
VISUELE KUNS
Groepuitstalling
Volkslied/Anthem
VISUELE KUNS
Opening: Woensdag 1 Julie 2026 om 18:00
Galery-ure: Daagliks tussen 10:00 en 17:00
Begeleide rondleiding: 12:00 daagliks
Plek: Innibos-kunsgalerye by Hoërskool Bergvlam
Deelnemende kunstenaars: Bob Mnisi, Dineo Mauke, Elize Buitendag, Eric Manganye, Ingrid Uys, John Moore, Michael Selekane, Rene Eloff, Samantha Maseko, Willem Pretorius en ander
’n Volkslied word gedefinieer as “’n opwindende of opheffende lied van viering wat met ’n spesifieke groep, liggaam of saak geassosieer word”. Nasionale volksliedere is egter patriotiese musikale komposisies wat die geskiedenis, tradisie en oortuigings van ’n nasie simboliseer en ’n kragtige rol speel in ’n land se beeldvorming, saam met vlae, geldeenheid of posseëls.
Suid-Afrika se relatief jong volkslied, Nkosi Sikelel’ iAfrika, is gegrond op ’n kombinasie van geskiedenisse en tale, en erken en omarm ons gelaagde en ryk kulturele landskap in ’n enkele lied. Ons volkslied is wêreldwyd uniek deurdat dit twee verskillende liedere kombineer en vyf van die elf amptelike tale insluit, naamlik isiXhosa, isiZulu en Sesotho, met byvoegings van Afrikaans en Engels.
In 1897 het ’n Metodiste-sendingskoolonderwyser, gebore in Uitenhage, ’n treffende skoollied gekomponeer genaamd Nkosi Sikelel’ iAfrika – God seën Afrika. Min het hy geweet watter enorme betekenis hierdie lied vir ’n kontinent en ons nasie sou hê.
Die lied vorm die basis van ons volkslied, in kombinasie met woorde en musiek van ons vorige volksliedere, The Call of South Africa en Die Stem, geskryf en vertaal deur die bekende Afrikaanse digter CJ Langenhoven. In 1997 is Nkosi Sikelel’ iAfrika in die Staatskoerant afgekondig as die amptelike titel van ons nuut saamgestelde volkslied.
Nkosi Sikelel’ iAfrika het ’n ryk, gelaagde vergestalting van ons diepgewortelde nasionale trots geword. Dit bied ’n geestelike konteks deur God aan te roep vir beskerming, sowel as die skenking van seëninge aan sy mense, en vra vir die beëindiging van oorloë en beproewings. Dit erken die prag van ons natuurlike landskap en spoor ons mense aan om te verenig, en verwys na die krag van samehorigheid. Deur die woorde verweef die lied beelde wat visie, doel en eenheid oproep.
Suid-Afrika besit nie net majestueuse berge en oseane nie, maar is ook die bewaarder van ’n ryk poel artistieke talent. In hierdie lig is deelnemende kunstenaars versoek om woorde, frases of verse uit ons volkslied te kies en dit visueel uit te beeld.






