
By Toyota Innibos gaan dit nie net oor wêreldklas vermaak nie – dit gaan ook daaroor om seker te maak dat elke feesganger die fees gemaklik, veilig en sonder onnodige moeite kan geniet. Daarom bied die fees ’n verskeidenheid praktiese dienste wat ontwerp is om die hele Innibos-ervaring so gerieflik moontlik te maak.
“Ons wil hê mense moet hul tyd spandeer aan kuier, lag, musiek luister en herinneringe maak, nie bekommerd wees oor parkering, vervoer of waar om hul goed te bêre nie,” sê Andy Lubbe, feesberstuurder.

Parkering word ook maklik gemaak met die Stop en Hop-diens met komplimente van i’langa Mall, Citybug, Buscor en DNATel. Besoekers kan gratis by i’langa Mall parkeer en dan elke 30 minute met ’n pendelbus tussen die mall en die feesterrein vervoer word. Dit beteken minder verkeersdruk en meer tyd om die fees te geniet.

Vir feesgangers wat teaterproduksies in die stad wil bywoon, bied die gewilde TRAC Bossewa-diens ’n eenvoudige oplossing. Die pendeldiens vertrek vanaf die feesterrein 45 minute voor elke vertoning en vervoer besoekers na die verskillende teater-venues in Nelspruit. Retoerritte kos slegs R40. Ná die vertoning bring die Bossewa jou weer veilig terug na die fees. Bel 082 321 5443 om te bespreek.
Het jy ’n kampstoel, inkopiesakkies van die meer as 300 stalletjies wat jy besoek het, jou warm baadjie of ander items wat jou hande volmaak? Die Bêreplekkie bied veilige stoorgeriewe vir jou besittings. Die beste deel is dat die fooi wat betaal word om items te bêre, vir liefdadigheid aangewend word.
Gesinne word ook nie afgeskeep nie. Die gewilde Woelwaters-kinderoppasdiens maak dit moontlik vir ouers om die aandkonserte sorgvry by te woon, terwyl kinders veilig versorg en vermaak word. Ná afloop van die vertoning kan ouers hul kinders weer kom haal. Bespreek by 082 321 6311.
En om almal verbind te hou, is daar ook gratis WiFi met trots geborg deur Nashua op die feesterrein beskikbaar.

Van musiek, teater, leefstyl en kos tot gerieflike vervoer, veilige stoorplek, kinderoppas en gratis internet – Toyota Innibos bewys weer dat ’n suksesvolle fees nie net gaan oor wat op die verhoë gebeur nie, maar ook oor die gemak wat die mense beleef.
By Toyota Innibos is alles in plek sodat feesgangers minder sukkel en meer kan geniet wat IN is!