Innibos

Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees kondig nuwe hoofborg aan

Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees kondig nuwe hoofborg aan

Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is trots om Toyota Suid-Afrika as nuwe hoofborg aan te kondig. Hierdie vennootskap is meer as net ‘n samewerking – dit is ‘n samesmelting van gedeelde waardes, ‘n passie vir kultuur en ‘n liefde vir lekker dinge. Toyota staan vir betroubaarheid, deursettingsvermoë en ‘n toekomsgerigte benadering – waardes wat hand-aan-hand loop met Innibos se strewe om kuns en kultuur te bevorder.

“Toyota Suid-Afrika se betrokkenheid by Innibos is ‘n bewys van hul verbintenis tot die mense van hierdie land en hul kultuur,” sê Andy Lubbe, direkteur en feesbestuurder van Innibos. “Hulle verstaan dat ‘n familiefees soos hierdie nie net oor vermaak gaan nie, maar oor ‘n gevoel van gemeenskap, ‘n tuiste vir die kunste en ‘n plek waar herinneringe gebou word.”

Innibos was nog nooit vir sy mense net nóg ‘n fees nie – dis ‘n viering van wat dit beteken om die lekker van die lewe te beleef. Dis musiek, kuns, boeke, teater, stalletjies, en vermaak vir oud en jonk. 

Innibos se tema dié jaar is “LEKKER” want, dis is ‘n fees vir lekker mense, en lekker mense hou van lekker dinge…soos ‘n goeie voertuig. Dit maak Toyota en Innibos natuurlike pasmaats.

Toyota se betrokkenheid by ‘n fees soos Innibos kom nie as ‘n verrassing nie. Hul handelsmerk resoneer met mense wat hou van avontuur, kwaliteit en standvastigheid. Mnr Leon Theron, Senior Vise-president  Bemarking by Toyota  Suid Aftika sê,  “Met ’n trotse erfenis van meer as 60 jaar in Suid-Afrika, het Toyota ’n integrale deel van vele gesinne se reis geword. As ’n familiegerigte handelsmerk is ons opgewonde om die hoofborg van die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees te wees. Deur Innibos te ondersteun, wil ons ’n

 betekenisvolle bydrae lewer tot die kulturele lewenskrag en ekonomiese vooruitgang van die Laeveld. Net soos Innibos, verstaan en waardeer ons die krag van gemeenskap en die blywende impak daarvan. Ons sien uit daarna om hierdie jaar lekker saam met feesgangers te kuier en fees te vier!”

Innibos is ‘n belangrike ekonomiese dryfkrag vir die Laeveld en omliggende gebiede. Die fees bring nie net kunstenaars en feesgangers bymekaar nie, maar ook entrepreneurs, plaaslike besighede en toerisme met ’n jaarlikse ekonomiese impak van bykans 80 miljoen Rand op die plaaslike ekonomie. 

Innibos glo in die bou van sterk verhoudings met sy belanghebbendes en vennote. “Elke borg is vir ons baie belangrik. Ons verstaan dat ‘n fees van hierdie omvang net moontlik is met die ondersteuning van maatskappye wat glo in wat ons doen,” sê Lubbe. “Toyota is een van daardie maatskappye, en ons sien uit daarna om saam ‘n fees aan te bied wat ons kulturele rykdom vier.”

Met hierdie vennootskap word een ding duidelik:

Dis nie net ‘n bakkie nie, dis ‘n Hilux. Dis nie net ‘n fees nie, dis Innibos!

Scroll to Top