fbpx

Innibos

Innibos Feesdigter Johan Myburg

Innibos Feesdigter Johan Myburg

Johan Myburg is op 17 Julie 1957 in Pietersburg (vandag Polokwane) in Limpopo gebore. Johan bring sy studentejare deur op Potchefstroom, waar hy in die teologie studeer het. In 2000 het hy ‘n doktorsgraad aan Unisa behaal.

Sy eerste digbundel, Vlugskrif, is in 1984 deur Perskor gepubliseer.

Dit het Johan ’n tien jaar geneem voordat sy tweede digbundel, Kontrafak, in 1994 by Human & Rousseau uitgegee is. Met hierdie bundel het hy die resensente aan die praat gesit en ook die Eugène Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1995 verower.

“Ek sien letterkunde as deel van die kunste. Die visuele kunste, musiek, verse, drama, ballet, dans, noem maar op, dit is alles een groot manier van uiting. In 2008, ná veertien jaar van digterlike stilte, word Johan se derde bundel, Kamermusiek, by LAPA Uitgewers gepubliseer.

As daar na die titels van sy bundels en gedigte gekyk word, is dit duidelik dat musiek ’n groot rol in Johan Myburg se lewe en digkuns speel. “Daar is in woorde ’n ongelooflike musikaliteit. En musiek is vir my belangrik,” vertel Johan.

In 2017 verskyn Johan Myburg se vierde digbundel Uittogboek wat met groot genot op grond van klank- en woordspel en die betowering van beelde geniet word. Volgens Joan Hambidge is Uittogboek ’n komplekse bundel wat handel oor die geskiedenis, ver en naby, en die programgedig is ’n herdigting van die bekende sterfgedig van die Romeinse keiser Hadrianus.

Nie net is Uittogboek in 2018 die wenner van die ATKV-Woordveertjie vir poësie nie, maar in 2020 vrower Johan ook die Hertzogprys vir poësie.

Sy jongste bundel, Narreskip, verskyn in 2022 by Protea Boekhuis.

Johan sê: “Woorde moet ’n mens steeds versigtig kies, maar ek dink luister raak ’n groter noodsaaklikheid. My geslag veral, neem aan ons weet. Ek dink ons moet minder dawer en meer luister.

Johan het spesiaal vir Innibos ʼn gedig rondom die tema Feesmaal geskryf. Hierdie gedig gaan in musiek, dans en visuele kuns uitgebeeld word tydens die vereringsgeleentheid wat op 26 Junie 2024 om 18:00 by die ATKV Kuns- en Boeke-oase plaasvind. Jaco van Schalkwyk is die kunstenaar wat die gedig visueel gaan uitbeeld, terwyl Franco Prinsloo die komponis gaan wees wat die gedig gaan toonset. Die gedig gaan deur Émil Haarhof in dans uitbeeld word terwyl Anna Davel dit voorlees en ULTRACoustic Duo (Wilken Calitz en Dirkie van Staden) die musiek maak. Hierdie pragtige gedig gaan saam met die kunswerk by die ATKV-Kuns- en Boeke-oase uitgebeeld word.

Hier is die gedig wat hy spesiaal vir Innibos geskryf het:

Feesmaal

1

Vooraf

Maande lank word die palet betrag, op die tong

gerol, besnuif, oorweeg, vir balans bevoel, vir soet

en suur, vir bitter ook, souterigheid én umami.

Ná maande kom “pikant” wat draal, en “murgsag”,

“beleë” en “fors” tot stand – ná kuur en preserveer,

ná ryp laat word en milddadig marineer.

2

Heildronk I

Dat helder water dalk eufories skop

betwis ons nie, die soort wat vloei in soet

riviere. Nietemin lig ons ʼn glas,

besing die meesters van die edel dop –

dis dié wat immer waag, wat innoveer

en fyn versny, ons bowenal bly voed,

3

Wenresep

Kry die beste produkte – seisoenaal bly koning –

ken jou gerei, die nukke van jou stoof en meer nog

die giere van jou eters. Berei met flair, dog onopgesmuk,

nonsensvry, geregte wat jy toeoog weet gaan deug

terwyl jy oopoog vir die toorkrag van die oomblik bly.

4

Feesmaal

Die harde grond is skoongevee met besembos

wat spoortjies laat en dwarsweg dalk

ʼn sleepsel los in losser sand, paradyslik.

Onder jakkalsbessies val spatsels son

vir dramatiese effek, ʼn klein plek

in die bos met ʼn ruim hart waar ʼn menigte

in kan pas rondom tafels, uitgedra,

ʼn lang verhoog met tafeldoekdamask

daaroor vir rekwisiete, ʼn vloer vir bosgeeste

en vir waterspriete, vlug soos vrugtevlermuise.

En gaan die ligte later aan, vuurvliegies

en die maan, die Melkweg ʼn boog bo-oor

bome, verskyn een na die ander sterre

skitterend aan tafel, begin die fantasie.

5

Heildronk II

Op alle bereiders van dié banket –

vlugtige skadu, kortstondige droom –  

van magiërs wat flink fiksie versin

tot minstrele wat ons sinne voer,

en skrywers, metafories met ink

aan die vingers, bedinkers van

mise-en-scène, choreograwe,

regisseurs en les bes donateurs.

ʼn Glas op kunste in die bos!

Verwerk vanaf www.litnet.co.za.

Scroll to Top