Liefhebbers van lees, boeke en woorde moet nie die eerste Innibos Boekenaweek van Vrydag, 1 September, tot Sondag, 3 September, op Kaapschehoop misloop nie.
Die program skop af met die bekendstelling van Dana Snyman se jongste boek, Die binneland in, om 15:00 op Vrydag, 1 September. Die Bloemfonteinse skrywerfilosoof Johann Rossouw stel daarna sy splinternuwe boek, Sluitstuk, bekend waarna die fokus na Afrika-avonture verskuif met Tony Park se Vendetta, ook pas op die rakke. Die aand word afgesluit met ’n Filosofiekafee.
Die rou en soms skokkende stories van Suid-Afrikaanse mans wat in die 1970’s en 1980’s verplig is om weermagdiens te doen, kom in die eerste boekbespreking (Diensplig) op Saterdag, 2 September, om 9:00 onder die vergrootglas. Dan volg Kaapsehoopse skrywer Alita Steenkamp se Uit die vuur, Carina Stander kom gesels oor haar meesleurende Bergengel-trilogie en bring van haar kunswerk saam, en SJ Naudè, ontvanger van die Hertzogpryswenner vir prosa verlede jaar, stel sy boek Van vaders en vlugtelinge bekend.
Nóg ’n Hertzogpryswenner, digter Johan Myburg, en Tom Dreyer, wat pas sy buiging as debuutdigter gemaak het, gesels met mekaar oor onder meer hul onderskeie bundels Narreskip en Nou in infrarooi. Sondagoggend vertel Stefaans Coetzer meer oor sy boek Onbeskryflike genade waarom hy méér is as sy donker verlede wat moord en tronkstraf insluit.
Die Laeveldse groep digters van Words in my Mouth sal hul ook Saterdag slag wys met die voordrag van hul gedigte. Een van die hoogtepunte sal beslis ook wees wanneer Susan Booyens, joernalis en wenner van die meeste prysgeld nóg Wie word ’n miljoenêr lesers se boekkennis en meer gaan troef in die letterkunde-vasvra.
Gert Vlok Nel is Saterdagaand op die verhoog met sy beautiful woorde.
Die Innibos Boekenaweek op Kaapschehoop kos R50 per boekgesprek. Gert Vlok Nel se vertoning kos R150. Kaartjies is by Quicket (quicket.co.za) te koop.
Verblyf is beskikbaar by ’n verskeidenheid gastehuise en selfsorgplekke in Kaapschehoop.
Vir meer inligting oor die Innibos Boekenaweek, kontak Annemarie van der Walt by 083 289 3823.
Tyd: 15:00-16:00
Venue: Oppitoneel by Nagkantoor, Kaapschehoop
Gesprekleier: Stefaans Coetzee
Kaartjieprys: R50
Dana Snyman reis land-in, op soek na sekerheid en lig. In die nadraai van die pandemie, met beurtkrag, oorloë en die politiek, begin mense moed opgee, ook oor hulself. Maar Dana vind hoop, liefde – en geloof. In Die binneland in verken hy veral geloof, van sy eerste bekering by ’n avontuurkamp tydens sy laerskooldae tot waar hy ’n kers aansteek in ’n Franse katedraal.
Dana rou oor dié wat weggeval het, en hier ná 60 leer Dana met onsekerheid saamleef. Nie ’n moedelose, desperate onsekerheid nie, maar ’n hoopvolle onsekerheid. Want die heelal is deurdrenk met die Groot Misterie.
Dana Snyman is ’n bekroonde skrywer met ’n rits topverkopers agter sy naam.
Tyd: 16:30-17:30
Venue: Oppitoneel by Nagkantoor, Kaapschehoop
Gesprekleier: Susan Booyens
Kaartjieprys: R50
Drie jaar ná die dood van die grootste Afrikaanse skrywer kom ’n Nederlandse vrou na Suid-Afrika om navorsing vir ’n biografie oor hom te doen. Sy besoek die skrywer se voormalige vakleerling – bykans dertig jaar na die twee se paaie pynlik geskei het.
Onder die deurdringende blik van die biograaf lê die vakleerling, eens ’n aspirantskrywer en nou ’n Zen-monnik, hul vervlegte lewens bloot in die bestek van een nag. Sluitstuk is ’n elegiese roman oor verlange, verlies, wraak en versoening wat die roete na stilte en die skeppingsimpuls verken.
Johann Rossouw is die skrywer van ’n Rooi Z4 en ’n Renaissance-kasteel en Verwoerdburg. Hy skryf ook artikels en rubrieke vir verskeie publikasies.
Tyd: 18:00-19:00
Venue: Oppitoneel by Nagkantoor, Kaapschehoop
Gesprekleier: Annemarie van der Walt
Kaartjieprys: R50
Scores will be settled and a price will be paid. Captain Sannie van Rensburg and safari guide Mia Greenaway are caught in the crossfires of a decades-old feud between five veterans of South Africa’s Border War.
Haunted by the deadly mission that shaped their lives forever, the ex-paratroopers must finally confront their demons and each other, at the funeral of a comrade in the red dunes of the Kalahari. Each man must ask himself: When serving your country, what makes you a hero, and what secrets are worth dying for?
Tony Park does adventure, and suspense in a way that very few authors can. He hails from Australia, but Africa is where he feels at home.
Gesprekleier: Susan Booyens
Tyd: 9:00-10:00
Venue: Oppitoneel by Nagkantoor, Kaapschehoop
Kaartjieprys: R50
“Aan die einde van 12 weke se basiese opleiding moes al hierdie mans weet hoe om te skiet en baie moes bereid wees om dood te skiet.” Anelia Heese hervertel in dié boek die rou en soms skokkende stories van Suid-Afrikaanse mans wat in die 1970’s en 1980’s verplig is om weermagdiens te doen. In Diensplig praat van dié mans, baie van hulle vir die eerste keer, openhartig oor hul ervaringe.
Sy gesels met die bekroonde joernalis Murray La Vita, die skrywer Deon Lamprecht, genl.maj. Roland de Vries en talle ander oor hulle ondervindings in die weermag. Die meeste dienspligtiges was eintlik maar nog seuns toe hulle gedwing is om aan te tree en hul hare onseremonieel afgeskeer is.
In die boekbespreking gaan Susan Booyens – soos die skrywer Anelia – soms ongemaklike vrae om te help sin maak van diensplig en die nadraai daarvan. Soos wie nou eintlik die vyand was, en wat dit beteken om jou land te dien.
Tyd: 10:30-11:30
Venue: Oppitoneel by Nagkantoor, Kaapschehoop
Gesprekleier: Annemarie van der Walt
Kaartjieprys: R50
Deur die vuur is meer as ’n jeugverhaal. Simon Spies se boetedoening en straf nadat hy en van sy maats net voor ’n Julie-vakansie uit die skool geskors word, is om vir ’n vakansie op ’n perdeplaas te moet gaan werk. Hy haat perde, en sy ma weet dit is die ergste straf wat sy hom kon oplê.
Op Brumbie’s Cove leer ken hy ’n perdefluisteraar, ’n meisiekind wat onverstaanbaar lief is vir die simpel perde, en Avik, die vosperd met die ster op die voorkop en die donkerbruin oë wat altyd so diep kyk.
Maar dan begin die wêreld om Brumbie’s Cove brand. Hoe gaan almal deur die vuur kom?
Alita Steenkamp is ʼn vryskutjoernalis en -skrywer van Kaapsehoop. Uit haar pen is onder meer die biografieë My pyn, my glorie – die storie van Hestrie Cloete-Els, Onsinkbaar – Loui Fish se verhaal, Mathys Roets se Steeds Mathys, en Wit Wolf – Die storie van die Worcester bomplanter se bevryding. Deur die Vuur is haar eerste jeugroman.
Datum: Saterdag, 2 September
Tyd: 14:00-15:00
Venue: Kapel by Silver Mist Gastehuis, Kaapschehoop
Kaartjieprys: R50
Carina Stander het nuwe wêrelde geskep in die trilogie Bergengel, Wonderwese en Die Waterplek: Afrika (deel 1) wat selde voorheen in Afrikaans gedoen is.
Sy is ook ’n digter en die bundels die vloedbos sal weer vlieg en woud van nege en negentig vlerke het uit haar pen verskyn. Haar debuutroman, Wildvreemd, verskyn in 2011.
Carina is ook ’n beeldende kunstenaar en bring van haar kunswerke saam na die klein kapel op Kaapsehoop waar sy meer gaan vertel hoe haar wêrelde – die sienbare en die onsienbare – vergestalting kry.
Kom word deel van dié wonderwêreld.
Datum: Saterdag, 2 September
Tyd: 15:30-16:30
Venue: Kapel by Silver Mist Gastehuis, Kaapschehoop
Gesprekleier: Annemarie van der Walt
Kaartjieprys: R50
Daniël voer ’n trekvoëlbestaan tussen Londen en Kaapstad. Wanneer sy bejaarde pa sterf, bevat dié se testament ’n ongewone klousule: Daniël sal slegs sy deel van die boedel erf indien hy besoek aflê by sy neef Theon, op die ou familieplaas in die Vrystaat.
Dié besoek lei tot ’n ander reis – hy en sy neef neem ’n siek seuntjie na Tokio, met die hoop dat ’n nuwe soort behandeling die kind sal genees.
’n Aangrypende roman deur die Hertzogpryswenner skrywer SJ Naudé.
Datum: Saterdag, 2 September
Tyd: 17:00-18:00
Plek: Kapel, Silver Mist Gastehuis, Kaapschehoop
Kaartjieprys: R50
’n Gesprek tussen denkende digters.
Johan Myburg se Narreskip is in 2020 bekroon met die Hertzogprys en dié bundel word deur Louis Esterhuizen beskryf as: “Nog selde het ek ʼn versameling gedigte teëgekom wat so volgehoue en voluit op satire ingestel is … Bykans die totaliteit van menswees en menslike prestasie word in hierdie gedigte voor stok gekry: van die klassieke skrywers en mitologieë, tot die hedendaagse; so ook die visuele kunste en musiek.”
Tom Dreyer, bekroonde skrywer, se debuutdigbundel Nou in Infrarooi verweef fisika, die metafisiese, en selfs wetenskapfiksie. Soos die titel suggereer, gaan dit hier oor dit wat sigbaar is versus dit wat nié deur blote sig waarneembaar is nie. Bestaande plekke – sommige naby en ander ver – word taktiel en ewokatief in reisgedigte uitgebeeld. Hiermee saam hang die verkenning van die onsigbare: van identiteit, ’n soeke na waar jy hoort, weemoed en liefde.
Gert Vlok Nel se Show
Datum: Saterdag, 2 September,
Tyd: 19:00
Venue: Oppitoneel by Nagkantoor, Kaapschehoop
Kaartjieprys: R150
Daar min plekke beter om Gert Vlok Nel op die verhoog te beleef as op die ewe enigmatiese dorp Kaapsehoop. Kom luister na van die mooiste woorde in Afrikaans, soos net Gert dit beautiful kan maak.
Datum: Sondag, 3 September
Tyd: 10:00-11:00
Venue: Oppitoneel by Nagkantoor, Kaapschehoop
Gesprekleier: Dana Snyman
Kaartjieprys: R50
“Ek is Stefaans Coetzee. Ek is ’n kind van God. Ek is ’n man en ’n pa. Ek is nie my verlede nie.” Stefaans Coetzee is ’n omroeper, boekresensent, pa en man. Hy het ook ’n donker verlede, wat vier mense se dood veroorsaak het. Daarna het hy boete gedoen vir sy dade.
Hierdie is sy storie, van ’n dronk pa, donker kinderhuisjare en die begeerte om te behoort wat hom in die tronk laat beland. Dit is die verhaal van hunkering na ’n lewensmaat, ’n kind en ’n nuwe begin, los van sy gru-verlede. In Julie 2015 word hy op parool vrygelaat nadat hy 18 jaar tronkstraf uitgedien het. Sy fisieke én geestelike bevryding tref ’n mens.
Stefaans weier om deur daardie onvergeeflike daad gedefinieer te word. Hy is meer as sy verlede. Hy is ’n nuwe mens, ’n pa vir sy seuns, ’n man vir sy vrou en ’n boekliefhebber, en ’n aktivis vir versoening, geregtigheid en restitusie.