenooi om hul leerlinge aan te moedig om deel te neem aan hierdie unieke ervaring. Volgens Steven Schamrel, projekbestuurder van VIBE Innibos, lê daar groot waarde daarin om jong mense weer in aanraking te bring met die outentieke, lewende kunste: “Ons leef in ‘n wêreld waar jong mense toenemend net aan digitale inhoud blootgestel word. As ons wil hê feeste soos Innibos moet voortleef en groei, moet ons die volgende generasie se belangstelling in teater, musiek en visuele kuns aktief aanwakker. VIBE Innibos is ons manier om hierdie vonk aan die brand te steek, om leerlinge te inspireer, te bemagtig en hulle te wys dat die kunste ‘n volhoubare, betekenisvolle loopbaan kan bied.” VIBE Innibos is ‘n kreatiewe spilpunt waar leerlinge die kans kry om hul talente te ontwikkel deur werkswinkels by te woon en teaterervarings en persoonlike blootstelling aan professionele kunstenaars te kry.   Elke deelnemer sal ses dinamiese werkswinkels bywoon en kan fokus op een van vier sleutelrigtings: Teater, Visuele Kuns, Musiek of Dans. Hierdie sessies word deur kundiges in hul onderskeie velde aangebied – van gevestigde feeskunstenaars tot professionele onderwysers en universiteitsdosente. Benewens die werkswinkels sal leerlinge drie professionele teaterproduksies bywoon – ‘n ervaring wat nie net hul begrip van verhoogkuns verdiep nie, maar ook hul waardering vir die dissipline, samewerking en kreatiwiteit wat aan die kern van uitvoerende kunste lê, versterk. Die ekspo-element van die program stel leerders verder bloot aan moontlike loopbaanrigtings, tersiêre instellings, professionele liggame en kompetisies wat die verskillende kunsdissiplines bevorder. Schamrel beklemtoon dat hierdie projek deel vorm van ‘n groter visie vir die fees en vir die Suid-Afrikaanse kunste-ekosisteem: “Innibos het nog altyd geglo dat die kunste ‘n brug tussen mense, generasies, kulture en die gemeenskap is. Met VIBE Innibos neem ons daardie missie verder. Ons wil nie net talent ontdek nie, maar ‘n blywende liefde vir die kunste in jong mense kweek. Dis die gehore, kunstenaars en denkers van môre wat vandag nog in die klaskamer sit.” Die Innibos Jeugontwikkelingsweek, VIBE Innibos, is meer as net ’n opleidingsprogram. Dit is ‘n beweging om jong talent op ‘n nasionale vlak te ondersteun en ontwikkel. Dit is ook ‘n ruimte waar onderwysers en ouers betrokke word om kunsonderrig te bevorder en die waarde van ‘n loopbaan in die kreatiewe bedryf beter te verstaan. Vir net R950 per leerder sluit die inskrywingsfooi toegang in tot die volledige driedaagse VIBE-program, alle werkswinkels, drie teaterproduksies én ‘n weekkaartjie vir die Innibos Kunstefees self. Hierdie aanbod maak dit moontlik vir jong mense om nie net te leer en te groei nie, maar ook deel te wees van die groter Innibos-feeservaring. “VIBE Innibos is nie ‘n eenmalige projek nie,” sluit Schamrel af. “Dit is die begin van iets groters – ‘n belegging in die toekoms van die kunste en in die jong mense wat daardie toekoms gaan vorm.” Vir hulp met etes en verblyfbesprekings kan skole of ouers ‘n e-pos stuur na akkommodasie@vibefees.co.za. Vir algemene navrae of deelnamebesonderhede, besoek www.innibos.co.za of stuur ‘n e-pos na info@vibefees.co.za. 

Innibos vat hande met VIBE om die volgende generasie kunstenaars te inspireer Read More »

Innibos-span gee terug aan Care for Wild

Innibos-span gee terug aan Care for Wild Die Innibos-span het onlangs die voorreg gehad om Care for Wild Rhino Sanctuary te besoek, ’n organisasie wat ongelooflike werk doen om ons renosters en natuurlike erfenis te beskerm. As deel van hul besoek het die span vellies en T-hemde aan die toegewyde Care for Wild-span oorhandig, as ’n gebaar van waardering en ondersteuning vir die belangrike werk wat hulle daagliks verrig. By Innibos lê dit diep in die bestuur se wese om terug te gee aan die gemeenskap en om onder andere groen, volhoubare projekte te ondersteun. Daarom was hierdie besoek ’n spesiale geleentheid om eer te betoon aan mense wat onbaatsugtig werk om ons natuur te beskerm. ’n Groot dankie ook aan die Ways of Walking Foundation, Mahindra Rise – The Charity Drives, Pink Loerie Foundation en HJB HandMade wat saam met Innibos hande gevat het in hierdie inisiatief. Hulle vrygewigheid en ondersteuning ten opsigte van die vellies is baie betekenisvol. Saam maak mens ’n groter impak! By Care for Wild het die Innibos-span eerstehands gesien hoe passie, toewyding en liefde die kern vorm van die organisasie se werk. Hierdie ontmoeting het die span diep geraak en beklemtoon dit hoe noodsaaklik dit is om betrokke te bly by projekte wat ons omgewing en gemeenskap versterk. Naranda Leeuwner, Bemarkingsbestuurder van Innibos, sê: “Die besoek het ’n blywende impak op ons gemaak en Care for Wild se goeie werk strek baie verder as net diere. Hulle ondersteun ook gemeenskappe in die omgewing en Innibos sien uit om hande te vat en daarop voort te bou.” Die Innibos-bestuurspanspan se besoek illustreer die fees se voortdurende fokus op gemeenskapsbetrokkenheid en omgewingsbewaring en dit is ’n voorreg om terug te ploeg in die gemeenskap.

Innibos-span gee terug aan Care for Wild Read More »

Scroll to Top