As die jaar se spertye, vergaderings, WhatsApp-groepe en alledaagse stres jou lagspiere laat verswak het, is dit tyd om hulle weer behoorlik te kom oefen by Toyota Innibos. Van skreeusnaakse komedies en satiriese spitsvondigheid tot nostalgiese humor en onvergeetlike karakters. Vanjaar se feesprogram bied iets vir elke lagliefhebber.
Philna Scholtz, Programbestuurder van Toyota Innibos, sê een van die fees se mees unieke aanbiedinge is Crybaby, ’n absurde tragikomedie met Frank Opperman, Nicole Holm, Wian Taljaard, René Cloete en Gantane Kusch. Wanneer ’n driejarige kleuter binne oomblikke van sorgvrye kind na uitgeputte volwassene transformeer nadat hy die nuus aanskou, ontvou ’n skerp, humoristiese blik op die wêreld waarin ons leef. Die produksie laat gehore lag én dink, terwyl dit herinner dat grootword nie vir sissies is nie.
Vir diegene wat van chaos, misverstande en uitspattige humor hou, is Sirkus L’Amour ’n moet-sien. Hierdie kleurvolle komedie neem gehore agter die gordyne van ’n sirkus waar alles skeefloop wat moontlik kan. Van waaghalse in die moeilikheid tot narre met hul eie uitdagings en liefdesdramas wat alle perke oorskry, beloof dié produksie lagbuie van begin tot einde met legendes soos Wynand van Vollenstee, Thiard Li, Marissa Claasen en Zoricke Snyman.
Die gewilde Magda Louw en haar Eckhard: How Louw Can You Go met Desiré Gardner en Hannes van Wyk op hul beste, word die uitdagings van oudword, liefde en die lewe se onvermydelike draaie met humor, deernis en herkenbare oomblikke aangepak. Die produksie het reeds vier Momentum Aardklop-benoemings in 2025 ontvang en bewys dat groot lag soms uit die eenvoudigste waarhede ontstaan.
“Na jare se versoeke van aanhangers maak Molly en Wors hul langverwagte verhoogdebuut,” sê Philna. Willie Esterhuizen en Lizz Meiring bring die geliefde karakters lewendig na die verhoog in ’n heerlike komedie oor die sogenaamde geheim van ’n gelukkige huwelik. Met Willie se kenmerkende humor, skerp waarnemings en ’n goeie dosis hart, gaan gehore hulself beslis in die karakters herken.
Vir liefhebbers van satire met ’n tikkie spanning is Tronk met ’n D die ideale keuse. Elzabé Zietsman, Ignatius van Heerden en André Lötter lei gehore deur ’n glansryke wêreld van gifmoorde, tronkselle, skelm prokureurs en onverwagte wraakplanne. Die resultaat is ’n komiese spanningsdrama wat ewe veel lag as verrassings bied.
En dan is daar natuurlik die immergewilde Reünie, waarin Frank Opperman vir oulaas terugkeer na Toyota Innibos met sy bekroonde lokettreffer. Wat begin as ’n skoolreünie van die matriekgroep van 1980, ontwikkel in ’n skreeusnaakse, nostalgiese en soms ontroerende terugblik op die mense wat ons was en die mense wat ons geword het. Met Dana Snyman se teks en Opperman se meesterlike vertolking, is dit geen verrassing dat die produksie steeds gehore regoor die land lok nie.
Toyota Innibos bied vanjaar die perfekte teenmiddel vir werkstress en winterblues. Of jy nou hou van satire, nostalgie, fisiese komedie, karakterhumor of skerp sosiale kommentaar – die fees se komedie-aanbiedinge waarborg dat jou lagspiere behoorlik gaan werk.
Werkstress is UIT. Lekker lag is IN. Kom oefen jou lagspiere by Toyota Innibos en ontdek waarom daar soms geen beter medisyne as ’n goeie lagbui is nie.





