Toyota Innibos wys weer dat local lekker is omdat Innibos die Laeveld se eie kunstenaars en sterre op die verhoog vier. Met bykans ’n derde van die kuierverhoog-kunstenaars uit eie bodem, bring Innibos ’n unieke kombinasie van plaaslike trots en topgehalte vermaak wat werklik IN is.
“Ons is ongelooflik trots daarop dat soveel van ons eie Laeveldse talent nasionaal naam maak, maar steeds hul wortels hier op Innibos kom vier. Dit gee die fees ’n egte, hartlike karakter wat jy nêrens anders kry nie,” sê Adelene Niehaus, wat die kunstenaarskakeling by Innibos behartig.
Op die Cell C- en kykNET-verhoë klop die musikale hart van die fees byna net so hard soos op ons hoofverhoë. Kunstenaars soos Ian Roberts, ’n egte Laevelder, en voorsanger van die Radio Kalahari Orkes deel die verhoog met ander groot gunstelinge. Die kykNET Country Konsert op Vrydag, 3 Julie, bring kunstenaars soos Franja du Plessis, Armand Hofmeyr én ons eie Pieter Rischmüller van die Laeveld na vore.
Alternatiewe klanke kry ook hul plek met plaaslike rocker Coenie Naudé, en kletsrymer Ruan Bester ook van die Laeveld, terwyl kunstenaars, Kris Ray en Tiffany Steyn, wys hoekom plaaslik regtig IN is.
Na die hoofverhoogkonserte, moet jy dadelik jou weg maak na die Cell C-verhoog. Donderdagaand sluit die plaaslike DJ-duo BassBroers van Nelspruit/Mbombela die aand af met egte Laeveldse energie. Vrydag bring Brendan Peyper die treffers, en Saterdagaand vat local-is-lekker DJ Jaydon Mark oor met ’n vertoning wat die skare op hul voete hou.
By die Mopani-verhoog in die Wingerd Kuiertuin ontmoet leefstyl en musiek mekaar. Die daaglikse leefstyl-uur aangebied deur Nelspruiter Jacques Lombard saam met gaskunstenaars soos Wynand van Vollenstee, Matie van Graan, Dené Lindeque-Fouché, Marinda Engelbrecht en Thiart Li beloof ’n unieke ervaring van styl, smaak en vermaak te wees.
By die Mopani-verhoog drup dit van ons plaaslike talent en vul ons die verhoog met Thapelo Lekoane, Mathew Gold en Wanda Zonke. Bia en Plain Jane gaan ook die Laeveld se naam hoog hou met hul optredes.
By die Laevelder Boma kuierteater bied Nelspruiter, Riaan Loubser se mentalisme-vertoning, Uitgevang, ook goeie inhoud.
Volgens Adelene is Innibos trots op die teater-safari wat enig in sy soort is en verskeie plaaslike talent planke toe bring. Pampelmoesmampoer spog met Nelspruiters Francois Jacobs, Adriaan van As, Jana Fischer, Eugené en Luka Wait. Hulle deel die verhoog met bekendes soos Matie van Graan, Tiaan Slabbert, Steffie le Roux, en ’n misterieuse gasverskyning.
Klassieke liefhebbers kan uitsien na die Laeveldse tenoor Walter Fourie en plaaslike pianis Janette Rottcher in die produksie Koffie Kantata.
Stories kry ook lewe met Laevelder, Tian Schutte se leefstyl-aanbieding, Spoorlynsabotasies tydens die Boere- en Bosoorlog, en Jarik Jansen en Francois le Roux van Komati Fruit gaan in hul leefstylproduksie ‘n ware plaaservaring bied.
By die Woelwaters kan die jongspan uitsien na pure towerkrag met Nelspruiters David Dee, terwyl Jessica Hattingh saam met Ronnie die Renoster kinders laat sing en leer. By ATKV-Storiebos gaan stories nie net vertel word nie, maar lewendig word te danke aan Corlani Breyl, kleuterskool-eienaar van WilleTuin in Nelspruit.
Die ATKV-Boeke-oase is dié plek om te ontspan en kos vir die siel te kry. Hier kan feesgangers heeldag rustig saam gesels, kuier, boeke-koop en luister. Met plaaslike gesprekleiers soos Sanett Oosthuizen, Annemarie van der Walt, Izak du Plessis en Hancu Louw, gaan boekgesprekke met skrywers soos Pieter Mulder, Mike Bolhuis, François Bloemhof en Jak de Priester, plaasvind waar literatuur lewendig gemaak word.
Met 52 kunstenaars op die program, waarvan ongeveer 20 uit Mbombela, Nelspruit, Lydenburg en die breër Laeveld kom, bewys Innibos dat wêreldklas vermaak reg voor jou deur gebeur.
Innibos 2026 is nie net ’n fees nie, dit is ’n viering van gemeenskap, kreatiwiteit en trots. Hier is local is lekker nie net in kaartjieverkope nie, dis ’n plaaslike viering van wêreldklas talent.




