Innibos

Puik toneel op die Innibos spyskaart.

Die tafel vir die Innibos Produksieprogram is hierdie jaar gedek met uitsonderlike en interessante vertonings wat in ieder en ʼn elk se smaak sal val.

Hier is ʼn paar lusmakertjies!

Die produksie Albatros met Louw Venter en Ben Albertyn in die rolverdeling is die aangrypende verhaal van ʼn pa en seun oor twee geslagte heen en beloof om feesgangers aan die hart te gryp. 

In die produksie Een met die bekende Cindy Swanepoel en Zak Hendrik in die rolverdeling, het hierdie twee getroudes letterlik vas aan mekaar gegroei. Deur die tragiese komedie, worstel die twee karakters om van mekaar te skei en hul eie identiteit weer te vind. Hierdie is ʼn snak-na-jou-asem-produksie wat beslis nie misgeloop moet word nie. 

Die toneelspyskaart bevat van ernstige dramas tot lekkerlag komedies. 

Vir die eerste keer by Innibos is daar ook ʼn dansproduksie op die spyskaart. Noah met onder andere PJ Sabbagha en Nicholas Aphane is ʼn multimedia-produksie met uitstekende choreografie waar die dansers en beelde teen die skerms in perfekte harmonie is.

Hennie Maas en Johan Rademan is hier om ons meer van die buitenste ruimtes te vertel in hulle produksie Sterre en planete. Feesgangers kan ook saam met hulle deur teleskope kyk na die wonderlike uitspansel.

Vanjaar is die Boekecrawl na Kaapsehoop weer terug en beloof ʼn uitsonderlike ervaring vir boekliefhebbers te wees.

Op die musikale front kan daar uitgesien word na die aantreklike manne in die produksie Boys R Back: Willem Botha, Ruan Josh, Reynard Hugo, Germandt Geldenhuys en Lee Scott wys in hierdie produksie dat hulle nie net sag op die oog is nie, maar ook mooi kan sing.

ʼn Pragproduksie wat nie misgeloop moet word nie, is Mixtape van die liefde. Met sang en poësie beloof hierdie produksie tone-wat-omkrul–van lekkerte. Leon Gropp, Jana Cilliers, Stephanie Baartman, Mathys Roets, Laurinda Hofmeyr, Anna Davel en Johny Klein is die sangers en akteurs wat hieraan gestalte gee.

Vir die eerste keer word daar ook vanjaar ʼn Klassieke crawl na die Sudwala-grotte aangebied waar onder andere die Hollands Got Talent-wenner Amira Willighagen saam met Charl du Plessis optree.

Innibos bied ook vanjaar saam met Unigrad Nataniël in die Sudwala-grotte aan. Hierdie beloof ʼn uitsonderlike konsert te wees met staaltjies soos net Nataniël kan vertel.

Hierdie is maar net ʼn paar van die produksies op vanjaar se spyskaart. Die produksieprogram sal vroeg in April beskikbaar wees.

Scroll to Top