Innibos

Brandstofprys daal – meer Innibosfeestyd vir jou om beslis IN te wees!

Nelspruit (Mbombela), Mpumalanga – Met die brandstofprys wat vanaf vanaand daal, het mense wat nie in Laeveld bly nie, nog minder rede om nie IN te wees by dié jaar se fees nie! 

Die Toyota Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees bied die perfekte bekostigbare wintersvakansie en die beste deel is dat daar nog verblyf én kaartjies beskikbaar is.

Beplan jou vakansie rondom Innibos en ontdek sommer alles wat die Laeveld so besonders maak. Geniet ‘n dag in die Krugerwildtuin, verken die asemrowende Panorama-roete en sy ikoniese watervalle, ervaar die streek se heerlike winterklimaat en geniet Suid-Afrika se lekkerste kunstefees. Dis die ideale kombinasie van ontspanning, avontuur, kultuur en gesinstyd.

Volgens Andy Lubbe, feesbestuurder van Toyota Innibos, vier ons alles wat IN is. Feesgangers kan uitsien na groot kunstenaars soos Die Heuwels Fantasties, Appel en Francois van Coke, om net ’n paar te noem. Maar die fees is soveel meer as net musiek. Topgehalte teaterproduksies, boeke, kunsuitstallings, ‘n propvol kinderprogram, meer as 300 stalletjies, heerlike kos, die Woelwaters kinderarea, ‘n opwindende pretpark en die Springbokke se toets teen Engeland wat regstreeks op groot skerms uitgesaai word, sorg dat daar iets vir elke lid van die gesin is.

Die fees maak dit boonop maklik om te ontspan met gerieflike pendeldienste, veilige parkering, kinderoppasgeriewe en gratis WiFi op die feesterrein. Alles is daarop gemik om besoekers meer tyd te gee om die fees én die Laeveld te geniet.

“Die Laeveld is een van Suid-Afrika se gewildste wintervakansiebestemmings, en Innibos maak dit die ideale vakansie waar besoekers hul hele wegbreek rondom die fees kan beplan,” sê Andy.

Al wat nou kort, is jy.

Vir volledige programinligting en kaartjies, besoek innibos.co.za

Scroll to Top