Innibos

Toyota Innibos en die Laeveld: Die perfekte wintersvakansie op jou voorstoep

Nelspruit (Mbombela), Mpumalanga – Waarom ure op die pad deurbring wanneer een van Suid-Afrika se gewildste wintersvakansiebestemmings reg op jou voorstoep wag? Hierdie winter bied die Toyota Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees aan Gautengers, Laevelders en inwoners van die breër Mpumalanga-streek die ideale geleentheid om ‘n onvergeetlike vakansie te geniet sonder om ver te reis.

Die Laeveld is reeds bekend as ‘n top-vakansiebestemming wat jaarliks duisende besoekers lok met sy aangename winterklimaat, natuurskoon, wildlewe en wêreldklas-toerisme-aanbiedinge. Voeg daarby die energie en verskeidenheid van Toyota Innibos, en jy het die resep vir die perfekte gesinswegbreek.

“Die Laeveld is een van Suid-Afrika se mees geliefde vakansiebestemmings, en Toyota Innibos voeg nog ‘n unieke dimensie tot dié ervaring by. Besoekers hoef nie net die fees te geniet nie, maar hul hele vakansie rondom Innibos beplan en terselfdertyd die ongelooflike besienswaardighede van die streek ontdek. Dit is die ideale kombinasie van kultuur, ontspanning, avontuur en gesinstyd,” sê Naranda Leeuwner, Bemarkingsbestuurder van Toyota Innibos.

Vir feesgangers wat bloot die gees van die fees wil ervaar, bied Innibos die hartklop van die wintervakansie. Musiek uit die boonste rakke van die land se gewildste kunstenaars, sorg daagliks vir onvergeetlike vermaak. Teaterliefhebbers kan ook uitsien na produksies met van Suid-Afrika se beste akteurs en kreatiewe talent op die planke.

Vir diegene met koopkoors is die feesterrein ‘n ware paradys. Meer as 300 stalletjies bied alles van kuns en handwerk tot mode, juweliersware, dekor, lekkernye en unieke geskenke. Dit is die ideale plek om rond te kuier, nuwe produkte te ontdek en die kreatiwiteit van Suid-Afrikaanse entrepreneurs te ondersteun.

Boekgesprekke, kuns en kosmaakgiere word ook daagliks op die kuierverhoë aangebied. 

Die adrenalien-soekers word ook nie afgeskeep nie. Die gewilde pretpark bied vanjaar weer ‘n spesiale aanbod van slegs R1 000, wat besoekers daagliks tussen 10:00 en 17:00 onbeperkte toegang gee tot die ritte. Dit beteken ure se opwinding vir die hele gesin en die geleentheid om jou “gô” behoorlik uit te ry.

Kinders word intussen eindeloos vermaak met aktiwiteite wat nie net pret bied nie, maar hulle ook aan die kunste, ’n wonderwêreld van stories, kultuur en kreatiwiteit blootstel. Innibos bly ‘n fees waar gesinne saam herinneringe kan bou en waar elke ouderdomsgroep iets spesiaals kan beleef.

Die fees vorm ook die perfekte basis vanwaar besoekers die groter Laeveld kan verken. Vakansiegangers kan hul verblyf uitbrei met ‘n besoek aan die wêreldbekende Kruger Nasionale Park, die indrukwekkende Graskop Gorge Lift Company se Glass Lift en kloof-staproete ervaar, of die talle watervalle, panoramaroetes, natuurreservate en avontuurbestemmings van die streek ontdek.

Van kultuur en musiek tot avontuur, inkopies, natuur en gesinstyd, die Laeveld bied alles wat vakansiegangers se harte begeer. Hierdie winter hoef jy nie ver te ry om ‘n wêreldklas-vakansie-ervaring te geniet nie.

Toyota Innibos en die Laeveld wag vir jou – die perfekte wintersvakansie is nader as wat jy dink, want hier vier ons ALLES wat IN is!

Scroll to Top