Innibos

Lus vir harde feite en sexy fiksie? Kom kuier saam by die Innibos Boekenaweek op Kaapschehoop

Die vierde Innibos Boekenaweek word vanjaar van 28-30 Augustus op Kaapschehoop aangebied en naweekgangers kan ’n stewige aanbod nie-fiksie oor aktuele kwessies verwag. 

Fiksie bly egter nie agterweë nie en die Karoo se melktertbakker en aweregse speurder tannie Maria bring haar skrywer Sally Andrew eindelik Laeveld toe met die nuutste misterie wat opgelos word in Wild things never die. 

Die ATKV lei die naweek Donderdag, 27 Augustus, reeds in met ’n poësiewerkwinkel vir volwassenes. Dit word aangebied deur Tom Dreyer en Jennifer Pape en kan bespreek word by Ronel Grundlingh by ronelg@atkv.org.za. Dit kos R300 pp en sluit ’n ligte middagete in. 

Vrydagoggend, 28 Augustus, skop die boekprogram om 9:30 af in die kapel langs die Nagkantoor Kuierkroeg. Die ganse Vrydagprogram word gewy aan nie-fiksie met opspraakwekkende boeke soos Zama Zama: Inside the illicit mining underworld deur Graham Coetzee en die eerste bekendstelling van Chris Marnewick, SC, se Oscar Pistorius: The BIG Lie and the right to a fair trial. In dié boek neem Marnewick verskeie leemtes in die hofprosedures van die Pistorius-saak onder die loep. Joernalis Jana van der Merwe, wat volledig verslag gedoen het oor die hofsaak, sal die gesprek lei. 

Diegene wat dr. Pieter Mulder se lekker gesels oor sy boek Parlementpraatjies tydens Innibos vanjaar misgeloop het, kry weer ’n kans en dié keer bring hy skyfies saam om sy stories mee te belig. Geskiedenis is oud-joernalis Albé Grobbelaar se kos. RSG-luisteraars  ken reeds Historiese almanak: Onthou jy nog? en kan lekker kom saamgesels. Op versoek van Mpumalanga Erfenis word Carel van der Merwe se boek Kansvatter oor die eksentrieke Ben Viljoen se vreemde lewensverloop weer in die kollig geplaas in ’n gesprek tussen Van der Merwe en Marius Bakkes.

Vrydagaand om 19:00 behoort die verhoog aan die vermaarde woordkunstenaar Frieda van den Heever met haar nuutste vertoning, Airdrop – jy is nou hier by Bohemian Groove Cafè. 

Frieda, veral bekend as voormalige programaanbieder op RSG, het al verskeie toekennings gewen vir haar solo-gedrewe musiekproduksies, regie, nuutgeskepte tekste en uitnemende literêre bydrae. Haar vorige album en vertoning, Spoorsny, het gehore in 2025 diep geraak en verskeie kere laat terugkeer.

Die gehoor kan uitsien na ’n intieme aand van woorde en musiek wat wil vlam vat én vrede maak, vashou én oorgee, wat ons saamleef vier. Sy verweef stories, gedigte en ’n paar geliefde covers met haar eie liedjies. Dit is haar eerste optrede in die Laeveld – moet dit beslis nie misloop nie!

Sally Andrew is Saterdagoggend om 10:00 eerste aan die beurt om meer te verklap oor tannie Maria se nuutste speuravontuur, en ook oor hoe dié nimlike karakter tot ’n internasionale film gelei het. 

Debbie Loots (Die vrou met nege lewens) en Carel van der Merwe (Die Serwiër) gesels albei met Susan Booyens oor hul uiteenlopende boeke, terwyl Jean Cooper (Waar die teerpad ophou) kom vertel oor sy lang motorfietsreis deur Afrika – en die innerlike reis wat dit teweeg gebring het. 

Dit is “Vatso!” wanneer digters woord en wederwoord met mekaar deel in ’n gesprek oor en voorlesing van hul gedigte. Kom luister na die spitsvondige drietal:  Hertzogpryswenner Tom Dreyer (Brief op veertigduisend voet), Jennifer Pape (waar eens ’n see was) en Muller Minnaar (Die langste jaar ooit).

Ná al die luister en kuiers kan diegene wat die berglug wil geniet Sondagoggend om 10:00 saam met Annemarie van der Walt gaan stap. Om 15:30-17:00 bied Mia en Hancu Louw van die Kaapschehoop Klein Camino ’n kort en kragtige fotografiekursus aan oor hoe om beter foto’s te neem met jou selfoon. ’n Goeie manier om die naweek in die goue ure af te sluit.

Scroll to Top