Innibos

By Innibos is die jongspan die VIP’s – en laerskoolkinders kom steeds GRATIS in!

Vir Toyota Innibos is dit vir ons uiters belangrik dat die jonklomp die fees tot sy maksimum geniet en daarom kom laerskoolkinders steeds gratis feesterrein toe. Volgens feesbestuurder, Andy Lubbe, plaas Innibos ‘n baie sterk fokus op kinders en gesinne. Dit  moet ‘n fees wees waar die hele gesin welkom voel en waar daar iets is vir elke ouderdom,” sê Andy.

Van die oomblik wat jong feesgangers deur die hekke stap, wag daar ‘n wêreld van opwinding. Die feesterrein is propvol aktiwiteite, vermaak en lekkernye wat kinders se oë laat rek. Met meer as 300 stalletjies is daar oral iets nuuts om te ontdek, van speelgoed en unieke produkte tot interessante skatte en verrassings om saam huis toe te neem.

Die kosstalletjies bly natuurlik een van die groot gunstelinge. Kinders kan uitsien na al die feesgunstelinge waarvan hulle droom; van hamburgers, pizza cones en chipsticks tot bubble tea, bubble pancakes, corn dogs, rolroomys, donuts, marshmallows asook die gewilde aarbeie en room. Dis die soort plek waar elke draai ‘n nuwe lekkerte inhou en alles vier wat IN is.

Hou jou beursie nader, want vir die energieke avonturiers is die gewilde pretpark weer terug en daagliks vanaf 10:00 oop. Hier wag opwindende ritte, helder ligte en hope adrenalien vir kinders wat graag hul dapperheid wil toets. En natuurlik word Ma, Pa, Oom, Tannie, Ouma of Oupa ook uitgedaag om dié ritte saam met die jonspan aan te pak.

Nog ‘n hoogtepunt op die program is Woelwaters, waar gratis vermaak die hele dag lank aangebied word. Jong feesgangers kan uitsien na optredes deur geliefde karakters en kunstenaars soos Jakkie NOU! saam met Felix en Pokkel, ATKV-Storiebos, Puppetrix se Wilde Wonders, B is vir Boelie, Ronnie die Renoster, Hooper gaan Skool toe en die gewilde towenaar, David Dee. Stories, musiek, laggies, poppekaspret en interaktiewe vermaak sorg dat daar nooit ‘n vervelige oomblik is nie.

Tieners word ook nie afgeskeep nie. Die Alternatiewe konsert op die kykNET-verhoog bied vanjaar ‘n vars reeks kunstenaars wat gewild is onder jongmense, soos G-String, Juan Bester, Droomsindroom, Saxby Twins en Coenie Naudé, terwyl die feesterrein vol sosiale media-waardige oomblikke, lekker ontmoetingsplekke en nuwe ervarings is. 

Aanhangers kan ook uitkyk vir influencers soos Ball & Banter of Dené Lindeque-Fouché (Denétjie) wat tussen 13:00 en 14:00 op Saterdag, 4 Julie haar verskyning by Inni Leefstyl saam met Jacques en Matie van Graan gaan maak. 

Vir die jong manne en ander sportliefhebbers word die Springbokke se wedstryd teen Engeland regstreeks op die grootskerm uitgesaai, wat beteken dat jy reeds van vroeg af jou plek kan inneem en die gees van die wedstryd kan geniet voordat die Hoofverhoogkonsert afskop.  En as jy klein kindertjies het, kan jy hulle na die kinderoppasserdiens neem by Woelwaters teen slegs R50 en die aankonsert in vrede geniet. Daar is jy verseker dat jou kind in veilige sorg onder bekwame personeel is, is terwyl jy jou longe uitskreeu vir jou gunsteling kunstenaars. (Vir besprekings skakel Louis Pienaar en span: 082 321 6311.)

Vanaf die feesterrein,  kan gesinne ook die splinternuwe familieproduksie “Jakkie NOU: die 3 varkies en die Gen Z wolf”  by Laerskool Laeveld beleef. In dié moderne weergawe van Die Drie Varkies kry die bekende sprokie ‘n prettige nuwe baadjie waar die Groot Slegte Wolf eerder ‘n TikTok-ster is as ‘n huise-omblaser. Met humor, musiek en herkenbare situasies uit die digitale wêreld beloof die produksie vermaak vir oud en jonk.

Volgens Lubbe is die doel eenvoudig: “Ons wil hê kinders moet by Innibos aankom en voel die fees is ook vir hulle gemaak. Dis waarom ons soveel aandag gee aan kindervermaak, gesinsaktiwiteite en bekostigbare toegang. Wanneer die kinders gelukkig is, geniet die hele gesin die fees.”

Met gratis toegang vir laerskoolkinders, hope vermaak, lekker kos, avontuur, musiek, stories en gesinsaktiwiteite, bly Innibos een van Suid-Afrika se gewildste wintervakansiebestemmings vir jong en oud.

Innibos 2026 – waar die hele gesin se wintervakansie tot lewe kom. 

Besoek innibos.co.za vir kaartjies en inligting.

Scroll to Top