Afrikaans Vier 100 Jaar – ’n Eeufees van Taal, Kultuur en Hartklop by Toyota Innibos
Hier in die hart van die Laeveld, waar bos en berge mekaar in ’n groen omhelsing vashou, is die lug hierdie jaar gelaai met iets besonders. Dis nie net die geur van roosterkoeke wat Innibos hierdie jaar vul nie – dis ook die klank van trots. Afrikaans is 100 jaar oud, en Toyota Innibos, as een van die land se mees geliefde kunstefeeste, vier dit met oop arms en ’n warm hart.
Afrikaans is nie net ’n taal nie – dis ’n lewe, ’n asem, ’n storieverteller wat deur generasies gefluister het. Dit is die taal van gesellige familietye, diep gesprekke onder die sterre, digkuns wat jou diepdenkend laat, en musiek wat die siel roer. En hierdie jaar vier ons nie net ’n eeu van bestaan nie – ons vier ’n eeu van groei, van kreatiwiteit, van kultuur wat onwrikbaar vashou aan sy wortels, maar steeds vlerke kry.
Volgens Andy Lubbe, feesbestuurder van Toyota Innibos is die ’n taalviering soos nog nooit tevore nie. Van musiek en toneel, tot boeke en poësie, is Afrikaans nie net die medium van kommunikasie by Innibos nie, dit ís die fees self. Skrywers, digters, sangers, akteurs, en kunstenaars kom saam om hul liefde vir Afrikaans te deel – nie net in formele aanbiedings nie, maar in elke woord, lag en noot wat oor die teaters en feesterrein gaan weerklink. Afrikaans is ’n vriendelike en inklusiewe taal wat mense en kulture bymekaar bring deur gedeelde stories en begrip.
Afrikaans is die jongste Germaanse taal in die wêreld, en tog is dit een van die rykste wanneer dit kom by uitdrukkings en kreatiewe idiome. Dis ook een van die min tale wat aktief in alle genres van kuns en kultuur beoefen en bevorder word – van kontemporêre musiek en film tot klassieke letterkunde en kinderverhale. En waar het mens ’n taal so kleurvol en ryk gekry wat gevoelens kan vasvang wat in geen ander taal uitgedruk kan word in een woord nie…LEKKER! Ook Toyota Innibos se tema die jaar.
As deel van die Saterdagaandkonsert, waar van Suid-Afrika se grootste kunstenaars die verhoog betree, sal daar ’n spesiale insetsel wees – ’n eerbetoon aan Afrikaans, sy ontstaan, sy mense en sy toekoms. Dis ’n oomblik waar ons almal stil sal staan, nie net om te onthou nie, maar om te erken: hierdie taal leef, en dis ons wat dit lewendig hou.
Soos Andy dit raak beskryf: Afrikaans is nie net woorde op papier nie, en ook nie net nog ’n taal nie. Dis ons hartklop.”
Laat hierdie jaar se Innibos vir altyd onthou word as die een waar ons ons taal nie net gevier het nie – maar dit laat dans het. Kom, wees deel daarvan. Want Afrikaans lééf, dis in ons bloed!