Na ʼn afwesigheid van 4 jaar is die boeke-crawl weer terug op die Innibos spyskaart. Hierdie produksie was een van Innibos se wenresepte en die kaartjies daarvoor was elke jaar héél eerste uitverkoop.
Met woorde, sinne, verse, verhale en musiek is die ATKV Boeke-crawl ʼn unieke en eiesoortige woordreis.
Die ATKV Boeke-crawl is ʼn moet vir elke feesganger wat glo in die krag van die woord, hetsy ʼn greep uit ʼn roman deur ʼn topskrywer, ʼn kortverhaal wat jou laat regop sit, of ʼn trefseker gedig. Voeg daarby musiek en die tafel is gedek vir kos vir die siel.
Feesgangers kry ʼn doppie-koppie met ʼn knertsie Van Loveren Muskadel en ʼn serp om die ergste koue van die mistieke dorpie, Kaapsehoop, te besweer. Daar is drie aandoenplekke waar daar rondom boeke, woorde en wysies gekuier gaan word.
Die eerste aandoenplek is Bohemian Groove Café waar daar rondom die letterkunde van die liefde gekuier gaan word. Hier gaan akteur Johny Klein en sanger Refentse wys hoe vloei woord en lied ineen in ʼn vlegsel van letter en klank. Alles rondom die emosies wat liefde ontlok. Werke van verskeie skrywers gaan naatloos verweef word tot pure lekkerkry.
Die tweede aandoenplek is die Kapel by Silver Mist Country Inn. Hier gaan die groot gees van Afrikaans letterkunde Etienne van Heerden gesels oor sy magiese roman Gebeente en ook fragmente daaruit voorlees. Die regte atmosfeer gaan met kitaar en viool geskep word deur Dirkie van Staden en Johan Scheppel.
Dan stap die feesgangers na Nagkantoor se OppiToneel waar feesgangers getrakteer gaan word met lekkerte uit die oeuvre van Koos Kombuis. Uit hierdie kulturele ikoon se pen het ʼn outobiografie, roman, riller, talle rubrieke, kortverhale, gedigte en liedjies gevloei. Die bekende aktrise, Jana Cilliers, gaan van sy treffende werke voorlees, terwyl Koos self sy liedjies gaan sing.
Hongerpyne word afgeweer deur ligte verversings by die aandoenplekke. Laataand keer die busse weer terug na Mbombela.
Die ATKV Boeke-crawl is die plek waar die krag van die woord gevier word. Dit vind plaas op Donderdag, 27 Junie 2024. Die eerste bus vertrek 15:00 en die tweede 17:00. Kaartjies kos R350.