Innibos

Francois van Coke en Annie Klopper - Hoe ek dit onthou uitgegee deur NB Uitgewers

Gesprekleier: Sanett Oosthuizen

Francois van Coke, die voorsanger van die omstrede rockgroep Fokofpolisiekar, vertel in hierdie biografie in sy eie stem aan Annie Klopper die gebeure wat hom oor die jare as mens en musikant gevorm het. Sy stories is by tye skreeusnaaks, ander kere verstommend, skokkend of indrukwekkend. Dit vermaak en ontroer.

Francois se perspektief op alles word gebied: van die Eisteddfodbeoordelaars wat hom op die ouderdom van ses ’n “streep” vir sy sang gegee het – nie eens eervolle vermelding nie – tot sy opgang in Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel, sy deurbraak as solokunstenaar met die liedjie Toe vind ek jou en sy rol as afrigter op The Voice. Minder bekende en onbekende verhale word ook vertel oor wilde partytjies en vuisgevegte, bedwelmde aande, desperate dae, nagte in tronkselle, detoks en soberheid. Daar is ook sy groot liefde, Lauren, en die geboorte van sy kinders wat sy lewe verander het. Dít is sy stories, hoe hý dit onthou.

Annie Klopper is ʼn skrywer, taalpraktisyn en oud-musiekjoernalis. In 2011 het sy Biografie van ʼn Bende oor die rockgroep Fokofpolisiekar vrygestel. Daarna het sy ʼn doktorale studie oor Afrikaanse rap-musiek voltooi. Haar gedigte verskyn in verskeie publikasies. Haar roman, Die tragiese saak van Pamina Vermaak, is in ’n fliek omskep.

Produksie Inligting

Plek: Die ATKV-Boeke-oase

Prys: Ingesluit in jou feesterrein toegangsfooie.

Die ATKV-Boeke-oase is dié plek om te ontspan en kos vir die siel te kry! Hier kan jy heeldag rustig saam gesels, kuier, koop en luister.

Bekende en geliefde skrywers verklap elke dag hul skryf- en ander geheime tydens die ATKV-Boekgesprekke. Kom maak kennis, luister na wat hulle inspireer en laat jou boek teken!

Exclusive Books-Boektafel

Na die gesprekke met die onderskeie skrywers, sal hulle boeke te koop aangebied word. Die Exclusive Books-stalletjie is reg langs die ATKV-Boeke-oase, waar daar ‘n groot verskeidenheid boeke te koop aangebied word.

Scroll to Top