Topskrywers kom gesels op Kaapsche Hoop by Toyota Innibos se Boekenaweek 2025
Marita van der Vyver is een van verskeie topskrywers wat haar jongste boek in die Laevel bekend stel tydens Toyota Innibos se Boekenaweek op Kaapsche Hoop. Dit word die naweek van 29 tot 31 Augustus gehou in die kapel by Silver Mist Gastehuis op dié dorpie naby Mbombela.
Marita sal gesels oor My jaar van vrees en vryheid oor haar en haar man Alain Claisse se “middeljarige gap-jaar” wat hul al swerwend deur die wêreld geneem het. Die gesprek is om 10:00 op Saterdag, 30 Augustus.
Die Boekenaweek skop Vrydag, 29 Augustus, om 15:00 af met ’n boek wat eweneens vars van die drukpers is. Dana Snyman, inwoner van Kaapsche Hoop se Wie de hel is Johnny Joubert? Notas van ’n rugbyliefhebber vertel van die goue draad wat rugby deur sy lewe verteenwoordig.
Debuutskrywer PJO Jonker wie se boek Onsigbaar heelwat belangstelling gewek en benoem is vir die Eugène Marais-debuutprys, gesels daarna met Susan Booyens. Luna Paige, sangeres, se vertoning sluit die dag af om 19:00.
Saterdag voer digkuns en aktuele sake die bo-toon, hoewel Donker Vuur, die jongste roman van Pieter Stoffberg, skrywer van Ermelo, die dag se program begin. Dan gesels Neil Cochrane van Unisa en Jo Prins, digter en boekredakteur van Netwerk24, oor die digbundel Merang. Ses digters van Mpumalanga se Words in my Mouth Poetry Slam gaan daarna laat waai met praat-digkuns.
Karen Schimke, bekroonde digter, vertaler en skepper van die Substack-nuusbrief Love Letter laat val die kollig op onder meer die migrering van skryfwerk en skrywers na digitale platforms.
De Kat-tydskrif se veertigste bestaansjaar word vanjaar herdenk, en Elzilda Becker, redakteur, gesels met De Wet Potgieter oor die ryk geskiedenis van dié ikoniese publikasie.
Die opspraakwekkende sluiting van Beeld verlede jaar kom onder die loep met die laaste redakteur van dié koerant, Barnard Beukman, se boek Die (vreemde) dood van ’n koerant. Dit sal die eerste bekendstelling landwyd wees. Foeta Krige, oud-omroeper en nuusman, gaan met Barnard gesels oor wat alles in die wandelgange en agter die skerms afgespeel het tydens die onverkwiklike einde van die dagblad.
Kaartjies is R200 vir al die boekgesprekke, of R30 per gesprek en kan van Vrydag, 29 Augsutus, by die deur gekoop word. Slegs kaarttransaksies.
Luna Paige se vertoning kos R150. Navrae: Annemarie van der Walt by annemarie@innibos.co.za.