ATKV-Boekecrawl – ’n Fees van Woorde, Musiek & Magie!
Mbombela Nelspruit – Daar is iets besonders aan die klanke van storievertellers, die geur van wyn in die lug en die warmte van woorde wat mense saambring. Dis juis hierdie atmosfeer wat die ATKV-Boekecrawl jaar na jaar een van die gewildste produksies by Innibos maak – en 2025 gaan geen uitsondering wees nie.
Op Donderdag 3 Julie verander die mistige dorpie Kaapsehoop, sowat 30 km buite Nelspruit, in ’n literêre sprokie waar boeke, musiek en mense mekaar ontmoet op ’n onvergeetlike reis deur die Afrikaanse kultuurwêreld.
Hierdie unieke produksie, aangebied deur die ATKV en trots ondersteun deur Van Loveren Wyne, Silver Mist Gastehuis, Bohemian Groove Café en Buscor, is veel meer as net ’n boekbespreking – dis ’n viering van die Afrikaanse taal in al haar vorme en vind in twee tydgleuwe plaas, 15:00 of 17:00. Kaartjies kos R350 per persoon, wat ligte verversings en drankies insluit. Busse vertrek stiptelik vanaf die NG Kerk Westergloed, geleë in Koraalboomstraat 36, en die volledige ervaring duur ongeveer 260 minute. Volgens Philna Scholtz, produksiebestuurder van Innibos, moet mense daarop let daarop dat toegang slegs vir volwassenes is.
Sy sê die ATKV-Boekecrawl is vanjaar méér as net ’n hoogtepunt op die program – dis ’n ervaring. “Mense soek inhoud wat sin maak, kunstenaars wat hulle raak, en oomblikke wat hulle nie kan koop nie. Dís wat die Boekecrawl gee.”
Volgens Philna kan mens uitsien na ‘n sterbelaaide kunstenaarspaneel wat woorde lewendig maak! Susan Coetzer met haar fluweelstem en indrukwekkende verhoogteenwoordigheid bring sy enige gehoor tot vervoering. Jack & June is ‘n musikale duo en voeg ’n unieke klank by die ervaring met hul akoestiese styl en warm harmonieë.
Elvis Blue het geen bekendstelling nodig nie en is een van Suid-Afrika se mees geliefde sangers, om nie eers te praat van die bekende Anna-Mart van der Merwe nie. Dié ikoniese aktrise met dekades se ervaring in verhoog, film en televisie, gaan sy boeke-crawlers ‘n ervaring gee om te onthou.
Frazer en Deniel Barry is twee broers wat bekend is vir hul energieke en dinamiese optredes. Hulle bring humor, warmte en karakter aan klassieke Afrikaanse tekste. Johny Klein is ’n man met ’n slag vir stories én snaaksigheid. Johny se liefde vir taal en sy spitsvondige manier van vertel laat luisteraars regop sit en aandag gee.
Hierdie moet-sien produksie vind bowenal op drie betowerende stopplekke – elkeen met sy eie storie – plaas, Bohemian Groove Café, Silver Mist Country Inn kapel en die Silver Mist funksiesaal.
Die ATKV-Boekecrawl bly ’n ervaring wat harte aanraak en koppe laat dink. Kaartjies vir ons early birders (Tjirp nuusbrieflesers) open 28 April en vir die publiek 30 April. Sit dié produksie op jou lysie en raak deel van ’n storie wat jy nooit sal vergeet nie.