fbpx

Innibos

2024

Innibos se perfékte WOW-faktor Kersgeskenk-idee

Kersfees sluip vinniger nader as wat jy wil erken, en hoewel jy dalk nog ‘n duisend dinge moet doen voor die feesseisoen aanbreek, gaan Innibos dit vir jou maklik maak. Want net soos julle, wonder ons ook wat om te koop vir daardie spesiale iemand wat reeds alles het.  Innibos het die antwoord vir ‘n perfekte WOW-faktor kersgeskenk-idee. Volgens Sandra Jacobs, bemarkingsbestuurder van die Innibos Nasionale Kunstefees, is daar geen beter geskenk as ‘n WEEK-kaartjie vir 2025 se fees teen 2024 se prys van slegs R660 nie.  Volgens Jacobs is dit ‘n sakpas-idee wat jou ook tyd spaar,want kom ons wees eerlik, Innibos is net te lekker om te laat lê! Wat kan dan nou lekkerder wees as om te weet jy verskaf iemand drie dae se pret-sonder-grense vanaf 3-5 Julie 2025, op die LEKKERste feesgronde in die land! Jy kan verseker wees van toegang tot ‘n magdom stalletjies, musiekverhoë wat jou hart gaan laat sing, die Boma Kuierteater vir saam kuier en lag, Woelwaters vir die kleingoed, Die Wingerd Kuiertuin én ongelooflike aand vertonings met van Suid-Afrika se top kunstenaars. “Dit is die geskenk wat blywende herinneringe skep en dit is veel meer waardevol as ’n gewone Kersgeskenk,” voeg Jacobs by. Die 2024-pryse hou nie vir altyd nie, so gryp jou geskenkbewys nou teen R660 en gee die geskenk van vreugde, musiek en ongelooflike herinneringe! Klik hierdie skakel om jou geskenkbewys te koop

Innibos se perfékte WOW-faktor Kersgeskenk-idee Read More »

a LEKKER cherry on the festival cake!

Here comes the highlight for every culture and music lover’s social calendar – the Innibos National Arts Festival 2025, which is taking place from 3 – 5 July, in Mbombela (Nelspruit). This year the theme is LEKKER and we are searching for pop-up artists (Buskers) whose unique talents will be a LEKKER cherry on top at the festival. According to Sandra Jacobs, Marketing Manager of the Innibos Arts Festival, the skill and creativity of pop-up artists will add a little extra flavour to the beloved Lowveld festival. “From acrobatic stunts and miming to playing unusual instruments or even balancing a washing machine on your head – whatever you can do to entertain, it’s welcome!” “You can showcase your talents freely on the festival grounds, and we’ll give you the opportunity to set out a hat for tips,” she adds. What could be LEKKERDER than a festival filled with spontaneous, pop-up performers who can liven up the atmosphere anytime, anywhere?  Why should you apply? Because at Innibos, we believe LEKKER is more than just a taste – it’s a feeling, an atmosphere or vibe, and an experience you don’t want to miss! This is the perfect platform to share your artistic heart, and who knows, you might just bring the whole festival to a standstill with your unique talent. Important Information: BUSKERS Application Forms Successful applicants will be notified on 28 February 2025.  Afrikaanse aansoekvorm English application form Innibos offers every pop-up artist/busker free entry to the festival grounds and the opportunity to collect tips from festival-goers. We also request that performers be available for the entire duration of the festival, from 3 – 5 July. So, if you’re ready to share your art in the LEKKERSTE atmosphere the country has to offer, now’s your chance! Apply, showcase your talents, and make Innibos 2025 a LEKKER experience that festival-goers will remember for years to come.

a LEKKER cherry on the festival cake! Read More »

Innibos Boekenaweek 2024

Die tweede Innibos Boekenaweek 2024

Talle skrywers, joernaliste en lesers se paaie lei binnekort na Kaapsehoop wanneer die tweede Innibos Boekenaweek van 30 Augustus tot 1 September op dié bergdorp in Mpumalanga gehou word.  ’n Hoogtepunt is die eerste en amptelike bekendstelling van Beeld 50: Om ’n groot storie hard te slaan – ’n omstrede onderwerp gegewe die moontlike sluiting van dié koerant. Barnard Beukman, redakteur van Beeld, en Erika de Beer, samesteller van Beeld 50, sal op Saterdag, 31 Augustus om 15:30 onder meer oor die harde werk agter die joernalistieke skerms gesels.  Lesers en boekliefhebbers word danksy die ondersteuning van die ATKV en die LW Hiemstra Trust verder getrakteer op boeke in ’n veelvoud van genres: van spanning- en jeugverhale, boeke oor aktuele kwessies, die grensoorlog en geskiedenis.  Die naweek skop Vrydagmiddag, 30 Augustus, af met die kollig op twee Kaapsehopers. Dana Snyman stel sy jongste boek Seun bekend, terwyl die oud-joernalis en eienaar van die Nagkantoor Kuierkroeg op Kaapsehoop se boek Contraband die lig laat val op die misdadige smokkelwêreld.  Lucinda Neethling, ook deel van die groep Die Melktert Kommissie, se solovertoning van musiek en woorde van haar album Uitgeskryf is die aand om 19:00 in die kapel by Silver Mist Gastehuis.  Saterdag, 31 Augustus, is ’n propvol boekprogram wat om 8:00 afskop met die nuutste pennevrug van Pieter Stoffberg Die beweging van bloed. Die jeugboekskrywers Fanie Viljoen en Constant van Graan gesels daarna oor hul jongste boeke, onderskeidelik Springboekie en Die geheim tussen die riete. Sterk vrouekarakters is die kenmerk van romanskrywers Chanette Paul (Anoniem) en Dibi Breytenbach (Heks). Dié twee tree met mekaar in gesprek.  Operasie Sceptic tydens die grensoorlog kom aan die bod in Deon Lampbrecht se boek Bloedbroers (ook in Engels beskikbaar), terwyl Roy Havemann gesels oor die oplossings wat hy voorstel in sy boek How to fix a country.  Sondagoggend word die naweek afgesluit met ’n boekgesprek oor Marthie Momberg se 21 Voices from Israel and South Africa – why the Palestinian Struggle Matters en Fransjohan Pretorius oor Commando, die veelgeprese verhaal van Deneys Reitz wat onlangs van belangrike gegewens bygewerk is deur Pretorius. Al hierdie is moontlik gemaak deur ondersteuning van die ATKV en die Hiemstra Trust. Al die gesprekke (buiten die bekendstelling van Beeld 50) en Lucinda se optrede vind plaas in die kapel by Silver Mist Gastehuis op Kaapsehoop. Kaartjies is by die deur te koop (slegs kaarttransaksies). Lucinda se vertoning kos R150. Die boekgesprekke is R40 elk of koop ’n naweekpas vir R200. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na annemarie@innibos.co.za Met dank aan die borge:

Die tweede Innibos Boekenaweek 2024 Read More »

2024 Innibos Kunstefees se feestafel is afgedek…

Sowat 75 000 besoekers het vanjaar by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees se feestafel van 27 tot 30 Junie in Mbombela aangesit. Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, sê die kunstefees se bestuur is tevrede en baie dankbaar vir die goeie bywoningsyfer. “Die hoofverhoog op die feesterrein was soos altyd ’n groot trekpleister en daar was elke aand skaars plek vir ’n muis. Die optrede van die Mzanzi Jeugkoor was beslis een van die kersies op die koek tydens die afsluitingskonsert.” Produksiekaartjies vir toneel, musiekteater en ander vertonings het flink verkoop tydens die fees. Kaartjies vir die leefstylproduksie Kostelik, die ATKV-Boekecrawl op Kaapsehoop, en die Musikale Meander en Nataniël se konsert, albei in die Sudwala-grotte, was reeds uitverkoop voor die kunstefees afgeskop het. Onder die verhoogstukke was die topverkoper die komedie Hospitale, kateters en familielede, met Boys R Back wat eweneens goed bygewoon is. Die drama met Sandra Prinsloo en David Viviers, Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan, se kaartjies het ook goed verkoop, sowel as dié van Die vrou op die dak met Je-Ani Swiegelaar en Schalk Bezuidenhout se stand-up Mamma se groot seun. Philna Scholtz, programbestuurder van Innibos, sê goeie komedies kry meestal die grootste aftrek by feesgangers. Die nuwe ATKV- Kuns en Boeke-oase by Nelspruit laerskool het ook goeie aftrek gekry met interessante boekgesprekke en kunsuitstallings wat daar aangebied is. Altesaam meer as 250 kunstenaars het vanjaar tydens die fees opgetree, ingesluit akteurs, musikante, skrywers en dansers. Die feesterrein by Bergvlam Hoërskool met sy wye aanbod uitsoekstalletjies,  heerlike feeskos en voldag vermaak was, soos altyd, die hartklop van die fees. Die volgepakte Boma Kuierteater, Wingerd Kuiertuin en Woelwaters kindervenue het hiervan getuig. Die gewilde aandkonserte was eweneens ’n groot sukses. Juanita du Plessis is vanjaar by een van hierdie geleenthede vereer.  Volgens Andy Lubbe, feesdirekteur, bly dit ’n uitdaging om ’n kunstefees van hoogstaande gehalte aan te bied in knap ekonomiese tye. “Innibos is by uitstek ook ’n familiefees wat vermaak  aan so ’n wyd moontlike gehoor wil aanbied. Dit is moontlik danksy die ondersteuning van die ganse Laeveldse gemeenskap, borge, diensverskaffers, en vanselfsprekend die entoesiastiese feesgangers.”

2024 Innibos Kunstefees se feestafel is afgedek… Read More »

Boekliefhebbers: ATKV-Kuns-en Boeke-oase

Boek- en kunsliefhebbers kan vanjaar pitkos kry by Innibos Kunstefees se ATKV-Kuns- en Boeke-oase met topskrywers wat die fees bywoon. RSG-luisteraars kan ook kom “radio kyk” wanneer bekende omroepers van daar uitsaai. Die gewilde RSG-nuusprogram Spektrum sal op Donderdag, 27 Junie, en Vrydag, 28 Junie, onder leiding van Suzanne Paxton uitgesaai word van die oase. Saterdagoggend, 29 Junie, is dit die immergroen Derrich Gardner wat reeds om 6:00 agter die mikrofoon inskuif vir sy Brêkfis met Derrich”. Verskeie boekgesprekke word elke dag by die Boeke-oase gehou. Donderdag, 27 Junie, is die bekendstelling van digter Danie Marais se bundel Ek en jy bestaan nie met gesprekleier Danie du Toit van Spoegwolf. Hierdie bundel handel oor die menslike middelklastoestand en die unbearable whiteness of being wat waag om eerlik te praat oor die dinge waaroor mense liefs stilbly. Om 14:00 gesels Leon van Nierop oor sy pas verskene Droomjagter. Bekroonde skrywer Etienne van Heerden en Amore Bekker kom vertel op Vrydag, 28 Junie, om 11:00 en 16:00 onderskeidelik van hul boeke Gebeente en Ek het ’n Engel gesien (stories van RSG-luisteraars soos byeengebring deur Bekker). Dr. Mathews Phosa gesels op Saterdag, 29 Junie, met Annemarie van der Walt oor sy Afrikaanse digbundel en twee geskiedenisboeke waarmee hy besig is, asook sy dekadelange verbintenis met die Afrikaanse kultuurlandskap. Phosa is ’n stigterslid en voorsitter van die direksie van Innibos. Om 13:00 op Saterdag, 2 Junie, gaan Riaan Grobler oor sy debuutroman, Geheime op Philadelphia gesels. Annemarie van der Walt is die gesprekleier wat hom ook gaan pols oor sy tweede roman waarmee hy tans besig is. ’n Gratis wynproe en praatjie deur Van Loveren word elke dag by die ATKV-Kuns- Boeke-oase gehou. Donderdag is dit om 15:00, Vrydag om 13:00 en Saterdag om 14:00.Hierdie wyne sal ook hier te koop aangebied word. Kunstenaars soos Coffee Snobs, Christof Berg, Alouise en Stix tree ook hier by die ATKV- Kuns- en Boeke-oase op. Buiten die boekgesprekke is die amptelike Innibos-kunsuitstalling Son of a Shopfitter, deur Luan Nel te sien in die uitstalruimte. Nel, vanjaar se feeskunstenaar, is ’n bekende Kaapstadse kunstenaar wat met dié uitstalling onder meer sy kindertyd herbesoek asook sy dwingende begeerte om sy kreatiwiteit uit te leef ondanks struikelblokke en beperkings. Toegang tot die ATKV- Kuns- en Boeke-oase is gratis.

Boekliefhebbers: ATKV-Kuns-en Boeke-oase Read More »

Speel lag-lag klaar met al die sorge en stres by Innibos

’n Heerlike keuse van komedie om die gemoedere te lig is te sien by Innibos Kunstefees vanjaar. Innibos is van 27 tot 30 Junie in Mbombela. Hospitale en wat daarmee gepaard gaan, is geen grap nie, maar soms is ’n skaterlag of meer ’n dag presies wat nodig is om weer beter te voel. Die talentvolle Wynand van Vollenstee is die teksskrywer en regisseur van die Innibos-komedie Hospitale, kateters en familie-lede én is op die verhoog te sien in hierdie skreeusnaakse debuut. Saam met hom in die rolverdeling is Stephanie Baartman, Thiart Li en Marissa Claasen. Die vier akteurs vertolk altesaam veertien verskillende karakters wat in ’n hospitaal verskeie onvermydelike misverstande, verwarrende mediese prosedures en ’n bedenklike spyskaart die hoof moet bied om gesond te word. Daarby is die toestand van die mediese toerusting maar so-so. Dis asof slegs die skelhelder buisligte wat dag en nag brand, al is wat werk. As daar egter een ding is wat Suid-Afrikaners kan doen, is dit om tragiese oomblikke te omskep in iets verkwikkend humoristies. In die talle situasies wat die meeste mense iets van sal herken, is die deurlopende draad van omgee en hoe mense mekaar deur selfs die donkerste uur kan bystaan. Hospitale, kateters en familielede is te sien by Bergland Laerskool op Donderdag, 27 Junie om 16:00, Vrydag, 28 Junie om 10:00 en Saterdag, 29 Junie om 15:00. Kaartjies kos R190. Nico Luwes, bekende dramaturg en skrywer voorheen verbonde aan die departement drama van die Universiteit van Vrystaat, het ’n kortverhaal van die Russiese meester Anton Tsjechov verwerk as ’n klug waarmee menige rooiwynliefhebbers sal kan vereenselwig. Ou Wyntoon en die weerlose kreatuur gaan oor wanneer dit voel “asof sewe perdebye jou onder die toonnael gesteek het” en dit boonop vererger word deur ’n kermende vrou met haar eie agenda. Sy is ook glad nie so weerloos soos sy voorgee nie. Luwes se belangstelling in die klassieke skrywer Tsjekov van Rusland – ook die skrywer van die bekende Die Kersieboord – duur al dekades en hy het voorheen verskeie stukke verwerk. Esther von Waltsleben, Johann Nel en Jan-Hendrik Opperman is die trio wat teatergangers aan die skaterlag gaan hou. Klugte is heerlik oordrewe en net die ding om jou van die alledaagse sorge te laat vergeet. Kaartjies kos R190 en dit is te sien by Laeveld Laerskool op Donderdag, 27 Junie, om 10:00, Vrydag, 28 Junie, om 16:00 en Saterdag, 29 Junie, om 10:00. Schalk Bezuidenhout is slimmer, skerper en snaakser as ooit tevore in Mamma se groot seun. Dié standup debuteer by Innibos Kunstefees en aanhangers moet beslis nie gras onder die voete laat groei om kaartjies in die hande te kry nie. Daar is slegs een vertoning en wel op Saterdag, 29 Junie, om 12:00 in die Nelspruit Hoërskool Ouditorium. Kaartjies kos R180.

Speel lag-lag klaar met al die sorge en stres by Innibos Read More »

Feesterrein met al die regte bestanddele vir heeldag kuier

Innibos-feesgangers hoef nie te wag vir elke aand se superkonsert op die hoofverhoog nie, maar kan sommer vroegdag reeds lekker in die feesgees kom. Die Innibos Kunstefees in Mbombela is van 27 tot 30 Junie vanjaar, en die feesterrein by Hoërskool Bergvlam  open daagliks om 10:00. Op die feesterrein is nie minder nie as drie kuierverhoë. Die Nashua-verhoog is reg oorkant die hoofverhoog, die kykNET-verhoog in die Bosmôl en laastens die verhoog in die Wingerd Kuiertuin. Sangers wat deur die loop van die fees op die kuierverhoë gaan optree, sluit in Coffee Snobs, Damian Beer, Janie Bay, Natascha C, Jan-Mattys en John Rock Prophet. As jy lus het om kort en komiese toneelsketse te sien, is die Laevelder Boma-kuierteater die plek om te wees. Op die program is André die Skreeusnaakse Hipnotiseur wat jou sal laat skater van die lag. Trek sommer die waagmoedige skoene aan en wees ’n vrywillige deelnemer in dié vertoning om uit te vind wat jy bereid is om te doen onder hipnose. Wynand van Vollenstee is te sien in die Die Begrafnisrede oor die uitdagings wanneer die tydelike met die ewige verwissel word. Dit is ’n ligte blik op ’n netelige lewenskwessie. Ewe komies is die ander eenmanproduksie Draf, Boela! Draf! deur Tiaan Slabbert. Hy is in die rol van Boela Botha van die Moot in Pretoria wat in ʼn polisie-ondervragingskamer beland ná ’n klein mistykie wat eindelik ’n hele gemeenskap saamsnoer. Dik Deurmekaar is komedie met skerpskerts gekruis deur Mel die Storieverteller van internet-faam, terwyl die akteursegpaar Esther von Waltsleben en Jan-Hendrik Opperman in Sewe Sakke Sout die konsternasies en blapse van 20 jaar se getroude lewe deel. Wees ook elke dag by die Laevelder Boma-kuierteater wanneer Francois Jacobs gesels met bekendes soos die rugbyman Hammie Wessels, akteurs van Binnelanders, en Brendan Peyper, wat dalk net ’n paar geheime gaan verklap oor die onlangse Op my eish! Om die Innibos-feesterrein te geniet met kleingoed kan soms uitdagend wees, maar met die propvol program van 11:00 tot 17:00 daagliks by die SPAR Woelwaters (in die skoolsaal) kan jy vir seker weet hulle word ook op ’n gepaste manier vermaak. Daar is onder meer die Fliep-Flappers (opvoedkundige kindertoneel), Kok en die lawwe rot, Miemsie en die vervlakste leeu, Ronnie die Renoster, ATKV-Storietyd, Spar Kolwyntjiepret, en speeltyd saam met FUN GALORE. Vir die kleinspan wat ingeteken is, is daar middagete, wat moontlik gemaak word deur SPAR en SUNBAKE. Daar is ook ’n aand-oppasdiens. Bekwame personeel sien na die kleintjies om teen ’n billike tarief. Vanjaar is daar ook ’n spesiale doekomruilstasie by SPAR Woelwaters wat geborg word deur SPAR Little Munchkins so jy hoef nie tussen ’n klomp vreemdelinge en op ’n ongemaklike plek te sukkel nie. By die doekomruilstasie is daar produkte van Little Munchkins wat jy gerus kan gebruik, asook ’n gemakstoel vir wanneer baba gevoed moet word. Hou ook ’n oog oop vir die flambojante buskers wat weer vanjaar oral op die Innibos-feesterrein te sien sal wees. Van steltlopers tot reusagtige poppe wat uit die bloute verskyn, gaan jou lekker verras en die mond laat oophang vir The Psychedelic Theatre-geselskap se akteurs.

Feesterrein met al die regte bestanddele vir heeldag kuier Read More »

Innibos-toneel bring die beste akteurs na die Laeveld

Van die room van Afrikaanse akteurs is vanjaar op die verhoog by die Innibos Kunstefees en Laevelders wat uitgehonger is vir goeie, komiese en meesleurende toneelstukke kan uit van die beste aanbiedinge kies. In ’n uiteenlopende verskeidenheid toneelstukke is onder andere Sandra Prinsloo, Rika Sennett, Adriaan Havenga, Cindy Swanepoel, Je-ani Swiegelaar, Louw Venter en Ben Albertyn te sien. ’n Tema wat in meer as een van die stukke aan die bod kom, is verhoudings, hetsy tusse pa en seun (Albatros), vreemdelinge wat meer van mekaar weet as te wagte (Forte), met die verlede en die self (Die Vrou op die Dak) en tussen ’n egpaar wat soos ’n Siamese tweeling aan mekaar gegroei het en nie weet hoe om die toekomstige pad afsonderlik aan te pak nie 1 (Een). Sandra Prinsloo en David Ralph Viviers lewer ’n kragtoer in Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan. Dié ellelange titel verklap iets van die oorgang na die hiernamaalse wat toe glad nie so glad verloop vir die karakter Nora (Prinsloo) nie, maar eerder voel soos die administratiewe chaos van ’n staatsdienskantoor. Viviers is ’n wenner van onder meer ’n Fleur de Cap-toneelprys, en het verlede jaar ook sy eerste roman die lig laat sien. Sy spel in Op die hoek… het teatergangers by die KKNK vanjaar se asem weggeslaan. In 1 (Een) laat val Cindy Swanepoel haar mantel as sepiester en pak sy saam met Zak Hendrikz ’n komiese en magiese teaterstuk aan onder die ervare regie van Alby Michaels. Hulle is die paartjie Hiss and Hirr wat so aan mekaar vasgegroei het en noudat hulle wil skei, is dit ’n hengse probleem. Dit is ’n tong-in-die-kies besinning oor die of die mens ooit bestem is om sy ander helfte te vind. Je-ani Swiegelaar is die Die Vrou op die Dak wat haar lewe in oënskou moet neem wanneer sy die kans om alles – van man tot huis – gaan verloor. Tussen die bakleiery met die huisslopers, haar bure en omstanders is die huis se dak haar toevlug. Daar lyk die blik op die wêreld darem anders, en bied dit dalk ’n uitkoms. Swiegelaar se spel in dié stuk is beskryf as “niks minder as buitengewoon en voortreflik nie”. Daar was al heelwat verhoogdramas oor ma’s en dogters, maar minder oor die verhoudinge tussen pa’s en seuns. Dit kom egter nou onder die loep in Albatros met Louw Venter en Ben Albertyn waar die twee mans woorde probeer vind terwyl hulle saam aan ’n boot bou. Dit is een van die vlagskipproduksies by vanjaar se Innibos. Rika Sennett se toneelervaring kom tot sy volle reg in die drama Forte saam met Adriaan Havenga. Havenga, op sy beurt, is geen groentjie nie en in 2023 bekroon met twee Fiësta-toekennings. Hy was ook al te sien in episodes van Die Byl, Lui maar op Belinda en verskeie ander produksies. In Forte is hy ’n vreemdeling wat by ’n wêreldbekende tjellis (Sennett) se deur opdaag met ’n geheim wat hy diep bewaar. Die volledige Innibos-program is op innibos.co.za. Klik daar op die Ticketpro-skakel om kaartjies te bespreek. Buiten Vrou op die dak, is al die ander produksies moontlik gemaak deur die Nasionale Afrikaanse Teater Inisiatief (NATi).

Innibos-toneel bring die beste akteurs na die Laeveld Read More »

Musiekteater gaan jou oorrompel by Innibos

Vanjaar bied Inibos musiekteater aan met van langpadtroebadoers, ’n skouspel in die Sudwala-grotte en ’n boy band soos van ouds tot van die beste sangers en akteurs vir woord en lied op die verhoog. Indien jy verkies om jou musiek opgedis te kry in kleiner maat en in ’n knus omgewing, is Nataniël se vertoning op Donderdag, 27 Junie, in die Sudwala-grotte iets wat jy nie wil misloop nie. Soos altyd kan jy ’n skouspel verwag, maar ook stories wat aanspraak maak op deernis en daardie ietwat aweregse blik wat Nataniël op die alledaagse bied. Soos oudergewoonte word Nataniël begelei deur Charl du Plessis, gerekende Steinway-pianis, en met die uitsonderlike akoestiek van die grotte sal konsertgangers meegevoer kan raak. Kaartjies kos R300. Noem die name Valiant Swart en Koos Kombuis in een asem, en ’n mens word sommer oorval met nostalgie van toe dié manne jare gelede op die musiektoneel verskyn het. Elkeen het sy eie stempel afgedruk en het suksesvolle solo-loopbane, maar by Innibos is hulle vir die eerste keer in ’n lang tyd weer saam op die verhoog. Vir musikale bystand is die kitaarspeler Illimar Neitz daar om afronding aan ’n keurvertoning te gee. Kaartjies kos R190 (Hoërskool Nelspruit Ouditorium). Boy bands is deesdae miskien nie meer so volop soos ’n klompie jare gelede nie, maar daar is darem min wat by die energie en harmonie van ’n klomp geoefende manne kan kers vashou. Dít kry jy alles in die vertoning Boys R Back – The Ultimate Boy Band Show met Germandt Geldenhuys, Lee Scott, Reynardt Hugo, Ruan Josh en Willem Botha. Daar is Westlife se ballades, die ongetemperde energie van Backstreet Boys, treffers van One Direction, ook musiek van NSYNC, Hi-5 en die jongelinge van destyds, Eden. Gaan op ’n heerlike reis terug na die verlede en laat die musiek jou dinge en tye onthou wat jy al lankal vergeet het. Kaartjies kos R200 (Höerskool Nelspruit Ouditorium). Mixtape van die liefde is veral vir diegene wat ’n voorliefde het vir sterk lirieke. Al is dit ’n stewige ensemble wat hier hul talente in een pot bymekaar roer, is dit ’n meer intieme musiekteater ervaring. Saam met Anna Davel, wat die teks saamgestel het uit ’n bloemlesing byeengebring deur Antjie Krog, is Jana Cilliers, Mathys Roets, Johny Klein, Stephanie Baartman, Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp. Hofmyer en Gropp doen ook die musiekregie. In die vertoning is dit liefde boweals, maar die stemme is divers en reik oor temas, kultuurgroepe en generasies heen. Dit is beslis ook nie net oor rooskleurige liefde nie, want ja, liefde is soms morsig en kan mense bietjie mallerig maak. Gee jou oor daaraan. Kaartjies kos R200 (Hoërskool Nelspruit Ouditorium).

Musiekteater gaan jou oorrompel by Innibos Read More »

Scroll to Top