Van die room van Afrikaanse akteurs is vanjaar op die verhoog by die Innibos Kunstefees en Laevelders wat uitgehonger is vir goeie, komiese en meesleurende toneelstukke kan uit van die beste aanbiedinge kies. In ’n uiteenlopende verskeidenheid toneelstukke is onder andere Sandra Prinsloo, Rika Sennett, Adriaan Havenga, Cindy Swanepoel, Je-ani Swiegelaar, Louw Venter en Ben Albertyn te sien.
’n Tema wat in meer as een van die stukke aan die bod kom, is verhoudings, hetsy tusse pa en seun (Albatros), vreemdelinge wat meer van mekaar weet as te wagte (Forte), met die verlede en die self (Die Vrou op die Dak) en tussen ’n egpaar wat soos ’n Siamese tweeling aan mekaar gegroei het en nie weet hoe om die toekomstige pad afsonderlik aan te pak nie 1 (Een).
Sandra Prinsloo en David Ralph Viviers lewer ’n kragtoer in Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan. Dié ellelange titel verklap iets van die oorgang na die hiernamaalse wat toe glad nie so glad verloop vir die karakter Nora (Prinsloo) nie, maar eerder voel soos die administratiewe chaos van ’n staatsdienskantoor.
Viviers is ’n wenner van onder meer ’n Fleur de Cap-toneelprys, en het verlede jaar ook sy eerste roman die lig laat sien. Sy spel in Op die hoek… het teatergangers by die KKNK vanjaar se asem weggeslaan.
In 1 (Een) laat val Cindy Swanepoel haar mantel as sepiester en pak sy saam met Zak Hendrikz ’n komiese en magiese teaterstuk aan onder die ervare regie van Alby Michaels. Hulle is die paartjie Hiss and Hirr wat so aan mekaar vasgegroei het en noudat hulle wil skei, is dit ’n hengse probleem. Dit is ’n tong-in-die-kies besinning oor die of die mens ooit bestem is om sy ander helfte te vind.
Je-ani Swiegelaar is die Die Vrou op die Dak wat haar lewe in oënskou moet neem wanneer sy die kans om alles – van man tot huis – gaan verloor. Tussen die bakleiery met die huisslopers, haar bure en omstanders is die huis se dak haar toevlug. Daar lyk die blik op die wêreld darem anders, en bied dit dalk ’n uitkoms. Swiegelaar se spel in dié stuk is beskryf as “niks minder as buitengewoon en voortreflik nie”.
Daar was al heelwat verhoogdramas oor ma’s en dogters, maar minder oor die verhoudinge tussen pa’s en seuns. Dit kom egter nou onder die loep in Albatros met Louw Venter en Ben Albertyn waar die twee mans woorde probeer vind terwyl hulle saam aan ’n boot bou. Dit is een van die vlagskipproduksies by vanjaar se Innibos.
Rika Sennett se toneelervaring kom tot sy volle reg in die drama Forte saam met Adriaan Havenga. Havenga, op sy beurt, is geen groentjie nie en in 2023 bekroon met twee Fiësta-toekennings. Hy was ook al te sien in episodes van Die Byl, Lui maar op Belinda en verskeie ander produksies. In Forte is hy ’n vreemdeling wat by ’n wêreldbekende tjellis (Sennett) se deur opdaag met ’n geheim wat hy diep bewaar.
Die volledige Innibos-program is op innibos.co.za. Klik daar op die Ticketpro-skakel om kaartjies te bespreek.
Buiten Vrou op die dak, is al die ander produksies moontlik gemaak deur die Nasionale Afrikaanse Teater Inisiatief (NATi).