Boek- en kunsliefhebbers kan vanjaar pitkos kry by Innibos Kunstefees se ATKV-Kuns- en Boeke-oase met topskrywers wat die fees bywoon. RSG-luisteraars kan ook kom “radio kyk” wanneer bekende omroepers van daar uitsaai.
Die gewilde RSG-nuusprogram Spektrum sal op Donderdag, 27 Junie, en Vrydag, 28 Junie, onder leiding van Suzanne Paxton uitgesaai word van die oase. Saterdagoggend, 29 Junie, is dit die immergroen Derrich Gardner wat reeds om 6:00 agter die mikrofoon inskuif vir sy Brêkfis met Derrich”.
Verskeie boekgesprekke word elke dag by die Boeke-oase gehou. Donderdag, 27 Junie, is die bekendstelling van digter Danie Marais se bundel Ek en jy bestaan nie met gesprekleier Danie du Toit van Spoegwolf. Hierdie bundel handel oor die menslike middelklastoestand en die unbearable whiteness of being wat waag om eerlik te praat oor die dinge waaroor mense liefs stilbly. Om 14:00 gesels Leon van Nierop oor sy pas verskene Droomjagter.
Bekroonde skrywer Etienne van Heerden en Amore Bekker kom vertel op Vrydag, 28 Junie, om 11:00 en 16:00 onderskeidelik van hul boeke Gebeente en Ek het ’n Engel gesien (stories van RSG-luisteraars soos byeengebring deur Bekker).
Dr. Mathews Phosa gesels op Saterdag, 29 Junie, met Annemarie van der Walt oor sy Afrikaanse digbundel en twee geskiedenisboeke waarmee hy besig is, asook sy dekadelange verbintenis met die Afrikaanse kultuurlandskap. Phosa is ’n stigterslid en voorsitter van die direksie van Innibos.
Om 13:00 op Saterdag, 2 Junie, gaan Riaan Grobler oor sy debuutroman, Geheime op Philadelphia gesels. Annemarie van der Walt is die gesprekleier wat hom ook gaan pols oor sy tweede roman waarmee hy tans besig is.
’n Gratis wynproe en praatjie deur Van Loveren word elke dag by die ATKV-Kuns- Boeke-oase gehou. Donderdag is dit om 15:00, Vrydag om 13:00 en Saterdag om 14:00.Hierdie wyne sal ook hier te koop aangebied word.
Kunstenaars soos Coffee Snobs, Christof Berg, Alouise en Stix tree ook hier by die ATKV- Kuns- en Boeke-oase op.
Buiten die boekgesprekke is die amptelike Innibos-kunsuitstalling Son of a Shopfitter, deur Luan Nel te sien in die uitstalruimte. Nel, vanjaar se feeskunstenaar, is ’n bekende Kaapstadse kunstenaar wat met dié uitstalling onder meer sy kindertyd herbesoek asook sy dwingende begeerte om sy kreatiwiteit uit te leef ondanks struikelblokke en beperkings.
Toegang tot die ATKV- Kuns- en Boeke-oase is gratis.