ATKV-Boeke-crawl
Do 3 Julie 15:00 en 17:00
Busse vertrek stiptelik vanaf NG Kerk Westergloed se parkeerterrein, Koraalboomstr. 36.
Met Susan Coetzer,Jack & June, Elvis Blue, Anna-Mart van der Merwe, Frazer en Deniel Barry en Johny Klein.
Die ATKV-Boeke-crawl is ʼn lekkerte vir elke feesganger wat hom verwonder oor die Afrikaanse taal wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar as amptelike taal vier. Kom luister na die krag van die woord, hetsy ʼn fragment uit ʼn roman, ʼn kortverhaal wat jou laat regop sit, ʼn trefseker gedig of ’n lied met ’n liriek wat jou aan die hart gryp. Feesgangers kry ʼn doppie-koppie met ʼn knertsie Van Loveren muskadel en ʼn serp om die ergste koue van die mistieke dorpie, Kaapsehoop, te besweer.
Daar is drie aandoenplekke waar daar rondom boeke, woorde en wysies gekuier gaan word. Die eerste aandoenplek is Bohemian Groove Café waar Susan Coetzer fragmente uit haar nuwe roman, Haas en Harriet gaan voordra terwyl die ongelooflike duo Jack & June die bypassende hoendervleismooi musiek gaan verskaf.
Die tweede aandoenplek is die kapel by Silver Mist Country Inn waar Anna-Mart van der Merwe tekste van letterkundiges gaan voorlees om die prag van die Afrikaanse taal te vier, terwyl Elvis Blue se sielvolle musiek die wonder en krag van liriek en melodie illustreer. Dan stap die feesgangers na Silver Mist Funksiesaal waar Afrikaanse humor onder die loep kom. Akteur Johny Klein gaan aan humoristiese juweeltjies uit die pen van onder andere Audrey Blignaut, André P Brink en Japie Coetzee gestalte gee terwyl die bekende Deniel en Frazer Barry deur hulle feestelike sang ‘n glimlag op feesgangers se gesigte gaan sit.
Die perfekte manier om die genotvolle aand mee af te sluit. Busse vertrek stiptelik vanaf NG Kerk Westergloed se parkeerterrein, Koraalboomstr. 36. Produksie moontlik gemaak deur die ATKV en ondersteun deur Bohemian Groove Cafè, Silver Mist-gastehuis, Van Loveren-wyne en Buscor. Met woorde, sinne, verse, verhale en musiek is die ATKV-Boeke-crawl ʼn unieke en eiesoortige woordreis wat beslis nie misgeloop moet word nie. Hongerpyne word afgeweer deur ligte verversings by die aandoenplekke. Bring ʼn warm jas, mus, kombers. Kaapsehoop is koud! Laataand keer die busse weer terug na Mbombela.
Produksie Inligting
Plek: Kaapsehoop
Tydsduur: 260 minute
Prys: R350 (ligte verversings en drinkgoed ingesluit)
Gradering: Volwassenes
Moontlik gemaak deur Long Tom Toboggan en Misty Mountain se bestuur.