fbpx

Innibos

Innibos 2024 – Opgeklits vir ’n feestelike wenresep

Innibos 2024 vind van 27 tot 30 Junie in Mbombela plaas. Stadig maar seker word al die bestanddele bymekaar gekry vir ’n feestelike Wenresep van toneel, musiek, kuns en boeke. Die geheime bestanddeel? JY.

Hektoegang

Donderdag, 27 Junie         R210

Vrydag, 28 Junie                 R260

Saterdag, 29 Junie             R300

Senior burgers                    R160

Weekkaartjies                      R660

Kleuters en laerskoolkinders se toegang is gratis.

Pleks van ’n goue sirkel, is daar vanjaar eksklusiewe kuiertafels (vir ses mense) wat voor die hoofverhoog bespreek kan word. Dié koste is addisioneel tot die hektoegang:

Donderdag                           R660

Vrydag                                   R960

Saterdag                               R1 260

Elke feesganger is ’n meesterkok

Of jou voorkeur musiek, toneel, boeke of kuns is, daar is werklik iets vir elke smaak op die Innibos-program. Op die feesterrein by Hoërskool Bergvlam is daar vermaak van vroegdag tot laatnag … vir dieselfde prys as wat jy dalk vir ’n enkele vertoning van een topkunstenaar sou betaal.

Oudergewoonte is daar Woelwaters vir die kleingoed. In die Boma-kuierteater is daar gratis produksies en gesprekke, en die kunstenaars op die onderskeie kuierverhoë is daagliks slegs ’n voorsmakie van elke aand se groot hoofverhoogkonsert.

Onder die kunstenaars wat by die hoofkonserte gaan optree (die hele lys is ellelank) is: Droomsindroom, Dr. Victor & the Rasta Rebels, Spoegwolf, Elvis Blue, Francois van Coke, Juanita du Plessis, Karlien van Jaarsveld en die Mzansi Youth Choir.

Drama-drama en musiekteater

Van die akteurs wat op die verhoog te siene sal wees sluit in Sandra Prinsloo, Rika Sennett, Cindy Swanepoel, Je-ani Swiegelaar, Jan-Hendrik Opperman en Schalk Bezuidenhout. Musiekteater bring Nataniël na die uitsonderlike Sudwala-grotte, en Jana Cilliers, Anna Davel, Leon Gropp en Laurinda Hofmeyr is te sien in Mixtape van die liefde.

Vir die boekwurms

By die ATKV-Kuns- en Boeke-oase by Laerskool Nelspruit behoort die woord aan onder andere Etienne van Heerden, Amoré Bekker, Mathews Phosa, Leon van Nierop en Riaan Grobler. Die immergewilde ATKV- Boekecrawl op Kaapsehoop sal ook weer plaasvind.

’n Nuwe “ou” adres

Innibos het weer ’n heeltydse kantoor, en ons kon sowaar die ou ruimte in Fauriestraat, Sonpark, weer ons eie maak. Welkom tuis! Vir navrae skakel 064 838 8201.

Scroll to Top