fbpx

Innibos

Innibos bied ’n oase vir boeke en kuns

Die ATKV-Kuns- en Boeke-oase by Innibos is vanjaar opnuut die toevlugsoord vir lesers en liefhebbers van die skone kunste ná ’n afwesigheid verlede jaar.

Verskeie boekgesprekke word elke dag by die ATKV-Kuns- en Boeke-oase by Laerskool Nelspruit se kultuursentrum gehou. Etienne van Heerder kom vertel onder meer van die magiese gegewens in sy boek Gebeente, Leon van Nierop gesels oor sy pennevrug Droomjagter en Amoré Bekker verklap as samesteller meer oor Ek het ’n Engel gesien, wat bestaan uit 72 stories oor Suid-Afrikaners se ervaringe met hierdie hemelse wesens.

Die debuutboek van Riaan Grobler, Geheime op Philadelphia, word bekend gestel. Grobler is ook bekend as sanger en radiopersoonlikheid. Die kersie op die koek is ’n boekgesprek met Dr. Mathews Phosa waartydens hy meer sal vertel van sy derde Afrikaanse digbundel waarmee hy besig is, asook twee geskiedenisboeke in wording.

Mathews is ʼn stigterslid van Innibos Kunstefees en het ’n boeiende verbintenis met die Afrikaanse kultuurlandskap.

Danie Marias stel sy nuwe digbundel, Ek en jy bestaan nie bekend en Danie du Toit van Spoegwolf-faam gaan met hom gesels. Hierdie bundel handel oor die menslike middelklastoestand en die unbearable whiteness of being wat waag om eerlik te praat oor die dinge waaroor mense liefs stilbly.

Buiten die boekgesprekke is die amptelike Innibos kunsuitstalling Son of a Shopfitter, deur Luan Nel te sien in die uitstalsaal. Nel is vanjaar die feeskunstenaar.

Boeke en kuns gaan hand aan hand met rustige musiek en ’n lekker glasie wyn. Kunstenaars soos Coffee Snobs, Christof Berg, Alouise en Stix gaan hier optree en daar word daagliks ʼn wynproe deur Hetta Saunderson van Van Loveren aangebied.

Feesgangers kan kom saamluister hoe RSG Spektrum op Donderdag, 27 Junie 2024 en Vrydag, 28 Junie 2024 om 12:00 vanaf die ATKV-Kuns- en Boeke-oase uitgesaai word. Die gewilde Brêkfis met Derrich word van 06:00 tot 10:00 op Saterdag, 29 Junie 2024, uitgesaai. Dit is ʼn op en wakker Saterdagoggendkuier met musiek, kompetisies, omgewingsake en motors aangebied deur die immergewilde Derrich Gardner.

Al hierdie boekgesprekke en aanbiedings word gratis aangebied. Die ATKV- Kuns- en Boeke-oase by Nelspruit Laerskool Kultuursentrum is beslis ʼn besoek werd.

Scroll to Top