Innibos

Toyota Innibos 2026 vier ALLES wat IN is – Is JY in?

Mbombela – Die gewilde Toyota Innibos is terug en in 2026 vier ons ALLES wat IN is! Van musiek en teater tot boeke, kuns en stalletjies. As dit #trending is, vier ons dit saam as jy ook IN is!

Die fees vind die jaar vanaf 2 – 5 Julie plaas by Hoërskool Bergvlam in Mbombela/ Nelspruit, en beloof om weer duisende feesgangers van regoor die land te verras met ’n propvol program en onvergeetlike ervarings wat IN is. Ons is ook opgewonde oor ons hoofborg, Toyota, wat hierdie jaar vir seker weer IN is!

Feesgangers kan uitsien na ’n opwindende hoofverhoogprogram oor al drie aande met van ons land grootste name in die bedryf. Onder die kunstenaars wat vanjaar die verhoog gaan laat dreun, is Die Heuwels Fantasties, Die Piesangskille, Elvis Blue, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Van Pletzen, Bobby van Jaarsveld, Fokofpolisiekar, Juanita du Plessis, Riaan Benadé, Spoegwolf, Zaan Sonnekus, Appel, Barto, BlackByrd, Brendan Peyper, Early B, Elandré, Eloff, Francois van Coke, Irene-Louise van Wyk, Juan Boucher en Riana Nel.

Benewens die hoofverhoogproduksies, kan feesgangers ook uitsien na vier kuierverhoë wat van die  oggend tot die aand vermaak gaan bied, musiek wat IN is, op een terrein! Ons het verskeie verrassings waarna feesgangers kan uitsien. Ander hoogtepunte sluit in die Springbok rugbywedstryd die Saterdag voor die aandvertoning en die Loof Hom Innibos op Sondag, 5 Julie, by Church Unlimited, teen R50 per persoon.

Volgens Alison Linde, hoof van die BosMôl, is die stalletjies uit die boonste gestaltes. “Die stalletjiekeuring was streng en ons het die beste van die bestes wat by die fees gaan uistal. Ons het balans gebring deur so groot as moontlik verskeidenheid in die aanbieding te bring. Die kosstalletjies is ook baie sorgvuldig gekeur om goeie, smaakvolle en “uit-die-boks-uit” feeskos te bring.”  Daar is ook ’n groot verskeidenheid stalletjies wat spesifiek op ons mans gefokus is vir ’n lekker koop-ervaring vir almal. 

Volgens Andy Lubbe, feesbestuurder, is dít wat ons bied, en dít wat feesgangers betaal, steeds ’n winskopie. Vir die hoeveelheid wêreldklas kunstenaars en vermaak wat jaarliks op die feesterrein aangebied word, is die prys ongeëwenaar. 

Vir slegs R775 kan jy ’n weekkaartjie koop wat jou eindelose vermaak gaan verskaf. Dagkaartjiepryse beloop R250 vir Donderdag, R325 vir Vrydag and R385 vir Saterdag. 

Laerskoolkinders van 13 jaar en jonger kry gratis toegang tot die feesterrein en senior burgers (65 jaar en ouer) geniet op Donderdag alleenlik ’n spesiale afslagprys van R195. Ons nooi dus al ons senior burgers uit om spesifiek Donderdag die stalletjies en konserte te kom geniet teen dié afslagprys. Vir die res van die fees geld normale pryse.

’n Groot hoogtepunt van 2026 is die uitgebreide Goue Sirkel-ervaring. “Ons het meer kuiertafels as verlede jaar omdat ons oorval was met versoeke vir ’n groter gouesirkel-ervaring. Dit was uiters populêr en binne minute uitverkoop verlede jaar,” sê Andy. 

Ons het ook goeie nuus vir die jonk van hart. Hierdie jaar het ons ’n afgebakende “mosh pit” reg voor die verhoog waar hulle saam met hul gunstelingkunstenaars kan sing en dans. Agter die mosh pit begin die Goue Sirkel-area met bespreekte stoele teen: R160 vir die Donderdag en Vrydag en R210 vir Saterdag. 

Feesgangers, bring al jou vriende wat IN is en bespreek sommer ’n kuiertafel vir 6 persone teen R1 210 vir Donderdagaand, R1 810 vir Vrydagaand en R2 110 vir Saterdagaand. Feesterrein parkeerkaartjies kos R260 per dag. 

As jy ’n Tjirp-leser is, kan jy reeds 30 Maart die Early-Bird voordeel geniet en jou feesterreinkaartjies aanlyn koop. Publieke feesterreinkaartjieverkope open 1 April  en dis géén April-fools grap nie! Teaterproduksie kaartjieverkope open op 30 April. Hou die spasie dop!

Vir meer inligting en kaartjies, besoek: innibos.co.za

Toyota Innibos 2026 – ALLES wat IN is.


Nou wil ons by jóú weet: Is JY in? Want JY is al wie kort!

Scroll to Top