ʼn Laeveld Langtafel soos nog nooit tevore nie – sien, hoor, proe... en onthou
Op die aand van Woensdag, 02 Julie 2025 – net voordat Innibos se ligte aangaan – ontvou daar iets besonders, iets nuuts, iets wat jou na jou asem gaan laat snak, maar later nie oor uitgepraat kan raak nie. Dis ʼn uitnodiging na ’n eerste van sy soort: ’n Langtafel-ervaring iewers in Nelspruit se omliggende dele, bedoel vir diegene wat met smaak en siel leef, wat hou van ontdek, wat nie bang is vir die onbekende nie – en wat weet dat ware luuksheid in eenvoud en detail lê.
’n Handjievol gaste sal daardie middag op pad gestuur word na ʼn geheime bestemming in die Laeveld. Die ligging? Onverwag. Ongerep. Netjies weggesteek tussen die Laeveldse berge en bome, waar die stilte sag praat en die atmosfeer met elke asemteug iets beloof. Dié wat bespreek het, weet net dát hulle gaan – nie waarheen nie. Dis deel van die magie.
Wat wag, is nie ’n gewone ete nie. Dis ’n aand wat jou sintuie sal verlei met chef Mynderd van Staden van essen Eatery in Gauteng. ’n Fynproewers-ervaring wat dans op die grens tussen kulinêre kuns en Laeveld-lekker. ’n Sewegang-maaltyd, begin met canapès en eindig by ’n elegante nageregtrollie, sal bedien word aan ’n lang gedekte tafel onder die sterre. Wyn vloei gemaklik, en vars Laeveldwater word met dieselfde sorg aangebied as enige vintage.
Die klanke van Reon van Aardt en sy orkes vou die aand toe in kontemporêre musiek wat eg Suid-Afrikaans en wêreldklas aanvoel. Elke noot en elke geur bou saam aan ’n ervaring wat net een keer gebeur – en vir altyd bybly.
Gaste word gevra om elegant te verskyn, in skakerings van wit, swart, room of met ’n streep diervelmotief – ’n uitdrukking van styl en natuur, net soos die ervaring self.
Vervoer na die bestemming is ingesluit – jy hoef net op te daag met oop verwagtinge en ʼn lus vir iets buitengewoon.
Besprekings is oop by www.laeveldlangtafel.co.za, en plekke is uiters beperk. Vir enige vrae of verdere besonderhede, kan belangstellendes via WhatsApp kontak maak by 074 238 6188, of Lizette Gerber skakel by 084 406 6861. E-posnavrae kan gestuur word na bookings@laeveldlangtafel.co.za.
Volg die opbou tot hierdie unieke aand op Facebook (Laeveld Langtafel) en Instagram (@laeveldlangtafel), en kry ’n voorsmakie van wat wag as jy die onbekende aandurf.
Hierdie is nie net ʼn gebeurtenis nie. Dis ʼn viering van die Laeveld, van smaak, en van mense wat durf.
Sien. Hoor. Proe. En wees deel van iets wat jy nie kan beskryf nie – net belééf en verseker nie wil misloop nie.
Gaste sal twee dae voor die geleentheid in kennis gestel word van waar hulle die bus na ons geheime bestemming kan neem.