fbpx

Innibos

’n Toneelfees van debute by Innibos Kunstefees 2024

Teatergangers wat lank reeds uitgehonger is vir goeie toneelstukke kan maar hulle sit kry vir vanjaar se keurspyskaart tydens Innibos Kunstefees, waaronder vier debuutstukke.

Daar is dramas wat jou sal laat nadink oor verlies, verhoudings op verskeie vlakke en berusting, terwyl die komedies vir welkome verligting verskaf, hoewel dit steeds heelwat stof tot nadenke bied.

Een van die hoogtepunte is beslis om die ervare aktrise Rika Sennett weer op die verhoog te sien in die stuk Forté, saam met medespeler en Fiëstawenner Adriaan Havenga. Sennett speel die rol van ’n wêreldbekende tjellis wat ná haar man se dood nie weer ’n noot gespeel het nie. Dan daag ’n jong man ongenooid op by haar huis op en boonop blyk dit hy ken haar ten diepste. Dit is ’n raaisel, en die klimaks lê net soveel in die ontknoping daarvan as in die besondere sterk samespel tussen Sennett en Havenga.

Die teks is geskryf deur Pierre-André Viviers, en die stuk is moontlik gemaak deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (Nati). Kaartjies kos R190 (Mbombela Stadsteater).

Verhoudings, dié keer tussen ’n seun en sy pa, is die tema in Albatros, met Louw Venter en Ben Albertyn. Venter, bekend vir verskeie filmrolle waaronder in Konfetti, is ’n pa wat sy seun alleen moes grootmaak. Wanneer dié self ’n jong man is, doem die spoke uit pa en seun se verlede op. Hoe die mans wat so moeilik iets te sê kry hul weg na mekaar vind, is tegelyk tragedie én komedie, en beslis ook pitkos. (Ook moontlik gemaak deur Nati.) Kaartjies kos R190 (Mbombela Stadsteater).

In die eenmanstuk Ballade vir ’n blikbrein skitter Luan Jacobs as Blikkies Bliknaut, ’n robot wat soos ’n mens lyk, maar hiperslimmer en hiper-sterker is. Teksskrywer Barry van Rensburg en regisseur Kaz McFadden tower ’n rol op vir Jacobs as bliksiel wat deur algoritmes voorgeskryf word, maar wie se grootste wens is om emosie te ervaar. Dit is ’n vars, deurdagte en humoristiese aanslag van ’n tema waaroor menigeen van ons wonder met die opkoms van kunsmatige intelligensie. Kaartjies kos R180 (Mbombela Stadsteater).

Wynand von Vollenstee klim vanjaar uit sy vertroude Grotman se velle, en meld aan by die hospitaal. Saam met hom op die verhoog is Marissa Claasen, Tiart Li en Stephanie Baartman in Hospitale, kateters en familielede. ’n Mens weet sommer reeds hier kom ’n ding wat jou gaan laat lê van die lag.

Presies hóé absurd dinge in ’n hospitaal kan word, word uit veertien verskillende karakters se invalshoeke vertel. Iewers gaan die kyker ’n situasie of drie herken. Daar is self ’n Duitse herdershond… Kaartjies kos R190. (Bergland Laerskool).

Die volledige program en speeltye is by innibos.co.za. Kaartjies is te koop by TicketPro (ticketpros.co.za of volg die skakel van Innibos se webwerf.)

Scroll to Top