Innibos 2025: Lekkerder as LEKKER!
As jy al gewonder het hoe dit voel om in ’n kultuurbom te staan wat op die punt is om te ontplof van LEKKERNESS, dan is Innibos 2025 nét die fees vir jou! Hierdie jaar bring ons ’n fees so dik met vermaak, gees en geurige kos, jy gaan dink jy’t ’n eersteklaskaartjie na ’n wêreldvertoning gewen.
Nou, luister mooi: Gooi daai kleingeld in ’n spaarblik en begin planne maak, want voor jy kan sê Innibos, het jy genoeg ching-ching vir die fees van die jaar! Kaartjieverkope vir die Innibos feesterrein, kuiertafels en bespreekte sitplekke open 28 Februarie vir die publiek en reeds op 26 Februarie vir Tjirp lede! Begin vroeg bespreek – daai kuiertafels loop soos stroop!
Kyk, as jy dink Innibos is net ’n musiekfees, is jy dalk eenkeer in jou lewe verkeerd. Innibos IS die volronde feeservaring – die Full House van kuierplekke, die rrrrrr in LEKKERRRR, met ’n paar troefkaarte in die mou. By die Hoërskool Bergvlam-feesterrein kry jy nie net wêreldklas kunstenaars soos Francois van Coke, Kurt, Droomsindroom, Appel, die Piesangskille, Snotkop, Van Pletzen en nog vele meer op die hoofverhoog nie, jy kry sommer ’n Boma Kuierteater om by uit te hang vir stukkies teater, ’n Woelwaters kindervermaak-area en vir die wynliefhebbers – ja, ons sien vir julle – ’n Wingerd Kuiertuin waar jy jou glasie kan klink en die laaste bietjie stres uit jou skouers kan skud.
Ons spog ook met van die beste stalletjies in die land, sodat jy daardie ekstra unieke item kan koop wat jy beslis nodig het (al weet jy nog nie waarvan ek praat nie). Plus, drie kuierverhoë met musiek, vermaak, verrassings en ’n atmosfeer wat só dik is van gees, jy gaan dit huis toe moet vat in botteltjies. Al hierdie vermaak is by jou feesterreintoegangsfooi ingesluit!
Maak reg vir die grootste, LEKKERste en mees onvergeetlike Innibos nóg!
Ons sien jou daar!

