FEESKUNSTENAAR 2025: Reuben Mpangane


Uitstalling : 2 tot 27 Julie 2025
Venue: Witrivier Kunsgalery, Casterbridge-sentrum, Witrivier
Galery Ure : Daagliks tussen 09:00 and 16:00 (Saterdae tussen 09:00 and 14:00)
Kunsrondleiding: 10:30 daagliks vanaf 3 tot 6 Julie 2025
Dit is vir ons ’n groot voorreg om Reuben Mpangane as die 2025 Innibos feeskunstenaar aan te kondig. As ’n gevestigde en hoog aangeskrewe kunstenaar en opvoeder wat al jare lank in die Laeveld woon, vier Reuben vanjaar sy 50ste jaar as visuele kunstenaar – ’n merkwaardige mylpaal wat getuig van vyf dekades se artistieke talent.
Reuben is in 1953 in Kaapschehoop gebore. Sy uitgebreide loopbaan word gekenmerk deur ’n kombinasie van artistieke en opvoedkundige prestasies. Hy het ’n BA-graad in Beeldende Kunste aan Unisa voltooi, en het daarna ’n B.Ed.-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Dit is opgevolg deur ’n Hoër Onderwysdiploma (Nagraads) en ’n Sertifikaat in Kuns-Spesialisasie aan Unisa.
Aanvanklik is Reuben se belangstelling in kuns aangewakker deur sy ma, wat nou 91 jaar oud is en steeds aktief met handwerk besig is. Latere invloed het gekom van Di-Ann Johnson-Ackermann, wat informele kunsklasse aangebied het en Reuben se pen-en-ink-tekeninge plaaslik en internasionaal bemark het. Hy is ook geïnspireer deur wyle Bruce Ponting, eienaar van die Nelspruit Kunsgalery. Verdere invloedryke figure in sy loopbaan sluit in Steven Sack en professor Keith Dietrich, wat hom veral tydens sy studies ondersteun het.
In 1988 het Reuben sy eerste suksesvolle solo-uitstalling by die Nelspruit Kunsgalery aangebied. Alle werke in dié uitsalling is verkoop. Sy tweede uitstalling by dieselfde lokaal in 1989 het sy reputasie as gerekende kusntenaar bevestig. In dieselfde jaar het hy ’n solo-uitstalling en kunswerkwinkel saam met Nat Ntombela by die Kanyamazane Saal aangebied. Hierna het talle suksesvolle solo- en groepuitstallings gevolg, beide plaaslik en internasionaal.
In 2018 het hy deelgeneem aan ’n groepuitstalling by die Mbombela Burgersentrum saam met Fikile Skosana. Hy het ook by Innibos en Tupelo in Kaapstad uitgestal. Sy werk vorm deel van gesogte versamelings, soos onder andere in die Mpumalanga Wetgewersgebou, die Parlement in Kaapstad en die Ontwikkelingsbank in Midrand.
Reuben skep in ’n wye verskeidenheid mediums, insluitend hout- en metaalbeeldhouwerk, verf en collage. Met verloop van tyd het sy tegniek om herwinde plastiek en hergebruikte materiale in kleurvolle collagewerke te omskep, ontwikkel. Hierdie vernuwende benadering, waarin hy kleure in lae aanwend om unieke ondertone en teksture te skep, het kenmerkend van sy werk geword en getuig van sy toewyding om omgewingskwessies aan te spreek.
Deur sy artistieke reis het Reuben sy fokus verbreed van Township Art na meer konseptuele temas oor sosiale samehorigheid, geïnspireer deur sy ervarings van die township-lewe in ’n onstuimige tydperk.
Buiten sy skeppende werk vervul Reuben ook ’n belangrike rol as opvoeder en mentor. Hy dien tans as Projekbestuurder vir Emathalente Training in Mbombela, ’n nie-winsgewende organisasie, waar hy agt dae per maand onderrig in handvaardighede gee aan mense met gestremdhede. Sy werksessies dek verskeie dissiplines, van kuns en handwerk tot metaalontwerp en die maak van funksionele metaal-houtmeubels.
Een van sy noemenswaardige gemeenskapsinisiatiewe was die aanbied van kuns- en kultuurwerkswinkels vir onderwysers in die Gert Sibande- en Sekhukhune-distrikte via die MTN/Umbalabala Training-inisiatief tussen 2008 en 2012.
Reuben glo in die krag van gemeenskap en die sosiale impak van die kunste. Sy verbintenis hiertoe het hom geinspireer om klassieke jazz-klavier aanlyn te studeer, wat sy kreatiewe uitdrukking verder verryk.
Reuben se lewe en werk is ’n toonbeeld van toewyding aan die kunste, opvoeding en gemeenskapsopheffing.





