fbpx

Innibos

So word jong akteurs oud vir ’n rol

Akteurs en glanspersoonlikhede is gewoonlik sinoniem met verjongingskure, maar as ʼn rol dit vereis, kan jeugdige akteurs vinnig in ʼn ou dame of man omskep word met die nuutste tegnologie en grimeerkunsies.

Innibos Kunstefees het vanjaar twee produksies waar jong akteurs ouer of bejaarde karakters vertolk.

Die jeugdige Desire Gardner, bekend vir haar rolle in Roepman, Binnelanders en Suidooster, vertolk deesdae die rol van Magda Louw wat haarself in haar herfsjare bevind. Hierdie kykNET-televisiereeks is vir die verhoog verwerk en is by Innibos op die planke.

Vir die televisiereeks moes die twee hoofkarakters, Desire Gardner en Hannes van Wyk, ure in die grimeerstoel deurbring om hulle na middeljariges te transformeer.

In sowel Hans steek die Rubicon oor en die Hans gee Herklaas horings vertolk die jeugdige Charlie Bouguenon die rol van die 92 jarige Hans van Kraaienburg. Met toepaslike grimering en baie akteursvernuf klim hy pens en pootjies in dié bejaarde karakter in.

Beide hierdie produksies is topverkopers by teaters landswyd asook by kunstefeeste soos die Suidoosterfees en die KKNK.

Innibos se jong Tiktokker, Ané Niehaus, het spesiaal Rand toe gery om by Oakfield College te gaan kers opsteek oor hoe akteurs so ʼn gedaanteverwisseling ondergaan. Oakfield College bied kursusse in drama, grimeerkuns, spesiale effekte, musiekteater, ontwerp en vele meer aan. Sy wou self sien hoe dit gedoen word en ʼn spesiale sessie is met die lektor, Alet Dreeckmeier gereël om hierdie bloedjonge juffer oud te laat lyk.

Die hele proses is op film vasgelê en die lesers kan gerus daarna gaan kyk op Tiktok onder die naam @fees_vlooi.

 

Scroll to Top