Innibos

ATKV Kuns en Boekeoase

Vir liefhebbers van kuns en boeke is die ATKV Kuns- en Boekeoase net die plek om tydens die fees te besoek.

By die pragtige Kultuursentrum van Nelspruit Laerskool word daar daagliks boekgesprekke aangebied. Etienne van Heerden gaan oor sy boek Gebeente gesels en Leon van Nierop stel sy splinternuwe roman Droomjagter bekend. Mathews Phosa kom gesels oor sy liefde vir Afrikaans en sy derde Afrikaanse digbundel wat in wording is.

Daar gaan ook heerlike musiek gemaak word om hierdie knus atmosfeer te verryk. Sangers soos Alouise, Christof Berg, en Coffee Snobs gaan hier optree.

Die Innibos Kunsuitstalling beloof om hierdie jaar die kersie op die koek te wees. Feeskunstenaar Luan Nel se pragtige kunswerke gaan hier uitgestal word. Vandat hy in 1998 die beoordelaars se prys vir Sasol New Signature kompetisie gewen het, het hy ontwikkel tot ʼn gerekende kunstenaar wat al nasionaal uitgestal het. Sy kunswerke gaan beslis kos vir die siel wees.

Johan Myburg is Innibos se feesdigter en hy het spesiaal vir Innibos gedigte geskryf rondom die tema Feesmaal. Hierdie gedigte het as inspirasie gedien vir kunswerke wat ook hier uitgestal gaan word. 

Hierdie gaan beslis die plek wees om vir ʼn wyle tydens die fees te parkeer. Want behalwe vir die kuns en boekgesprekke, is daar ook heerlike kos, gin en wyn te koop. 

Scroll to Top