Johan + Johan = Topvermaak
Vyftig randjies vir jou! As jy dié woorde hoor, verskyn die sjarmante Johan Stemmet op die stel van Noot vir Noot onmiddellik voor jou geestesoog. Maar voor dié groot knal was hy ’n Afrikaansonderwyser, geskool in ligte en klassieke musiek op klavier en het hy homself kitaar en ander klawerinstrumente leer speel. In 1980 ruil hy die onderwys vir vermaak en word hy en Johan van Rensburg as regisseurs van Afrikaanse Ligte Verskeidenheidsprogramme by SAUK TV1 aangestel. Hier vervaardig, mede-vervaardig, regisseur en bied hy verskeie gewilde reekse aan, onder meer Platepraatjies, Crescendo en Teletreffers, waar Afrikaanse musiekvideo’s vir die eerste keer vertoon is. In 1989 bedank hy by die SAUK en stig hy en Johan van Rensburg, die produksiemaatskappy Stemmburg Televisie, wat musiek- en speletjiesprogramme vervaardig. Saam skep hulle in 1991 die immer gewilde musiekspeletjieprogram Noot vir Noot, wat al vir honderde ure van gesinstyd en naelbytvermaak in voorkamers gesorg het. Dié program, wat hy vir 28 jaar aanbied, maak van Johan Stemmet een van die bekendste gesigte in die Afrikaanse vermaakwêreld. Sedertdien ontwerp, vervaardig en mede-vervaardig Johan programme so veelsydig en kleurvol soos vanmelewe onderbaadjies. Om maar ’n paar te noem: A word or 2, die opvoedkundige kinderreeks Wise Up, Musiek Roulette en FUNDIS, wat ook die eerste veeltalige vasvraprogram in Suid-Afrika is. Hy is ook steeds regisseur van Noot vir Noot. Vandat Johan die televisiewêreld oorrompel het, het hy al meer as 56 000 uitsaaiminute vervaardig. Hy is die langslopende aanbieder wat die SABC tot nou toe gehad het – ’n allemintige ononderbroke 39 jaar. Johan het ook 16 CD’s gemaak, waarvan een, Johan Stemmet – Inspirational Songs, Goue status bereik het. Johan van Rensburg het diep in die volk se harte gekruip as mede-vervaardiger en leier van die Musiekfabriek op die geliefde musiekvasvraprogram Noot vir Noot. Johan verwerf ’n honneursgraad in musiek aan die Potchefstroom Universiteit en die Professional Diploma in Composition and Arranging aan Berklee College of Music in Boston (VSA), waar hy ook ’n kursus in Elektroniese Musiek voltooi. In 1966 word hy die musiekregisseur vir die gewilde Alabama Studentegeselskap van die PU vir CHO. Onder sy leiding word die eerste Alabama Revue gebore. Vir die volgende 40 jaar bied Alabama, onder leiding van verskillende regisseurs, jaarliks ’n nuwe revue program aan en inspireer baie skole in Suid-Afrika om dieselfde genre na te volg. In 1980 word hy en Johan Stemmet aangestel as regisseurs van Afrikaanse Ligte Verskeidenheidsprogramme by SAUK TV1. Johan vervaardig talle vermaaklikheidsprogramme, soos die Applous-reeks en Die Kulkuns van Martino. Dit is hier waar die formidabele duet saam met Johan Stemmet afskop. Hy skep die program Platepraatjies, deur Stemmet aangebied, en saam vervaardig hulle Teletreffers en Debuut. In 1980 verlaat hy en Stemmet die SAUK om Stemmburg Televisie te begin, wat die kreatiewe broeikas van talle Afrikaanse musiekvideo’s en ’n legio vermaaklikheidsprogramme word. Hulle grootste prestasie natuurlik – Noot vir Noot – wat die ingrypende skeduleveranderings ná 1994 danksy goeie kyksyfers oorleef en steeds die rekord as die langslopende program op SABC hou. Johan komponeer en vervaardig al musiek sedert die Langspeelplaattydperk. Sy klavierspel is op vele plate en die CD’s van ’n rits kunstenaars verewig. Daar is kwalik ’n radiostasie wat nie met ’n kenwysie uit sy klawerbord spog nie. Televisieprogramme soos Nommer Asseblief, Noot vir Noot, Fiësta en baie Wielie Walie-programme word opgetooi met sy deuntjies. Hy komponeer en vervaardig ook die musiek vir die rolprente Vergeet my nie, Oh Schucks … It’s Schuster en Tolla is Tops. Johan en Johan spog reeds met ’n handvol SAFTA-toekennings vir Best Game Show vir Noot vir Noot. Die legendariese program is vanjaar weereens benoem in dié kategorie. Innibos wil graag met trompetgeskal vanjaar die vermaakvirtuose Johan Stemmet en Johan van Rensburg vereer vir hulle onverpoosde en omvangryke bydrae tot vermaak vir die hele land, en veral tot die Afrikaanse kultuur en musiek.
Johan + Johan = Topvermaak Read More »