Innibos

Wat jou feeskaartjie werklik koop: Die finansiële hartklop van Innibos

Agter elke glimlag en treffende verhoogoomblik by die Toyota Innibos Nasionale Kunstefees, skuil ’n reuse-organisasie wat jaarliks die fees in ’n wêreldklas kuns- en kultuurbelewenis omskep. Die Innibos Kunstefees is veel meer as nét ’n musiekfees; dit is ’n lewende organisme wat bestaan uit musiek, toneel, kuns, boeke, straatvermaak, stalletjies en gesinsvriendelike aktiwiteite wat feesgangers deurentyd vermaak en betrek. Die fees, wat jaarliks in Mbombela/Nelspruit aangebied word, het sedert sy ontstaan in 2004 ’n belangrike item op Suid Afrika se kultuurkalender geword, en is al telkemale as die land se gewildste kunstefees aangewys.

Maar om so ’n grootskaalse ervaring te skep, verg ’n enorme finansiële en logistieke masjinerie—iets waarvan die publiek dikwels weinig bewus is.

Hoewel daar soms beweer word dat die fees “duur” is, is die werklikheid juis die teenoorgestelde. Innibos se hektoegang bly, in vergelyking met die werklike koste om die fees aan te bied, en dít wat feesgangers kry, steeds ’n reuse winskopie.

Volgens feesbestuurder Andy Lubbe probeer die feesbestuur elke jaar om Innibos so bekostigbaar moontlik vir gesinne te hou. “Al die vermaak op die feesterrein—vier kuierverhoë, ’n hoofverhoog, boekgesprekke, kunsuitstallings, kindervermaak en meer—is reeds by jou toegangskaartjie ingesluit,” verduidelik hy. Boonop betaal Laerskoolkinders geen toegangsfooie nie.

Die werklike koste van ’n wêreldklas-fees

Innibos se kostestruktuur is omvangryk. Om die feesterrein veilig, funksioneel en feestelik te maak, beloop die logistieke uitgawes alleen sowat R4,7 miljoen. Dit sluit elektriese dienste, kragopwekkers, toegangstelsels, vervoer, tent- en toerustinghuur, toilette, sekuriteit, terreinvoorbereiding, opruiming, verkeersbestuur en ingenieursertifikate in.

Die programkoste op die feesterrein beloop ongeveer R8,7 miljoen. Dit sluit die kunstenaarsfooie van alle hoofverhoog- en kuierverhoogkunstenaars en buskers in, asook die oprigting van alle verhoë, klank, beligting en spesiale effekte.

Teaterproduksies wat buite die feesterrein in venues aangebied word, kos ’n verdere R1 miljoen, en die gratis Loof Hom Innibos-konsert nog R75 000.

Verder beloop reis-, verblyf- en etekoste vir kunstenaars en tegniese personeel sowat R1,6 miljoen.

Pendeldiense, bemarking, webwerf-instandhouding, kunsuitstallings, borgskapsverwante uitgawes en gemeenskapsprojekte kos nog R3 miljoen.

Saam met salarisse van die permanente personeel, wat heeljaar werk om die fees se vele aspekte te organiseer, kantooruitgawes, projekbestuurders, tydelike werkers, finansiële kostes en administrasie beloop die totale koste van die fees meer as R23 miljoen per jaar.

Waar kom die geld vandaan?

Inkomste uit kaartjieverkope, stalletjiehuur, en die wins uit die biertente bring saam ongeveer R13 miljoen in. Dit beteken dat Innibos jaarliks ten minste R10,5 miljoen in kontant- en diensteborgskappe moet inbring net om gelyk te breek.

Die werklikheid is eenvoudig: sonder borge sou die fees nie kon voortbestaan nie of baie duur vir feesgangers wees. As maatskappy sonder winsbejag, word Innibos wetlik verplig om enige winste of surplus fondse (indien daar enigsins is) direk terug te belê in volgende jaar se fees of in die bufferfonds. (Hierdie bufferfonds was byvoorbeeld lewensbelangrik tydens die Covid-jare toe Innibos vir drie jaar nie kon plaasvind nie.)

Watter winskoop is Innibos werklik?

Tydens die 2025-fees het ’n verstommende 178 kunstenaars op die feesterrein opgetree. ’n Weekkaartjie, wat elke dag toegang tot die feesterrein verleen het, het tussen slegs R550 en R660 Dit beteken dat ’n feesganger minder as R4 per kunstenaar betaal het—iets wat byna ongeëwenaard is in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf. Vergelyk dit met die pryse van enige enkelkonsert, en die waarde van Innibos word onmiddellik duidelik.

Die nalatenskap van Innibos

Wanneer die laaste ligte uitdoof en die terrein stil raak, bly een ding glashelder: Innibos bestaan omdat duisende mense saamwerk, omdat borge in die kunste glo en hulle assosiasie met die fees waardevol ag, en omdat feesgangers elke jaar hul harte en sakke oopmaak om kultuur te ondersteun. Ten spyte van enorme koste, bly Innibos daartoe verbind om ’n wêreldklas-, toeganklike en bekostigbare fees vir almal aan te bied.

Die fees, se ekonomiese inspuiting in die plaaslike ekonomie het in 2025 ’n merkwaardige R100,5 miljoen beloop—’n bewys van die fees se impak en relevansie. Die amptelike bywoningsyfer vir 2025 was 78 000.

Innibos sien uit om jou in 2026 weer te verwelkom, waar ons alles wat IN en #trending is, gaan vier!

Scroll to Top