Innibos

Feeskunstenaar Uitstalling 2026: Odette Saayman – Waar die Kranse Antwoord Gee

VISUELE KUNS/ VISUAL ART
FESTIVAL ARTIST/FEESKUNSTENAAR

Odette Saayman  – Waar die Kranse Antwoord Gee 

Opening: Woensdag 1 Julie 2026 om 18:00

Galery-ure: Daagliks tussen 10:00 en 17:00

Begeleide rondleiding: 12:00 daagliks

Plek: Innibos-kunsgalerye by Hoërskool Bergvlam

In aansluiting by die oorkoepelende tema van “Volkslied”, is ons trots om Odette Saayman as die Feeskunstenaar vir 2026 aan te bied. In haar derde solo-uitstalling verken Odette ’n verskeidenheid onderwerpe wat Suid-Afrikaanse identiteit vier en die gees van ons land in ’n kragtige visuele uitbeelding definieer.

Skilderye, aangebied in olieverf op doek, beliggaam die diversiteit van ons mense in tonele uit die alledaagse lewe. ’n Paar stillewe-uitbeeldings vang die soet vrugte van ons land vas. Ons unieke landskap word skerp uitgebeeld deur Odette se fyn kwashale, waar berge, ruwe kranse en rotsformasies die sintuie op elke vlak prikkel.

Portretkuns is een van Odette se gunsteling genres, en ’n aantal portrette is ook ingesluit, gegewe haar besondere waarneming en begrip van die menslike natuur.

Deurgaans in Odette se oeuvre speel haar kenmerkende hantering van lig en donker ’n belangrike rol, as ’n metafoor vir ons land se geskiedenis en die veerkragtige vermoë van sy mense om na die lig te kyk. Odette put veral inspirasie uit haar omgewing, elemente van die natuur en die oorvloed van flora en fauna wat deel vorm van haar daaglikse wêreld, en bring die subtiele nuanses daarvan tot lewe.

Odette is in 1965 in Pretoria gebore en het ’n BA Honneursgraad in Sielkunde deur UNISA verwerf. Hoewel sy in die stad grootgeword het, was sy nog altyd ’n plattelandse mens in haar hart en het sy in 1997 saam met haar man na die Laeveld verhuis. Haar passie vir kunsskepping is in 2006 aangevuur toe sy ’n geskenk van verf, kwaste en kunsboeke ontvang het. Alhoewel sy selfopgelei is, het verskeie mentors haar natuurlike talent verfyn – onder andere Carl Jeppe, Bob McKenzie en Walter Voigt.
In 2010 het Odette ’n lid van die Laeveld Kunsvereniging geword, ’n netwerk van kunstenaars wat haar gehelp het om verdere ervaring in haar kunspraktyk op te doen. Sy is tans ’n lid van die Greater Kruger Kunsvereniging.

Odette het gereeld aan groepuitstallings by die White River Gallery deelgeneem. In 2022 het sy haar suksesvolle eerste solo-uitstalling, “Through the Fire”, aangebied, wat haar reis as kankerpasiënt en -oorwinnaar verbeeld. Haar tweede solo-uitstalling is in 2024 by die White River Gallery aangebied.

As ’n gerespekteerde Laeveldse kunstenaar maak Odette se volledige toewyding aan haar praktyk, haar hoë standaard van professionaliteit en haar nederige en vrygewige geaardheid haar werk besonder aantreklik, met menige Laeveldse huis wat deur haar kunswerke verfraai word.

Scroll to Top