Innibos

Toyota Innibos 2026 lok ongeveer 78 000 feesgangers – nóg ‘n onvergeetlike fees op rekord

MBOMBELA – Toyota Innibos 2026 het weereens bewys waarom dit een van Suid-Afrika se gewildste kunstefeeste is. Altesaam 78 000 feesgangers het die fees oor drie dae bygewoon vanaf 2 – 5 Julie, ‘n merkwaardige prestasie in ‘n jaar waarin stygende brandstofpryse en duurder kaartjies baie huishoudings se begrotings onder druk geplaas het.

Die feit dat die feesbywoning ongeveer gelykstaande aan verlede jaar se syfers is, spreek boekdele van die lojaliteit van Innibos se ondersteuners.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir elke feesganger wat die moeite gedoen het om deel van Toyota Innibos 2026 te wees. In die huidige ekonomiese klimaat is hierdie bywoning nie net ‘n statistiek nie,  dit is ‘n bewys dat mense steeds die waarde van kwaliteit-vermaak, kultuur en saamkuier raaksien. Hierdie sukses behoort aan elke kunstenaar, borg, uitstaller, diensverskaffer, vrywilliger en natuurlik ons wonderlike feesgangers,” sê Andy Lubbe, feesbestuurder. “Ons spreek ons innige waardering uit teenoor al ons gewaardeerde borge vir hul volgehoue ondersteuning en betekenisvolle bydraes wat die aanbieding van Toyota Innibos 2026 moontlik gemaak het.” 

Die impak van Toyota Innibos strek egter veel verder as die feesterrein. Gedurende die voorbereidings- en feesperiode is meer as 1 000 tydelike werksgeleenthede geskep – van op- en afbreekspanne en tegniese personeel tot sekuriteit, skoonmaakdienste, spyseniering, stalletjiepersoneel en logistieke ondersteuning. Vir baie gesinne beteken Innibos nie net vermaak nie, maar ook ‘n belangrike ekonomiese inspuiting.

Maar Toyota Innibos word nie net in besoekers getel nie, dit word ook gemeet in kilometers kabel, duisende pannekoeke, blink skoon toilette en ‘n enorme span mense wat agter die skerms werk om die magie moontlik te maak.

Toyota Innibos se pendeldiens was vanjaar ook besiger as ooit. Die vyf feesbusse het gesamentlik 2 250 kilometer afgelê en 900 ritte voltooi, gemiddeld 180 ritte per bus, of sowat 60 ritte per dag. Meer as 10 200 feesgangers het van dié diens gebruik gemaak, méér as verlede jaar, wat die groeiende gewildheid van die pendeldiens en besoekers se voorkeur vir veilige en gerieflike vervoer na en van die feesterrein beklemtoon.

Die gewilde Ytipan Innispens pannekoek stalletjie het vanjaar 12 759 pannekoeke verkoop. Om dié honger te stil is 2 070 eiers, 300 kg koekmeel (120 sakke van 2,5 kg), 220 kg suiker, 90 liter olie, 12 kg bakpoeier, 6 kg kaneel, 12 liter asyn, 5 kg sout en sowat 6 000 liter water gebruik. Genoeg om ‘n klein dorp vir dae lank te laat smul.

Agter die skerms was die hoofverhoog ‘n indrukwekkende tegniese meesterstuk. Ongeveer 16 kilometer kabel en 800 verhoogligte het die verhoog laat lewe kry. Die indrukwekkende middelste LED-skerm van 16 x 9 meter, saam met twee kantskerms van 6 x 9 meter elk, het verseker dat elke feesganger deel van die vertoning kon wees.

Die hoofverhoog is aangedryf deur twee ‘n kragopwekkers wat 2 250 liter diesel oor die drie dae verbruik het. Teen ongeveer R30 per liter het dit sowat R67 500 gekos om net die diesel vir die hoofverhoog se kragvoorsiening te voorsien.

Een van Innibos se grootste trots bly egter sy netheid. Altesaam 8 000 swartsakke is gebruik om die feesterrein deurentyd skoon en netjies te hou.

Die fees se skoon toiletgeriewe is jaar ná jaar een van die grootste komplimente wat besoekers gee. Danksy Loo 4 U, wat 440 toilette oor die drie feesdae versorg het, is onder meer 4 032 rolle toiletpapier, 4 000 handdoekrolle, 440 liter chemikalieë, 150 liter Pine Gel, 50 liter handseep en 20 kg Duo Blocks gebruik om te verseker dat gerief nooit tweede viool speel nie.

Ook die elektrisiteitspan verdien besondere erkenning. Die terrein is toegerus met 400 fluoresserende ligte, 50 ekstra kolligte, ongeveer 2 500 kragpunte, 9 000 kabelbinders en 50 meter isolasieband. Dit neem sowat 45 dae om die volledige Toyota Innibos-feesterrein op te rig.

As deel van die fees se belegging in die toekoms ontvang 15 elektriese leerders jaarliks praktiese opleiding tydens die voorbereidingsfase, waar hulle saam met gekwalifiseerde elektrisiëns waardevolle ervaring opdoen.

Die ware hartklop van Toyota Innibos bly egter die kunstenaars. Vanjaar het ongeveer 300 kunstenaars op die feesverhoë en in teaterproduksies opgetree. Feesgangers kon kies uit 22 teaterproduksies, vier kuierverhoë en drie wêreldklas hoofverhoogkonserte wat skare op hul voete gehad het en telkens laat wens het vir nóg.

Toyota Innibos 2026 is veel meer as net ‘n musiekfees. Dit was drie dae van musiek, teater, kuns, boeke, stalletjies, stories, lag, kuier, kultuur en herinneringe wat nog lank op mense se lippe sal bly.

Met 78 000 feesgangers, meer as 1 000 tydelike werksgeleenthede, 300 kunstenaars, 22 teaterproduksies, 12 759 pannekoeke, 16 kilometer kabel, 8 000 swartsakke en ontelbare onvergeetlike oomblikke het EEN fees, Toyota Innibos 2026, weereens bewys dat die bos nie net blom nie, hy bruis!

Scroll to Top