Innibos-span gee terug aan Care for Wild
Die Innibos-span het onlangs die voorreg gehad om Care for Wild Rhino Sanctuary te besoek, ’n organisasie wat ongelooflike werk doen om ons renosters en natuurlike erfenis te beskerm. As deel van hul besoek het die span vellies en T-hemde aan die toegewyde Care for Wild-span oorhandig, as ’n gebaar van waardering en ondersteuning vir die belangrike werk wat hulle daagliks verrig.
By Innibos lê dit diep in die bestuur se wese om terug te gee aan die gemeenskap en om onder andere groen, volhoubare projekte te ondersteun. Daarom was hierdie besoek ’n spesiale geleentheid om eer te betoon aan mense wat onbaatsugtig werk om ons natuur te beskerm. ’n Groot dankie ook aan die Ways of Walking Foundation, Mahindra Rise – The Charity Drives, Pink Loerie Foundation en HJB HandMade wat saam met Innibos hande gevat het in hierdie inisiatief. Hulle vrygewigheid en ondersteuning ten opsigte van die vellies is baie betekenisvol. Saam maak mens ’n groter impak!
By Care for Wild het die Innibos-span eerstehands gesien hoe passie, toewyding en liefde die kern vorm van die organisasie se werk. Hierdie ontmoeting het die span diep geraak en beklemtoon dit hoe noodsaaklik dit is om betrokke te bly by projekte wat ons omgewing en gemeenskap versterk.
Naranda Leeuwner, Bemarkingsbestuurder van Innibos, sê: “Die besoek het ’n blywende impak op ons gemaak en Care for Wild se goeie werk strek baie verder as net diere. Hulle ondersteun ook gemeenskappe in die omgewing en Innibos sien uit om hande te vat en daarop voort te bou.”
Die Innibos-bestuurspanspan se besoek illustreer die fees se voortdurende fokus op gemeenskapsbetrokkenheid en omgewingsbewaring en dit is ’n voorreg om terug te ploeg in die gemeenskap.