Innibos

Alles wat IN is, begin hier: Toyota Innibos stel die verhoog vir 2026 met kunstenaars wat IN is.

As daar ooit ’n tyd was om alles wat IN is, eerstehands te beleef, is dit nou! Vanaf 30 April maak Innibos se produksie kaartjieverkope oop en alles wat #trend, kom tot lewe. Met die opwinding wat opbou na Toyota Innibos vanaf 2 – 5 Julie, word feesgangers genooi om hulself te verdiep in ’n wêreld van musiek, teater, boeke, kuns, stalletjies en unieke ervarings wat die Laeveld inner-as IN gaan laat voel.

Volgens programbestuurder van Innibos, Philna Scholtz, bied Innibos heelwat uit-die-boks-uit produksies wat geen feesganger moet mis nie. Enig in sy soort, is die Pampelmoesmampoer-produksie ’n moet-sien. Met plaaslike talent sowel as ander bekendes gaan Adriaan van As, Eugené Wait, Jana Fischer, Francois Jacobs, Matie van Graan, Tiaan Slabbert, Steffie le Roux,  Luka Wait en ’n geheimsinnige gasverskyning, die gaste laat gons. Dis ’n unieke plekspesifieke teaterervaring waar drie gesinne se verweefde lewens en lank-verborge geheime stadig ontrafel. In verskillende huise in The Rest Landgoed beleef feesgangers die storie uit uiteenlopende hoeke. Geen twee ervarings is dieselfde nie. Philna sê die gehoor word deel van elke toneel en is selfs gaste by die verlowingspartytjie in die slottoneel, waar die ontrafeling plaasvind. 

’n Ander nuwe leefstylproduksie waar Innibos #trending is, is die South African Institute of Architects (SAIA) Mpumalanga se Argitektoniese Toer met Orbic en Cecilia argitekte. Dis ’n eksklusiewe, gekureerde toer wat feesgangers neem na van die Laeveld se mees inspirerende huise. Argitekte deel hul visie en wys die nuutste neigings in volhoubare en stylvolle binnenshuis-buiteleef ontwerpe. 

Innibos spog met ’n Nati-produksie naamlik Sterstof met Ashley de Lange, Ludwig Binge en Wessel Pretorius asook Sirkus L’amour en die Alewige Getoer met Wynand van Vollenstee, Thiart Li, Marissa Claasen en Zoricke Snyman  wat by die fees debuteer.

 En wat is ’n teaterprogram sonder Frank Opperman? Hy bring vir oulaas vir ons Reünie, ’n aangrypende en humoristiese blik op ’n skoolreünie waar ou klasmaats hul verlede en ’n gedeelde tragedie uiteindelik konfronteer. Met fyn waarneming en nostalgie bring hierdie eenmanstuk die kompleksiteit van herinneringe en verhoudings tot lewe. Frank is ook te sien in Crybaby saam met Nicole Holm, Wian Taljaard, René Cloete en Gantane Kusch. ’n Absurde tragikomedie oor ’n kind wat skielik die gewig van die wêreld se realiteite moet dra. Die stuk balanseer humor en hartseer terwyl dit vra wat dit regtig kos om groot te word in ’n gebroke wêreld.

En dit is net die begin. Feesgangers kan ook uitsien na produksies soos Sandra Prinsloo in Die Ander Dogter, Deon Meyer (verteller en teks) en Coenie de Villiers (klavier, sang en musiek) in die produksie Karoo-Keur, asook die Lefra-produksie, Het van Verlangekraal waarvan Leon van Nierop die teks van Johann Bekker tot verhoogstuk verwerk het. Amanda Strydom, Je-ani Swiegelaar en Coenraad Rall (Klavier) is te sien in Tillie Matilda wat die lewe van twee straatvroue uitbeeld. Hierdie was ’n treffer by die onlangse KKNK.

Ons klassieke program sluit ook produksies in soos Voices of the Soul, Songs of Love en Koffie Kantata.

Teaterliefhebbers kan uitsien na die gesinstoneel, Jakkie NOU! Die Drie Varkies en die Gen Z Wolf met Jakkie Louw, Clarissa Jooste, Simone de Jager en Monique Barnard. Hierdie gaan fesgangers van oud en jonk bekoor.

Feesgangers kan ook uitsien na produksies soos Tronk met ’n D met Elzabé Zietsman wat hierin die rol van Daisy de Melker vertolk.

By Innibos is daar net een ding wat UIT moet wees: suinigheid, en daardie “ek-sal-volgende-jaar-gaan”-verskonings. Wat IN moet wees? Jou geesdrif om alles te beleef en nie ’n enkele oomblik van hierdie kreatiewe fees te mis nie.

Kaartjies en volledige inligting is beskikbaar by innibos.co.za.

Scroll to Top