Toyota Innibos 2025: ’n Fees wat Uit sy Nate Gebars het!
Die stof het gaan lê, die tente en verhoë is opgepak en die feesbestuur haal weer asem. Die Toyota Innibos Nasionale Kunstefees 2025 is met groot geesdrif afgesluit, en daar heers geen twyfel nie – dié jaar se fees het oorgeloop van lekkerness. Met ’n indrukwekkende bywoningsyfer van sowat 78 800 mense het Innibos vanjaar sy plek as een van Suid-Afrika se voorste kuns- en kultuurfeeste met oorgawe bevestig. Mense het van heinde en verre gekom om deel te wees van die feesvieringe – van Gauteng tot die suide van die land, en selfs van buite ons landsgrense af.
Die fees het letterlik uit sy nate gebars. Die feesterrein het gewemel met 300 stalletjies vol unieke produkte, handwerk, kos en kreatiewe inspirasie. Daar was agt toneelproduksies waarvan talle vol sale gelok het, tien musiek- en leefstylproduksies wat gehore laat skater en sing het, en sewe boekgesprekke, uitsluitend die immergewilde Boeke-Crawl na Kaapshehoop, wat boeke-entoesiaste in vervoering gehad het. Meer as 35 van Suid-Afrika se topkunstenaars het op die hoofverhoog opgetree, asook Laerskool Nelspruit se junior-en seniorkoor, terwyl vier ander kuierverhoë regoor die terrein deurlopend aksie, atmosfeer en musiek aangebied het. Daar was altesaam meer as 200 kunstenaars wat op die feesterrein opgetree het.
Volgens Innibos se feesbestuurder, Andy Lubbe, is die bestuur baie tevrede met dié jaar se bywoningsyfer. “Ons het groei getoon vanaf verlede jaar. Dit is moontlik weens die feit dat besigheidsvertroue toegeneem het en mense weer bereid is om geld te spandeer op kuns en kultuur. Veral Gautengers het agtergekom dat die fees dieselfde momentum behou as voor Covid en dat dit met dieselfde standaard aangebied word.” Hy voeg by: “Ons sien reeds ’n groei in besoekers van Gauteng af, en dit bevestig dat die fees nie net sy gees nie, maar ook sy aantrekkingskrag behou het.”
Innibos bly ’n belangrike ekonomiese dryfkrag vir die gemeenskap. Volgens voorlopige data dra die fees tussen R80 en R100 miljoen by tot die plaaslike ekonomie, ’n syfer wat bevestig sal word deur ’n onafhanklike studie wat tans deur die Universiteit van die Noordwes uitgevoer word. Die uitslae van dié studie sal later vanjaar bekend gemaak word.
“Die feesbestuur wil Toyota, ons gewaardeerde hoofborg, van harte bedank vir hul lojale ondersteuning, sowel as elke ander borg en vennoot wat Innibos 2025 moontlik gemaak het. ’n Spesiale woord van dank gaan ook aan elke feesganger wat saam met ons kom feesvier het. Julle teenwoordigheid, ondersteuning en entoesiasme maak hierdie fees jaar na jaar ’n belewenis”, sê Lubbe.
Innibos is en bly ’n fees vir die gemeenskap – ’n viering van kultuur, kreatiwiteit en samehorigheid. Vir die span agter die skerms is dit ’n groot voorreg en eer om elke jaar dié spesiale geleentheid moontlik te maak. Baie dankie aan elke besigheid, kunstenaar, vrywilliger, stalletjiehouer en elke persoon wat gewerk het aan en by die fees – elkeen het ’n waardevolle bydrae gelewer tot ’n totaal onvergeetlike feeservaring.
Dit was voorwaar ’n lekker fees vir lekker mense, met te veel lekkerness om elke hoek en draai!
Vir media navrae, kontak bemarkingsbestuurder Naranda Leeuwner by naranda@innibos.co.za of besoek www.innibos.co.za