Innibos

Tuisblad

ATKV-Boekecrawl – ’n Fees van Woorde, Musiek & Magie!

ATKV-Boekecrawl – ’n Fees van Woorde, Musiek & Magie! Mbombela Nelspruit – Daar is iets besonders aan die klanke van storievertellers, die geur van wyn in die lug en die warmte van woorde wat mense saambring. Dis juis hierdie atmosfeer wat die ATKV-Boekecrawl jaar na jaar een van die gewildste produksies by Innibos maak – en 2025 gaan geen uitsondering wees nie. Op Donderdag 3 Julie verander die mistige dorpie Kaapsehoop, sowat 30 km buite Nelspruit,  in ’n literêre sprokie waar boeke, musiek en mense mekaar ontmoet op ’n onvergeetlike reis deur die Afrikaanse kultuurwêreld.    Hierdie unieke produksie, aangebied deur die ATKV en trots ondersteun deur Van Loveren Wyne, Silver Mist Gastehuis, Bohemian Groove Café en Buscor, is veel meer as net ’n boekbespreking – dis ’n viering van die Afrikaanse taal in al haar vorme en vind in twee tydgleuwe plaas, 15:00 of 17:00. Kaartjies kos R350 per persoon, wat ligte verversings en drankies insluit. Busse vertrek stiptelik vanaf die NG Kerk Westergloed, geleë in Koraalboomstraat 36, en die volledige ervaring duur ongeveer 260 minute. Volgens Philna Scholtz, produksiebestuurder van Innibos, moet mense daarop let daarop dat toegang slegs vir volwassenes is. Sy sê die ATKV-Boekecrawl is vanjaar méér as net ’n hoogtepunt op die program – dis ’n ervaring. “Mense soek inhoud wat sin maak, kunstenaars wat hulle raak, en oomblikke wat hulle nie kan koop nie. Dís wat die Boekecrawl gee.” Volgens Philna kan mens uitsien na ‘n sterbelaaide kunstenaarspaneel wat woorde lewendig maak! Susan Coetzer met haar fluweelstem en indrukwekkende verhoogteenwoordigheid bring sy enige gehoor tot vervoering. Jack & June is ‘n musikale duo en voeg ’n unieke klank by die ervaring met hul akoestiese styl en warm harmonieë.  Elvis Blue het geen bekendstelling nodig nie en is een van Suid-Afrika se mees geliefde sangers, om nie eers te praat van die bekende Anna-Mart van der Merwe nie. Dié ikoniese aktrise met dekades se ervaring in verhoog, film en televisie, gaan sy boeke-crawlers ‘n ervaring gee om te onthou.  Frazer en Deniel Barry is twee broers wat  bekend is vir hul energieke en dinamiese optredes. Hulle bring humor, warmte en karakter aan klassieke Afrikaanse tekste. Johny Klein is ’n man met ’n slag vir stories én snaaksigheid. Johny se liefde vir taal en sy spitsvondige manier van vertel laat luisteraars regop sit en aandag gee. Hierdie moet-sien produksie vind bowenal op drie betowerende stopplekke – elkeen met sy eie storie – plaas, Bohemian Groove Café, Silver Mist Country Inn kapel en die Silver Mist funksiesaal. Die ATKV-Boekecrawl bly ’n ervaring wat harte aanraak en koppe laat dink. Kaartjies vir ons early birders (Tjirp nuusbrieflesers) open 28 April en vir die publiek 30 April. Sit dié produksie op jou lysie en raak deel van ’n storie wat jy nooit sal vergeet nie.

ATKV-Boekecrawl – ’n Fees van Woorde, Musiek & Magie! Read More »

ʼn Laeveld Langtafel soos nog nooit tevore nie – sien, hoor, proe… en onthou

ʼn Laeveld Langtafel soos nog nooit tevore nie – sien, hoor, proe… en onthou Op die aand van Woensdag, 02 Julie 2025 – net voordat Innibos se ligte aangaan – ontvou daar iets besonders, iets nuuts, iets wat jou na jou asem gaan laat snak, maar later nie oor uitgepraat kan raak nie.  Dis ʼn uitnodiging na ’n eerste van sy soort: ’n Langtafel-ervaring iewers in Nelspruit se omliggende dele, bedoel vir diegene wat met smaak en siel leef, wat hou van ontdek, wat nie bang is vir die onbekende nie – en wat weet dat ware luuksheid in eenvoud en detail lê. ’n Handjievol gaste sal daardie middag op pad gestuur word na ʼn geheime bestemming in die Laeveld. Die ligging? Onverwag. Ongerep. Netjies weggesteek tussen die Laeveldse berge en bome, waar die stilte sag praat en die atmosfeer met elke asemteug iets beloof. Dié wat bespreek het, weet net dát hulle gaan – nie waarheen nie. Dis deel van die magie. Wat wag, is nie ’n gewone ete nie. Dis ’n aand wat jou sintuie sal verlei met chef Mynderd van Staden van essen Eatery in Gauteng. ’n Fynproewers-ervaring wat dans op die grens tussen kulinêre kuns en Laeveld-lekker. ’n Sewegang-maaltyd, begin met canapès en eindig by ’n elegante nageregtrollie, sal bedien word aan ’n lang gedekte tafel onder die sterre. Wyn vloei gemaklik, en vars Laeveldwater word met dieselfde sorg aangebied as enige vintage. Die klanke van Reon van Aardt en sy orkes vou die aand toe in kontemporêre musiek wat eg Suid-Afrikaans en wêreldklas aanvoel. Elke noot en elke geur bou saam aan ’n ervaring wat net een keer gebeur – en vir altyd bybly. Gaste word gevra om elegant te verskyn, in skakerings van wit, swart, room of met ’n streep diervelmotief – ’n uitdrukking van styl en natuur, net soos die ervaring self. Vervoer na die bestemming is ingesluit – jy hoef net op te daag met oop verwagtinge en ʼn lus vir iets buitengewoon. Besprekings is oop by www.laeveldlangtafel.co.za, en plekke is uiters beperk. Vir enige vrae of verdere besonderhede, kan belangstellendes via WhatsApp kontak maak by 074 238 6188, of Lizette Gerber skakel by 084 406 6861. E-posnavrae kan gestuur word na bookings@laeveldlangtafel.co.za. Volg die opbou tot hierdie unieke aand op Facebook (Laeveld Langtafel) en Instagram (@laeveldlangtafel), en kry ’n voorsmakie van wat wag as jy die onbekende aandurf. Hierdie is nie net ʼn gebeurtenis nie. Dis ʼn viering van die Laeveld, van smaak, en van mense wat durf. Sien. Hoor. Proe. En wees deel van iets wat jy nie kan beskryf nie – net belééf en verseker nie wil misloop nie. Gaste sal twee dae voor die geleentheid in kennis gestel word van waar hulle die bus na ons geheime bestemming kan neem. Koop Kaartjies Hier

ʼn Laeveld Langtafel soos nog nooit tevore nie – sien, hoor, proe… en onthou Read More »

Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees kondig nuwe hoofborg aan

Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees kondig nuwe hoofborg aan Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is trots om Toyota Suid-Afrika as nuwe hoofborg aan te kondig. Hierdie vennootskap is meer as net ‘n samewerking – dit is ‘n samesmelting van gedeelde waardes, ‘n passie vir kultuur en ‘n liefde vir lekker dinge. Toyota staan vir betroubaarheid, deursettingsvermoë en ‘n toekomsgerigte benadering – waardes wat hand-aan-hand loop met Innibos se strewe om kuns en kultuur te bevorder. “Toyota Suid-Afrika se betrokkenheid by Innibos is ‘n bewys van hul verbintenis tot die mense van hierdie land en hul kultuur,” sê Andy Lubbe, direkteur en feesbestuurder van Innibos. “Hulle verstaan dat ‘n familiefees soos hierdie nie net oor vermaak gaan nie, maar oor ‘n gevoel van gemeenskap, ‘n tuiste vir die kunste en ‘n plek waar herinneringe gebou word.” Innibos was nog nooit vir sy mense net nóg ‘n fees nie – dis ‘n viering van wat dit beteken om die lekker van die lewe te beleef. Dis musiek, kuns, boeke, teater, stalletjies, en vermaak vir oud en jonk.  Innibos se tema dié jaar is “LEKKER” want, dis is ‘n fees vir lekker mense, en lekker mense hou van lekker dinge…soos ‘n goeie voertuig. Dit maak Toyota en Innibos natuurlike pasmaats. Toyota se betrokkenheid by ‘n fees soos Innibos kom nie as ‘n verrassing nie. Hul handelsmerk resoneer met mense wat hou van avontuur, kwaliteit en standvastigheid. Mnr Leon Theron, Senior Vise-president  Bemarking by Toyota  Suid Aftika sê,  “Met ’n trotse erfenis van meer as 60 jaar in Suid-Afrika, het Toyota ’n integrale deel van vele gesinne se reis geword. As ’n familiegerigte handelsmerk is ons opgewonde om die hoofborg van die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees te wees. Deur Innibos te ondersteun, wil ons ’n  betekenisvolle bydrae lewer tot die kulturele lewenskrag en ekonomiese vooruitgang van die Laeveld. Net soos Innibos, verstaan en waardeer ons die krag van gemeenskap en die blywende impak daarvan. Ons sien uit daarna om hierdie jaar lekker saam met feesgangers te kuier en fees te vier!” Innibos is ‘n belangrike ekonomiese dryfkrag vir die Laeveld en omliggende gebiede. Die fees bring nie net kunstenaars en feesgangers bymekaar nie, maar ook entrepreneurs, plaaslike besighede en toerisme met ’n jaarlikse ekonomiese impak van bykans 80 miljoen Rand op die plaaslike ekonomie.  Innibos glo in die bou van sterk verhoudings met sy belanghebbendes en vennote. “Elke borg is vir ons baie belangrik. Ons verstaan dat ‘n fees van hierdie omvang net moontlik is met die ondersteuning van maatskappye wat glo in wat ons doen,” sê Lubbe. “Toyota is een van daardie maatskappye, en ons sien uit daarna om saam ‘n fees aan te bied wat ons kulturele rykdom vier.” Met hierdie vennootskap word een ding duidelik: Dis nie net ‘n bakkie nie, dis ‘n Hilux. Dis nie net ‘n fees nie, dis Innibos!

Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees kondig nuwe hoofborg aan Read More »

ʼn LEKKER produksieprogram nou beskikbaar – Kaartjieverkope open 28 April!

ʼn LEKKER produksieprogram nou beskikbaar – Kaartjieverkope open 28 April! Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees keer terug na Mbombela van 3 – 6 Julie 2025 en hierdie jaar beloof dit om groter, ryker en LEKKerder as ooit te wees! Vir vier dae word die Laeveld ʼn bruisende sentrum van musiek, drama, komedie en kultuur – ʼn fees waar harte lag, trane rol en stories gedeel word. “Die Produksieprogram is nou beskikbaar op Innibos se webwerf, so maak gereed, dat as kaartjieverkope open op 28 April, jy so reg soos reën is om kaartjies te bespreek,” sê Philna Scholtz, die fees se programbestuurder. Toneelstukke wat harte gaan raak Van kragtige dramas tot lagwekkende komedies, Innibos 2025 bied ʼn verhoogprogram propvol talent en treffende produksies. “Speelgoed van Glas”, ʼn nuwe vertaling van Tennessee Williams se The Glass Menagerie, beloof om gehore te roer met sy fyn verweefde temas van verlange, liefde en verlies. Met ʼn sterbelaaide rolverdeling, insluitend Anna-Mart van der Merwe en Carla Smith, en bekroon by Woordtrofees vir Beste Toneelstuk, is hierdie produksie ʼn móét-sien. “Op die ligter noot bring “Kry vir jou ’n tux, Thomas”, ʼn spiksplinternuwe komedie, ʼn komiese én hartroerende verhaal na die verhoog, met Marion Holm en Dean-John Smith wat vir hope gelag, nostalgie én trane gaan sorg,” sê sy. “Vir diegene wat hou van ʼn verhaal met historiese en persoonlike diepte, bied “Seun”, gebaseer op Dana Snyman se ervarings, ʼn introspektiewe reis deur die 1980’s en die vrae wat daardie era ontlok het Komedie wat die lagspiere gaan toets Kampavonture loop heel dik in die humoristiese “Geagte Kampeerders”, waarin Wynand van Vollenstee ʼn tipiese Desember-kamp op ’n komiese wyse tot lewe bring. “Moord met ’n T”, met die immergewilde Tobie Cronje, bied ʼn moordraaisel met hope humor – en ʼn tikkie spanning! Philna brei ook uit op ander tonele. “Vir dié wat ʼn eg Suid-Afrikaanse karakter wil beleef: “Ouma is op pad”, met Margit Meyer-Rödenbeck, beloof ʼn humoristiese blik op hoe ʼn boervrou haar plek in ʼn moderne wêreld moet vind.” Musiek wat die siel voed Sy sê musiek bly ʼn onmisbare deel van die ervaring. “Hierdie jaar bring die fees ʼn pragtige sameloop van klassieke en kontemporêre musiek. “Opera-Tango”, met die betowerende Zanne Stapelberg en Albie van Schalkwyk, neem gehore op ʼn reis van vurige Spaanse Zarzuela’s tot klassieke operaklanke.” “Vir ʼn nostalgiese viering van Afrikaanse musiek, eer “Gé Sing – Hoor my lied” die ikoniese Gé Korsten, met kunstenaars soos André Schwartz en Louis Loock wat sy tydlose treffers in ʼn nuwe lig bring. En natuurlik, vir die manne wat hou van ʼn bietjie rock en roll: “Die beste band in die wêreld ooit, ek sweer!”, waar Ricus de Beer en Ryno Velvet sorg vir ʼn jol soos geen ander nie!” Kaartjieverkope open op 28 April! Maak seker jou kalender is gemerk, want kaartjies is te koop vanaf 28 April 2025! Met produksies wat reeds uitverkoop was by vorige feeste, moet jy vinnig spring om jou plek te verseker. Innibos 2025 is ʼn viering van storievertelling in al sy vorme – musiek, drama, komedie en kultuur – en ʼn geleentheid om jou siel te voed en jou lagspiere te oefen. Berei jou voor vir ʼn kunsfees wat jou hart gaan raak, jou verbeelding gaan prikkel en jou deel gaan maak van iets besonders.

ʼn LEKKER produksieprogram nou beskikbaar – Kaartjieverkope open 28 April! Read More »

Laat waai met lekker klanke in die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin – een van vier kuierverhoë op die feesterrein

Laat waai met lekker klanke in die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin – een van vier kuierverhoë op die feesterrein Behalwe vir al die lekkernisse op die feesterrein en die skouspelagtige konserte op die Toyota-Hoofverhoog, wag daar nog ’n magdom ander ervarings en intieme musiekmomente op jou by Innibos – en ingesluit by jou kaartjieprys, kan jy ’n rits ander kunstenaars en gebeurtenisse ervaar, gratis en verniet! Van diep lirieke tot vrolike kuiermusiek, spog Innibos met vier unieke kuierverhoë, elk met sy eie atmosfeer en karakter. Een van die gewildste kuierplekke is die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin. Innibos se Everest Wealth Wingerd Kuiertuin is die perfekte kuierplek vir moeë bene en vrolike harte –  ’n oase van lekkerte waar musiek en smake mekaar ontmoet. Tydens ’n dag vol inkopies, feesterrein-verkenning en kultuurbederf, is dit hiér waar jy kan uitspan, ontspan en lekker saam sing! Donderdag skop die kuiertuin op ’n lekker noot af met die betowerende klanke van Bianca Blanc en Wanda Zonke. Smul aan ’n kaasbord saam met Chef Tiaan en SPAR, terwyl plaaslike kunstenaar, Natascha C en haar begeleier Henry-John Williams, se sang en klavierspel die lug vul. Len Muller bring sy sielvolle snitte en as jy ’n fynproewer is, moenie die olie-proe saam met Marinda Engelbrecht en SPAR misloop nie! Vrydag se line-up beloof nóg lekkerness met die talentvolle Thapelo Lekoane en Len Muller wat weer die verhoog betree. Maak jou smaakknoppies wakker met Pasta onder die soeklig met Chef Tiaan en SPAR en geniet die musiek van Meisie en Jack & June. Die geur van kos en klank meng perfek wanneer Marinda Engelbrecht jou wys hoe om geure in jou disse te sit – want by Innibos is dit nie net musiek wat jou siel voed nie! Saterdag bring die groot laaste kuier, en dis ’n fees van musiek, smaak en pure lekkergeit! Volgens Sandra Jacobs, direkteur van die fees, sorg Len Muller en Thapelo Lekoane vir musikale hoogtepunte, terwyl jy kan leer hoe om die perfekte braaibroodjie te pak saam met Chef Tiaan, Rian van Heerden en SPAR. “Dan is dit tyd vir ʼn bietjie Damian Beer en Bianca Blanc, voordat die laaste proe-ervaring jou smaaklik verras, want of jy huil van lekker-lag, of ’n aan-die-brand-mond, gaan jy ’n sousie saam met Marinda Engelbrecht, Janey & Waney en SPAR proe.” En om dinge behoorlik af te sluit, bring Werner van der Hoven sy klanke om jou Innibos-herinneringe nog so ’n rukkie langer te laat speel. Sandra sê dit so mooi: “Innibos is ’n fees van klank, geur en samesyn – en die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin bring dit alles bymekaar op ’n manier wat net Innibos kan.” So trek jou skoene uit, skink ’n glasie, en kom ervaar die lekker van Innibos op sy beste in die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin!

Laat waai met lekker klanke in die Everest Wealth Wingerd Kuiertuin – een van vier kuierverhoë op die feesterrein Read More »

‘n Magiese Feeservaring by die Laevelder Boma-kuierteater

‘n Magiese Feeservaring by die Laevelder Boma-kuierteater Elke jaar, wanneer die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees sy deure oopmaak, kom mense van oraloor om die unieke atmosfeer, musiek en kuns te beleef, want dis nie net ’n fees nie, dis Innibos. En diep, binne die hart van die feesterrein, waar lag eggo en stories tot lewe kom, lê ‘n besonderse juweel: die Laevelder Boma-kuierteater. Hier word teater en geselskap vermeng met ‘n tikkie magie en ‘n groot skeut humor en dit is alles gratis vir feesgangers! Dit is ’n plek waar jy kan lag tot jou maag seer is, waar jy kan luister na verhale wat jou siel roer, en waar jy deel kan wees van gesprekke wat saak maak. Hier is waarna jy kan uitsien: Ek vra ook maar net? Met Wynand van Vollenstee Datum en tyd: Do 3 Jul 13:00; Vr 4 Jul 16:00; Sa 5 Jul 14:00 Wynand van Vollenstee sit met ’n ondeunde glimlag en ’n twinkeling in sy oog. “Ek vra ook maar net,” sê hy, en die gehoor lag al klaar. Wie is “hulle”? Hoekom is daar veiligheidsgordels in vliegtuie? Wie het besluit dat dieretuine ‘n goeie idee is? En belangriker nog – hoekom ry ons karre vinniger as die spoedgrens? Wynand se vertoning is ’n lawwe, maar slim satiriese reis deur die vrae wat ons almal soms pla, met komiese gevolge. Sosiale media ster en magician! Met Wian van den Berg Datum en tyd: Do 3 Jul 15:00; Vr 4 Jul 14:00; Sa 5 Jul 15:00 Wian van den Berg, die internet-sensasie met 25 miljoen volgelinge, die meeste sosiale media volgelinge in die land, kyk jou reg in die oë en hoewel jou oë hóm ook nie verlaat nie, slaan sy kulkunsies jou stom. Hy het al groot name soos die Springbokke en selfs Mr. Beast met sy magic tricks verblind. Nou is dit Innibos se beurt om betower te word. Sy illusies laat jou twee keer kyk, en sy humor maak dat jy in verwondering lag. Hannon (HANNONS) – Beauty for you Met Hannon Bothma en Christine Steynberg Datum en tyd: Do 3 Jul 16:00; Vr 4 Jul 12:00; Sa 5 Jul 13:00 Soms is styl net so belangrik soos ’n goeie grap – en Hannon Bothma en Christine Steynberg weet dit. Hannon, die Glam Guru, neem ’n spieël en wys hoe jy met ’n paar eenvoudige truuks jouself kan transformeer – maar hy doen dit met soveel humor dat jy nie help om te lag nie. Dit is moeilik om objektief na jouself in die spieël te kyk en ander nie te oordeel as haar lipstiffie té pienk of haar hare té rooi is nie. Die Glam Guru ken al die antwoorde wat hare, grimering en velsorg betref. Of jou hare soggens varsgespyker moet lyk of orkaanbestand moet bly teen die aanslae van die lewe, is Hannon die man met die goue hande en die kunstige tong. Hierdie dinamiese duo gee nie net wenke oor grimering en voorkoms nie – hulle bring ’n show wat jou gaan laat skaterlag én skitter. Internet Sensasie Met Mel die Storieverteller Datum en tyd: Do 3 Jul 12:00; Vr 4 Jul 15:00; Sa 5 Jul 16:00 Daar is min mense wat stories so kan vertel soos Mel die Storieverteller. Sy weet hoe om ’n gehoor vasgenael te hou – of dit nou met ’n grap oor katte of ’n skerpsinnige opmerking oor sosiale media is. Sy beskryf die internet as ’n oerwoud vol ywerige flaminke en ontaktlose (sw)ape – en jy kan nie help om jouself daarin te herken nie. Hierdie vertoning beloof lag, insig en dalk ‘n paar danspassies! Kom geniet ’n reis van vars, oorsponklike en vrek snaakse oomblikke. Afrimat Openbare Gespreksreeks saam met Theo Venter Fasiliteerders: Theo Venter, Kabous Meiring en Lourensa Eckard Datum en tyd: Do 3 Jul 11:00; Vr 4 Jul 11:00; Sa 5 Jul 11:00 Nie alles by die Laevelder Boma-Kuierteater gaan net oor lag nie – soms moet ons ook ’n oomblik neem om die wêreld om ons te verstaan. Theo Venter, Kabous Meiring en Lourensa Eckard bring gesoute kundiges saam om die warmste onderwerpe van ons tyd te bespreek. Is daar hoop vir ons ekonomie? Wat gebeur met Trump en ons regering? En hoe kan ons weet of wat ons lees en sien regtig waar is? Kom luister na kenners en neem deel aan Afrimat se aktualiteisgesprekke. Brandpunt-sake rakende die ekonomie, gemeenskap, politiek en die land gaan onder die loep kom. Kom word wys, lug jou mening en gesels saam. Donderdag: ‘n Uitgestelde begroting en lae ekonomiese groei. Hoe nou gemaak? Met Kabous Meiring, Dawie Roodt, Waldo Krugel. Vrydag: Kan daar sin gemaak word uit Trump en die Regering van Nasionale Eenheid? Met Lourensa Eckard, Roland Henwood, Prince Mashele en Theo Venter. Saterdag: Kan ‘n mens glo wat ons lees en kyk? Die era van valsnuus en sosiale media. Met Theo Venter, De Wet Boshoff, Gert van der Westhuizen en Lourensa Eckard. ATKV- Storievuur Met Ricus Nel, Jak de Priester, Boet Pretorius en Innibos feesbestuurder, Andy Lubbe Datum en tyd: Vr 4 Jul 17:00 As jy ooit gewonder het watter stories agter ons gunsteling musiek lê, dan is die ATKV-Storievuur net vir jou. Boet Pretorius, Ricus Nel en Andy Lubbe deel stories van die musiekbedryf soos jy dit nog nooit gehoor het nie – van onvertelde staaltjies tot die onverwagte oomblikke wanneer liedjies gebore word. ’n Bietjie musiek, ’n bietjie nostalgie, en ’n groot klomp humor maak hierdie eenmalige vertoning op 4 Julie om 17:00 ’n moet-sien-produksie! Hier is voorwaar ’n lekker feeservaring soos geen ander! Hierdie jaar se program beloof om een van die beste nóg te wees – en jy is hartlik uitgenooi om saam te kom kuier! Ekstra lekkerness teen géén ekstra koste!

‘n Magiese Feeservaring by die Laevelder Boma-kuierteater Read More »

INNIBOS drup van EKSTRA LEKKERNESS teen GEEN ekstra kostes op vier EKSTRA kuierplekke!

‘n Magiese Feeservaring by die Laevelder Boma-kuierteater Innibos trek vanjaar ’n splinternuwe, funky baadjie aan om feesgangers nóg meer waarde vir hul geld te gee. Van musiek en kos tot vermaak en verrassings – daar is oral op die feesterrein iets ekstra om jou dag nog lekkerder te maak! Vier verskillende kuierplekke bied boonop gratis lekkerness aan – die kykNET-verhoog, Everest Wealth Kuiertuin by die Wingerd Kuiertuin, die Arena-verhoog en die Laevelder Boma Kuierteater. Hier wag hope vermaak, topkunstenaars en ’n bederf van musiek, kos en lag op jou – alles sonder ekstra koste! As deel van Innibos se 21ste verjaarsdagviering bly kaartjiepryse dieselfde as verlede jaar! Dit beteken jy kry nog meer waarde vir jou geld, veral as inflasie in gedagte gehou word. Die enigste inflasie wat jy by Innibos gaan beleef, is die inflasie van ekstra lekkerness wat op jou wag! Maak seker jy kry jou kaartjies vroegtydig en kom geniet die grootste fees van die jaar. kykNET Country: Stewel vas en Gereed en maak gereed om jou biscuit te skud! Maak seker jy is gestewel en gespoor op Saterdag, 5 Julie 2025, vir die eerste kykNET Country-konsert op die feesterrein. Vanaf 16:00 gaan die kykNET-verhoog brul met die klanke van top country-kunstenaars soos Cordelia, Skemer, Franja du Plessis, Ruan Josh en Chris Else. Sit jou cowboyhoed op en kom skud jou biscuit! Kuierverhoë – Bekendes en vars talente! Of jy nou ’n aanhanger van gevestigde kunstenaars is of nuwe stemme wil ontdek, die kuierverhoë is waar dit gebeur! Vars talent wat die land aan die praat het, sluit in: ONS, Fran Prins en Tamlyn Wessels – hulle bring ’n nuwe klank vol energie en siel. Bekendes wat hul slag gaan wys: Prop, Marno van der Merwe, Janie Bay en Jakkie Louw gaan sorg vir tye wat jy nie wil misloop nie. Die Laevelder Boma-kuierteater bied iets vir almal se smaak! Hiér word feesgangers kuier-kuier aan teater en ander kunsvorme blootgestel. Die Laevelder Boma-kuierteater op die feesterrein bied stukkies teater uit die boonste rakke aan.  Kom geniet kort eenmanvertonings, toneelproduksies en interessante onderhoude. Alle vertonings by die Laevelder Boma-kuierteater is gratis (ingesluit by die hektoegang). Feesgangers kan uitsien na bekendes soos  Wynand van Vollenstee, Wian van den Berg, Hannon (HANNONS) – Beauty for you, Mel die Storieverteller, Matie van Graan, ATKV- Storievuur met Ricus Nel, Boet Pretorius en Innibos feesbestuurder, Andy Lubbe en nog ure se lekker saamskater, kuier en gesels. Everest Wealth-verhoog by die Wingerd Kuiertuin – Fynproewer se Paradys! Vir diegene met ’n fyn smaak vir goeie kos en wyn, is die Wingerd Kuiertuin die plek om te wees. Hier gaan jy nie net smul aan die lekkerste disse nie, maar ook waardevolle kookwenke opdoen: Chef Tiaan wys jou hoe om die perfekte kaasbord te pak en hoe om ’n braaibroodjie meesterlik te maak. Marinda Engelbrecht deel haar geheime oor hoe geur, olie en souse jou disse na ’n volgende vlak neem. Geniet die klanke van Bianca Blanc, Damian Beer, Len Muller en plaaslike sterre soos Thapelo Lekoane, Meisie en Wanda Zonke. Dis kos, wyn en musiek van uitstaande gehalte – pure lekkerness. Meer as net musiek – kom lag jou slap! Innibos bring vanjaar nog meer vermaak op die kuierverhoë – musiek is nie al wat jou gaan laat glimlag nie! André die Skreeusnaakse Hipnotiseur – Hou jou dop, eerder Wees bedag, want jy mag dalk net gehipnotiseer word! Hy meng komedie, drama en hipnose vir ’n skaterlag-ervaring sonder gelyke.  Lag jou slap met Bibi – Daai Girl – Elke dag is daar ’n halfuur van pure komiese genot, waar Bibi met haar snaakse karakters en komediesketse die lagspiere gaan prikkel. Of jy nou vir die musiek, kos, wyn, komedie of net die lekker atmosfeer kom – Innibos 2025 bied iets spesiaals vir elke feesganger. Pak jou hoed, trek jou boots aan en kom geniet die lekkerste fees van die jaar!

INNIBOS drup van EKSTRA LEKKERNESS teen GEEN ekstra kostes op vier EKSTRA kuierplekke! Read More »

Innibos bring die Fiëstas-toekenning huis toe vir Beste Buitelugkonsert

Innibos bring die Fiëstas-toekenning huis toe vir Beste Buitelugkonsert Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is gisteraand, 27 Februarie, by die kykNET Fiëstas toekenningsgeleentheid by die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin in Kaapstad, vir die beste buitelugkonsert in die kategorie: Beste Kontemporêre Musiekgedrewe Produksie vir 2024, aangewys. Innibos het twee nominasie gekry wat ook die Musikale Meander ingesluit het. Volgens Sandra Jacobs, Direkteur by die fees, bars hul harte van trots vir die benoeming. “Die span werk baie hard agter die skerms om ‘n topgehalte fees op die been te bring.”  Die Saterdagaand Buitelugkonsert is ‘n hoogtepunt van die fees, saamgestel deur Deedee en Floors Oosthuizen onder leiding van Murray Lubbe en Adelene Niehaus en beligtingsontwerp deur Johan Ferreira. Met ‘n vol orkes, vuurwerke en top kunstenaars soos Karlien van Jaarsveld, Die Piesangskille, Willem Botha, Brendan Peyper, Emo Adams, Swing City en nog meer, was dit ’n skouspel om te aanskou! Die kykNET Fiëstas vereer sedert 2011 jaarliks uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste wat in die voorafgaande jaar by kunstefeeste te sien was. Volgens Sandra wil sy graag vir kykNET bedank wat erkenning gee vir uitstaande prestasie. “Hartlik geluk aan elkeen wat met ’n Fiësta-toekenning huis toe is.”  Die Fiëstas-paneel het in 2024 sewe kunstefeeste – KKNK, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaat Kunstefees, Klein-Karoo Klassique, Momentum Beleggings Aardklop en Toyota Stellenbosch Woordfees – bygewoon om al die debuutproduksies te sien wat op die planke gebring is. Ná ’n breedvoerige stemproses wat deur ouditeure nagegaan is, is die benoemdes in die veertien kategorieë bepaal.  Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is al vyf uit die agt keer wat die “Fees van die Jaar” – toekenning bestaan het, met die toekenning bekroon. “Dit is ‘n klinkklare bewys dat Innibos soveel meer as net ‘n musiekfees is, asook dat ons top gehalte produksies, boeke, stalletjies, musiek, kuns en kultuur vir ons feesgangers bied. BESTE KONTEMPORÊRE MUSIEKPRODUKSIE

Innibos bring die Fiëstas-toekenning huis toe vir Beste Buitelugkonsert Read More »

Kuiertafels en Bespreekte Stoele – Hoe werk dit?

Kuiertafels en Bespreekte Stoele – Hoe werk dit? Innibos is weer hier – en met die LEKKER-konsep wat vir die tweede jaar in werking tree, gaan dit net nóg beter wees! Hierdie LEKKER (en unieke) kuiertafel en bespreekte stoel-uitleg bring jou nader aan die kunstenaars, en jy kan saam met jou beste pelle of familie uitspan (daai vir wie jy lief is en saam met wie jy WIL kuier) uitspan, en saam die beste musiek geniet – sonder die gesukkel van kampstoele rondsleep of te wonder waar om jou drankie te sit. Wil jy in styl kuier? Hier’s hoe: KUIERTAFELS (6 mense per tafel) Spesiale area by die Hoofverhoog  Toegang tot ‘n eksklusiewe kroeg en privaat badkamers Rookvrye sone vir ‘n gemaklike ervaring Pryse per tafel (sluit NIE feesterrein hektoegang in NIE): Donderdag: Uitverkoop Vrydag: Uitverkoop Saterdag: Uitverkoop BESPREEKTE STOELE 4 stoele per ry – dan hoef jy nie jou eie stoel rond te karwy nie!Pryse per stoel (sluit NIE hektoegang in nie): Donderdag: R110 Vrydag: R150 Saterdag: R210 Onthou:Kinders tot en met 12 jaar betaal nie feesterrein toegang nie, maar kinders ouer as 2 jaar benodig ‘n Kuiertafel- of Bespreekte Stoel-kaartjie. Bespreek jou feesterreinkaartjies, kuiertafel of bespreekte stoel op TicketPro vanaf:Tjirp nuusbrieflesers (Early Birders): 26 FebruarieAlle ander feesgangers: 28 Februarie Maak gereed vir dans en onvergeetlike herrinngering as jy SOMS sit! https://youtube.com/shorts/ATPo6PPX2fM?feature=share

Kuiertafels en Bespreekte Stoele – Hoe werk dit? Read More »

Scroll to Top