Talle skrywers, joernaliste en lesers se paaie lei binnekort na Kaapsehoop wanneer die tweede Innibos Boekenaweek van 30 Augustus tot 1 September op dié bergdorp in Mpumalanga gehou word.
’n Hoogtepunt is die eerste en amptelike bekendstelling van Beeld 50: Om ’n groot storie hard te slaan – ’n omstrede onderwerp gegewe die moontlike sluiting van dié koerant. Barnard Beukman, redakteur van Beeld, en Erika de Beer, samesteller van Beeld 50, sal op Saterdag, 31 Augustus om 15:30 onder meer oor die harde werk agter die joernalistieke skerms gesels.
Lesers en boekliefhebbers word danksy die ondersteuning van die ATKV en die LW Hiemstra Trust verder getrakteer op boeke in ’n veelvoud van genres: van spanning- en jeugverhale, boeke oor aktuele kwessies, die grensoorlog en geskiedenis.
Die naweek skop Vrydagmiddag, 30 Augustus, af met die kollig op twee Kaapsehopers. Dana Snyman stel sy jongste boek Seun bekend, terwyl die oud-joernalis en eienaar van die Nagkantoor Kuierkroeg op Kaapsehoop se boek Contraband die lig laat val op die misdadige smokkelwêreld.
Lucinda Neethling, ook deel van die groep Die Melktert Kommissie, se solovertoning van musiek en woorde van haar album Uitgeskryf is die aand om 19:00 in die kapel by Silver Mist Gastehuis.
Saterdag, 31 Augustus, is ’n propvol boekprogram wat om 8:00 afskop met die nuutste pennevrug van Pieter Stoffberg Die beweging van bloed. Die jeugboekskrywers Fanie Viljoen en Constant van Graan gesels daarna oor hul jongste boeke, onderskeidelik Springboekie en Die geheim tussen die riete. Sterk vrouekarakters is die kenmerk van romanskrywers Chanette Paul (Anoniem) en Dibi Breytenbach (Heks). Dié twee tree met mekaar in gesprek.
Operasie Sceptic tydens die grensoorlog kom aan die bod in Deon Lampbrecht se boek Bloedbroers (ook in Engels beskikbaar), terwyl Roy Havemann gesels oor die oplossings wat hy voorstel in sy boek How to fix a country.
Sondagoggend word die naweek afgesluit met ’n boekgesprek oor Marthie Momberg se 21 Voices from Israel and South Africa – why the Palestinian Struggle Matters en Fransjohan Pretorius oor Commando, die veelgeprese verhaal van Deneys Reitz wat onlangs van belangrike gegewens bygewerk is deur Pretorius.
Al hierdie is moontlik gemaak deur ondersteuning van die ATKV en die Hiemstra Trust.
Al die gesprekke (buiten die bekendstelling van Beeld 50) en Lucinda se optrede vind plaas in die kapel by Silver Mist Gastehuis op Kaapsehoop. Kaartjies is by die deur te koop (slegs kaarttransaksies). Lucinda se vertoning kos R150. Die boekgesprekke is R40 elk of koop ’n naweekpas vir R200.
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na annemarie@innibos.co.za