fbpx

Innibos

Dana Snyman – Geliefde Storiesmous

In die Republiek van Rondomskrik kraai veelbekroonde Dana Snyman koning as gesoute reisjoernalis, geliefde storiesmous en gerekende dramaturg. 

Vra ’n mens vir Dana hoekom hy skryf, sal hy iets sê soos, ek hou van stories en stories hou van my ook; of, hierdie land verwond ons almal knaend op allerhande maniere, en iemand moet weet hoe dit was. Nie ter wille van nostalgie nie, maar ter wille van die opskrywe van sy mede-verskriktes se beleefde ervarings. Dana glo as jy die regte vraag vra, en dan lank genoeg stilbly, almal ’n storie het om te vertel.

Vra jy sy gretige lesers hoekom hulle so graag lees wat Dana skryf, sê hulle: Sy sketse is die beste; ’n Skerper waarnemingsvermoë en beter storieverteller sal jy nie sommer kry nie; Hy lê met aangrypende eenvoud gewone mense se beleefde ervarings allerversigtig bloot; Met net ’n paar woorde skep hy ’n atmosfeer en jy voel jy is daar saam met hom; Sy stories laat ’n mens bietjie anders dink; Man, mens lees net so lekker aan ’n Dana Snyman – die waarheid gejas met die gevoel van prosa.  

Sy eerste boek, ’n versameling rubrieke, Uit die binneland (2005) was ’n drie onder pale. Suid-Afrikaners uit alle geledere het die stories opgelek en sedertdien is elke boek deur Dana ’n topverkoper. Hy vang die tydgees vas met sy deernisvolle verhale van mense wat oor allerhande grense die hande na mekaar uitsteek. 

Saam met hom kan ons reis na plekke soos Poffertjiesgat, Knoffelfontein en Dikboompies. Saam met hom kan ons huil oor dwalers langs ons land se paaie. Saam met hom kan ons lag vir ons eie tekortkominge. Saam met hom kan ons altyd weer ’n draai gaan maak by Hopetown, die hoofstad van Rondomskrik.

Soos Pottie Potgieter en Ds Tienie Benade het Dana Snyman in ons harte vir hom ’n plekkie ingerig. Dankie, Dana, vir al jou stories, wat ons net so nodig het soos water.

Dankie Dana! – Dana Snyman Vereringsgeleentheid

Sa 5 Jul 16:00

Gesprekleier: Annemarie van der Walt

’n Boek is vir die siel soos wat ’n slypsteen vir ’n swaard is. Innibos vereer vanjaar geliefde skrywer, Dana Snyman. Hy noem homself ʼn storiesmous, maar is veel meer – hy skryf rubrieke, kortverhale, eenmanvertonings, romans en het selfs sy eie televisiereekse gehad. Dana Snyman is volksbesit en sy skryfwerk is toeganklik vir die breë publiek. ʼn Hele program met Wilhelm van der Walt, Stephanie Baartman, Lizanne Barnard en Eugené Wait is rondom sy skryfwerk opgestel en dit is waarmee Innibos wil sê: Dankie, Dana, vir al die genot wat jou skryfwerk die leser oor die jare verskaf het.

Scroll to Top