fbpx

Innibos

2024 Innibos Kunstefees se feestafel is afgedek…

Sowat 75 000 besoekers het vanjaar by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees se feestafel van 27 tot 30 Junie in Mbombela aangesit.

Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, sê die kunstefees se bestuur is tevrede en baie dankbaar vir die goeie bywoningsyfer. “Die hoofverhoog op die feesterrein was soos altyd ’n groot trekpleister en daar was elke aand skaars plek vir ’n muis. Die optrede van die Mzanzi Jeugkoor was beslis een van die kersies op die koek tydens die afsluitingskonsert.”

Produksiekaartjies vir toneel, musiekteater en ander vertonings het flink verkoop tydens die fees. Kaartjies vir die leefstylproduksie Kostelik, die ATKV-Boekecrawl op Kaapsehoop, en die Musikale Meander en Nataniël se konsert, albei in die Sudwala-grotte, was reeds uitverkoop voor die kunstefees afgeskop het.

Onder die verhoogstukke was die topverkoper die komedie Hospitale, kateters en familielede, met Boys R Back wat eweneens goed bygewoon is. Die drama met Sandra Prinsloo en David Viviers, Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan, se kaartjies het ook goed verkoop, sowel as dié van Die vrou op die dak met Je-Ani Swiegelaar en Schalk Bezuidenhout se stand-up Mamma se groot seun.

Philna Scholtz, programbestuurder van Innibos, sê goeie komedies kry meestal die grootste aftrek by feesgangers. Die nuwe ATKV- Kuns en Boeke-oase by Nelspruit laerskool het ook goeie aftrek gekry met interessante boekgesprekke en kunsuitstallings wat daar aangebied is.

Altesaam meer as 250 kunstenaars het vanjaar tydens die fees opgetree, ingesluit akteurs, musikante, skrywers en dansers.

Die feesterrein by Bergvlam Hoërskool met sy wye aanbod uitsoekstalletjies,  heerlike feeskos en voldag vermaak was, soos altyd, die hartklop van die fees. Die volgepakte Boma Kuierteater, Wingerd Kuiertuin en Woelwaters kindervenue het hiervan getuig. Die gewilde aandkonserte was eweneens ’n groot sukses. Juanita du Plessis is vanjaar by een van hierdie geleenthede vereer. 

Volgens Andy Lubbe, feesdirekteur, bly dit ’n uitdaging om ’n kunstefees van hoogstaande gehalte aan te bied in knap ekonomiese tye. “Innibos is by uitstek ook ’n familiefees wat vermaak  aan so ’n wyd moontlike gehoor wil aanbied. Dit is moontlik danksy die ondersteuning van die ganse Laeveldse gemeenskap, borge, diensverskaffers, en vanselfsprekend die entoesiastiese feesgangers.”

Scroll to Top