fbpx

Innibos

Juanita du Plessis – Engel van ons harte

Juanita du Plessis se musiek kan jou eerbiedig stem, jou met hoop vul, jou uit volle bors laat saamsing of jou na jou dansskoene laat gryp. Sy is tans die mees bekroonde sangeres in Afrikaans en spog met ’n ongeëwenaarde drie miljoen in plateverkope.

Vir die afgelope 26 jaar geniet sy ikoniese status in die musiekbedryf. Sy is ’n toonbeeld van veelsydigheid, ewe tuis met kontemporêre pop, country, gospel of dansmusiek.

Dié ongekunstelde meisie van Namibië oorrompel die musiekarena in 1998 met die album Juanita en in dieselfde jaar stap sy as beste sanger en beste liedjieskrywer by die Country Music Association van Namibië se toekenningsgeleentheid weg. Hierná verander alles waaraan sy raak in goud, of platinum. Die liedjie “Ska-Rumba” van haar volgende album Ek en Jy was onmiddellik ’n treffer. Sedertdien het sy 22 albums en 7 DVD’s uitgereik en elkeen het Goue of Platinum status bereik.

Met haar 2003 album Jy is bereik Juanita ’n besondere mylpaal – sy is die eerste Afrikaanse sangeres om die nr. 1-posisie van RSG se amptelike verkoperslys, wat nasionale en internasionale verkope insluit, te beklee. Haar 2007 album Vlieg hoog behou steeds die titel as die Top Afrikaanse Gospel-verkoper van alle tye. Juanita word in 2012 die eerste kunstenaar in die Afrikaanse geskiedenis om 2 miljoen albums in Suid-Afrika te verkoop. In 2023 verras sy deur die prettige dansliedjie “Liewe Jinne” op TikTok vry te stel.

Sy is veral trots op twee van vele toekennings. Die SAMA-toekenning vir Engel van my hart, wat sy self regisseer en wat Platinumstatus bereik nog voordat dit die rakke tref. En haar Ghoema Diamant Toekenning vir Beste Afrikaanse verkoper in die Geskiedenis van Suid-Afrika.

Of jy nou ‘woke’ of oud is, daar sal ’n Juanita-liedjie wees wat jou hartsnare roer. Innibos vereer haar graag vir haar ryk diskografie en haar lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek.

Scroll to Top