’n Skouspel van stories, snare en skaterlag by Toyota Innibos
Toyota Innibos maak die komende winter warmer én LEKKERDER met ‘n kleurvolle kunstefees in die hartjie van Mbombela. ‘n Propvol program van vermaak gaan jou laat lag, dink, huil en dans. Van komedie en musiek tot leefstyl en drama, daar is iets vir elke siel.
Komedie en Debute: Skreeusnaaks, skerp en splinternuut
As jy dink jy het al alles gesien, wag net tot jy die komedies en debute van vanjaar beleef!
Debute:
- Kry vir jou ‘n Tux, Thomas (komedie) bring groot name soos Dean-John Smith en Marion Holm na die verhoog. Tessa Slabbert weier om haar eksman se sogenaamde “toekenning” te aanvaar as ’n afskeidsgroet wat lei tot ’n onwaarskynlike ooreenkoms vol emosie, lag en konfrontasie.
- Geagte Kampeerders (komedie) geskryf en aangebied deur Wynand van Vollenstee, met Thiart Li aan sy sy. ‘n Opsigter, eienaar en bestuurder van Willewaters Kampeerterrein verwelkom elke Desember die Transvalers met ope arms, tot ’n rampspoedige wending alles op hol jaag.
- Seun: In hierdie aangrypende toneelstuk neem Dana Snyman ons saam op ’n reis deur die 1980’s, ’n dekade van politieke chaos, identiteitskrisisse en hartverskeurende selfontdekking.
- Meesters: 100 jaar van Pinotage en Afrikaans kan feesgangers ‘n unieke viering van Afrikaans en Pinotage beleef waar Beyers Truter, Johan Rademan en Christo Snyman jou deur ’n eeu van wyn, woord en musiek neem.
- Trou (komedie) word aangebied deur die Komediant Mel die Storieverteller en sangeres Corlea Botha wat hul sprankelende gees, humor en musiek na ’n vertoning bring wat troues op hul skreeusnaakste en roerendste ontbloot.
- Opera-Tango is ’n elegante musikale reis wat begin met die Nocoré Ensemble en oorvloei in ’n passievolle uitvoering deur Zanne Stapelberg en Albie van Schalkwyk, waar opera en tango saamvloei in klank, gevoel en meesterlike vertolking.
En dan is daar natuurlik nóg meesters van humor – die kunstenaars wat elke jaar weer wys hoekom hulle koning van die verhoog is.
Ander komedies sluit in:
- Ouma is op pad, wat vertolk word deur Margit Meyer-Rödenbeck. Dowwe Dolla se Ouma het eintlik saam met Dolla afgetree einde 2021. Maar nou wil almal weet wie was daai tannie wat so aanstoot kon gee? Hierdie stuk is ’n reis vol hart, wysheid en die soort wyshede wat net ’n ouma kan kwytraak.
- Moord met ’n T het drie legendes: Tobie Cronjé, Ignatius van Heerden en André Lotter, wat die verhoog aan die brand speel. Moord. Misdadigers. Manewales. En ‘n T… vir Teater!
“Moord met ’n T” is nie net ’n raaisel nie — dis ’n skreeusnaakse raaisel!
Wanneer die ryk Bakkies Barnard in sy popmooi kêrel se bed vrek en sy jaloerse vrou Cruella dadelik opdaag met erfporsie-planne, weet ons: iets klink skelm… en dit’s nie net haar vals simpatie nie.
- Marion Monroe is ’n eerlike en heerlike komedie waarin Marion Holm met humor en styl vra: wat maak jou, jy?
- Vlerksleep is ’n lekker-lag komedie oor die chao van blinde afsprake, met ’n sterbelaaide rolverdeling en ’n vars kyk op liefdesvermaak met Bertha le Roux-Wahl, David James, Elma Potgieter, Richard van der Westhuizen.
So, van Woensdag 2 Julie tot Saterdag 5 Julie, is dit tyd om uit jou daaglikse roetine te breek en in ’n wêreld van kreatiwiteit in te stap. Die fees bied iets vir elke ouderdom en belangstelling, of jy nou ’n teaterliefhebber, musiekentoesias, wynkenner of net op soek na ’n goeie lag is.
Maak dus seker jou sitplekke is bespreek en kom ervaar hoe kultuur leef, nét by Toyota Innibos!





