Innibos

2026

Is jy IN? Beleef Toyota Innibos 2026 met ’n Premium Feeservaring in die Bespreekte Area!

By Toyota Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees 2026 gaan dit oor een ding: alles wat IN is en ons weet JY is beslis IN! Ná oorweldigende publieke navraag is die gewilde premium feeservaring in die Bespreekte Area vanjaar uitgebrei sodat nóg meer feesgangers die lekkerte kan geniet. Volgens Andy Lubbe, feesbestuurder van Innibos, bied die Bespreekte Area die perfekte kombinasie van gemak, eksklusiwiteit en feespret en in 2026 vat ons dit net nóg ’n vlak hoër. Hy sê verder dat heelwat feesgangers ’n meer eksklusiewe ervaring wil hê en dat die feesbestuur daadwerklik opgetree het om meer bespreekte stoele (goue sirkel)  kuiertafels en veldlosies (pods) by die aandkonserte te bied. Hoofverhoog vermaak: Die vermaak op die hoofverhoog is net so IN soos die Bespreekte Area self, met elke aand wat ’n unieke energie en mengsel van kunstenaars bring. Donderdagaand se Huisgenoot Afskopkonsert skop die fees af met groot name soos Die Heuwels Fantasties, Elvis Blue en Karlien van Jaarsveld, asook  gunstelinge soos Ricus Nel, Van Pletzen en Die Piesangskille, ’n aand propvol saamsing en nostalgie.  Vrydagaand neem die Jacaranda FM-konsert oor met ’n kragtige kombinasie van kunstenaars. Van Bobby van Jaarsveld en Juanita du Plessis tot die alternatiewe klanke van Fokofpolisiekar en Spoegwolf, terwyl Riaan Benadé en Zaan Sonnekus sorg vir hoogtepunt na hoogtepunt. Op Saterdag, 4 Julie 2026, pak die Springbokke Engeland, en die wedstryd sal regstreeks op die groot skerms uitgesaai word. As jy kan onthou hoe elektries die atmosfeer verlede jaar was, sal jy weet, hierdie is iets wat jy eenvoudig nie kan misloop nie. Om 19:00 bars die kykNET-hoofverhoog los met ’n sterbelaaide konsert wat kunstenaars soos Appel, Francois van Coke, Brendan Peyper, Early B, Elandré, BlackByrd en vele meer insluit, ’n viering van alles wat gewild, IN en relevant is.  “Feesgangers moet egter onthou: die geadverteerde line-ups is net die begin. Verrassingselemente en ekstra kunstenaars gaan deurentyd opduik, want by Innibos is verrassings ook beslis IN en #trending hierdie jaar!” Premium Ervaring in die Besrpeekte Area: Behalwe die “mosh pit” waar oud en jonk hul litte kan gaan swaai reg voor die hoofverhoog, begin die premium ervaring in die Bespreekte Area met meer spasie, meer vibes en meer mense wat IN is. Daar is elke aand 50 kuiertafels beskikbaar:  Donderdagaand teen R1 210, Vrydag teen R1 810 en Saterdag R2 110 per tafel van 6 mense. Sodra jy jou tafel bespreek het, druk eenvoudig jou bespreking uit en met jou aankoms by die Goue Sirkel sal sekuriteit vir jou 6 individuele armbande oorhandig,  een vir elke gas by jou tafel. Indien jy nie ’n tafel wil bespreek nie kan jy ’n stoel in die goue sirkel bespreek. Daagliks is daar 540 bespreekte stoele beskikbaar: Donderdag en Vrydag kos dié kaartjies R160 pp en Saterdag R210. Armbande kan met jou aankoms by sekuriteit by die Goue Sirkel-ingang afgehaal word. Jy kan ook ‘n feesterrein parkeerkaartjie koop teen R260 per dag. ’n Beperkte hoeveelheid veldlosies is tans nog beskikbaar, ideaal vir korporatiewe onthaal, kompleet met ’n eie kelner wat drankies bedien vanaf die kroegarea.  En moenie bekommer oor kos nie. Bestel jou gunsteling feeskos by enige stalletjie en bring dit direk na die Bespreekte Area waar jy gaan kuier. Andy  beklemtoon dat die Bespreekte Area se premium ervaring NIE die algemene feesterrein toegang insluit nie. Toegang tot die feesterrein kos R250 vir Donderdag, R325 vir Vrydag en R385 vir Saterdag.  Hierdie is nie net ’n plek om te sit nie. Dis waar die fees lééf, dans, saamsing en herrinneringe bou! Neem asseblief kennis dat dit nie nodig is om plek in die Bespreekte Area te bespreek om die konserte te geniet nie. Feesgangers is welkom om steeds die atmosfeer vanaf die pawiljoene of gras rondom die Bespreekte Area te beleef teen geen ekstra koste buiten die gewone feesterreintoegangsfooi nie. Alles wat IN is, gebeur by Innibos: van topvermaak tot onvergeetlike rugby-oomblikke. So die vraag bly: Is JY IN vir ’n premium ervaring in die Bespreekte Area? Vir kaartjies en info besoek: innibos.co.za

Is jy IN? Beleef Toyota Innibos 2026 met ’n Premium Feeservaring in die Bespreekte Area! Read More »

Toyota Innibos 2026 vier ALLES wat IN is – Is JY in?

Mbombela – Die gewilde Toyota Innibos is terug en in 2026 vier ons ALLES wat IN is! Van musiek en teater tot boeke, kuns en stalletjies. As dit #trending is, vier ons dit saam as jy ook IN is! Die fees vind die jaar vanaf 2 – 5 Julie plaas by Hoërskool Bergvlam in Mbombela/ Nelspruit, en beloof om weer duisende feesgangers van regoor die land te verras met ’n propvol program en onvergeetlike ervarings wat IN is. Ons is ook opgewonde oor ons hoofborg, Toyota, wat hierdie jaar vir seker weer IN is! Feesgangers kan uitsien na ’n opwindende hoofverhoogprogram oor al drie aande met van ons land grootste name in die bedryf. Onder die kunstenaars wat vanjaar die verhoog gaan laat dreun, is Die Heuwels Fantasties, Die Piesangskille, Elvis Blue, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Van Pletzen, Bobby van Jaarsveld, Fokofpolisiekar, Juanita du Plessis, Riaan Benadé, Spoegwolf, Zaan Sonnekus, Appel, Barto, BlackByrd, Brendan Peyper, Early B, Elandré, Eloff, Francois van Coke, Irene-Louise van Wyk, Juan Boucher en Riana Nel. Benewens die hoofverhoogproduksies, kan feesgangers ook uitsien na vier kuierverhoë wat van die  oggend tot die aand vermaak gaan bied, musiek wat IN is, op een terrein! Ons het verskeie verrassings waarna feesgangers kan uitsien. Ander hoogtepunte sluit in die Springbok rugbywedstryd die Saterdag voor die aandvertoning en die Loof Hom Innibos op Sondag, 5 Julie, by Church Unlimited, teen R50 per persoon. Volgens Alison Linde, hoof van die BosMôl, is die stalletjies uit die boonste gestaltes. “Die stalletjiekeuring was streng en ons het die beste van die bestes wat by die fees gaan uistal. Ons het balans gebring deur so groot as moontlik verskeidenheid in die aanbieding te bring. Die kosstalletjies is ook baie sorgvuldig gekeur om goeie, smaakvolle en “uit-die-boks-uit” feeskos te bring.”  Daar is ook ’n groot verskeidenheid stalletjies wat spesifiek op ons mans gefokus is vir ’n lekker koop-ervaring vir almal.  Volgens Andy Lubbe, feesbestuurder, is dít wat ons bied, en dít wat feesgangers betaal, steeds ’n winskopie. Vir die hoeveelheid wêreldklas kunstenaars en vermaak wat jaarliks op die feesterrein aangebied word, is die prys ongeëwenaar.  Vir slegs R775 kan jy ’n weekkaartjie koop wat jou eindelose vermaak gaan verskaf. Dagkaartjiepryse beloop R250 vir Donderdag, R325 vir Vrydag and R385 vir Saterdag.  Laerskoolkinders van 13 jaar en jonger kry gratis toegang tot die feesterrein en senior burgers (65 jaar en ouer) geniet op Donderdag alleenlik ’n spesiale afslagprys van R195. Ons nooi dus al ons senior burgers uit om spesifiek Donderdag die stalletjies en konserte te kom geniet teen dié afslagprys. Vir die res van die fees geld normale pryse. ’n Groot hoogtepunt van 2026 is die uitgebreide Goue Sirkel-ervaring. “Ons het meer kuiertafels as verlede jaar omdat ons oorval was met versoeke vir ’n groter gouesirkel-ervaring. Dit was uiters populêr en binne minute uitverkoop verlede jaar,” sê Andy.  Ons het ook goeie nuus vir die jonk van hart. Hierdie jaar het ons ’n afgebakende “mosh pit” reg voor die verhoog waar hulle saam met hul gunstelingkunstenaars kan sing en dans. Agter die mosh pit begin die Goue Sirkel-area met bespreekte stoele teen: R160 vir die Donderdag en Vrydag en R210 vir Saterdag.  Feesgangers, bring al jou vriende wat IN is en bespreek sommer ’n kuiertafel vir 6 persone teen R1 210 vir Donderdagaand, R1 810 vir Vrydagaand en R2 110 vir Saterdagaand. Feesterrein parkeerkaartjies kos R260 per dag.  As jy ’n Tjirp-leser is, kan jy reeds 30 Maart die Early-Bird voordeel geniet en jou feesterreinkaartjies aanlyn koop. Publieke feesterreinkaartjieverkope open 1 April  en dis géén April-fools grap nie! Teaterproduksie kaartjieverkope open op 30 April. Hou die spasie dop! Vir meer inligting en kaartjies, besoek: innibos.co.za Toyota Innibos 2026 – ALLES wat IN is. Nou wil ons by jóú weet: Is JY in? Want JY is al wie kort!

Toyota Innibos 2026 vier ALLES wat IN is – Is JY in? Read More »

Scroll to Top